Estimated reading time: 3 minutes
Namate die wêreldwye landboulandskap ontwikkel te midde van klimaatsverandering, bevolkingsgroei, en voedselsekerheidsuitdagings, sal NAMPO Kaap 2025 weer as ’n toonaangewende platform dien waar produsente en vooruitgang ontmoet.
Van 10 tot 13 September 2025 verwelkom Bredasdorp Park besoekers by die Wes-Kaap se kenmerkende landbou-ekspo, met die fokus op vanjaar se tema, “Slim tegnologie vir doeltreffende hulpbronbestuur.”
Aangebied deur Bredasdorp Park NPC in samewerking met Graan SA, nooi NAMPO Kaap 2025 produsente, landbou-vennote, en die publiek uit om te ontdek hoe innovasie en volhoubaarheid saamwerk om die toekoms van boerdery in Suid-Afrika te ontsluit.
Lees meer oor NAMPO Kaap 2025.
Slim tegnologie vir doeltreffende hulpbronbestuur
Die tema van vanjaar se ekspo beklemtoon een van die mees dringende prioriteite in landbou vandag: Om meer met minder te doen. Met toenemende druk op grond, water, energie en grondgesondheid, wend produsente hulle tot slim tegnologie om insette te optimaliseer, vermorsing te verminder, en produktiwiteit regdeur die waardeketting te verbeter.
“Tegnologie het noodsaaklik geword om die toekoms van volhoubare boerdery te navigeer. Of dit nou KI, sensors, hommeltuie, of dataplatvorms is – hierdie innovasies help produsente om beter besluite te neem, hulpbronne te bespaar, en mededingend te bly. By NAMPO Kaap bring ons daardie oplossings tot lewe in ’n werklike omgewing,” sê Dr Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO. “Slim hulpbronbestuur is nie meer ’n luukse nie – dit is ’n noodsaaklikheid vir elke produsent wat lewensvatbaar en toekomsgerig wil bly.”
NAMPO Kaap 2025-hoogtepunte
- Voorpunt-uitstallings: Ontdek en verken die nuutste masjinerie en sagteware wat landbouproduktiwiteit en volhoubaarheid bevorder.
- Interaktiewe demonstrasies: Aanskou slim tegnologie in aksie, en hoe dit toegepas word om hulpbronne te optimaliseer.
- Netwerkgeleenthede: Skakel met professionele bedryfsrolspelers, navorsers, en belanghebbendes om volhoubare landboupraktyke verder te ontwikkel.
Slim tegnologie in aksie
NAMPO Kaap 2025 sal ’n indrukwekkende verskeidenheid tegnologie-gedrewe uitstallings en interaktiewe demonstrasies aanbied wat fokus op:
- IoT-gedrewe landbouhulpmiddels soos hommeltuie, sensors, en outomatiese weerstasies.
- Kunsmatige Intelligensie (KI) en Masjienleer (ML) vir voorspellende besluitneming.
- Presisieboerdery met satelliet- en GPS-geleide stelsels.
- Selfbesturende trekkers en slim landboumasjinerie.
- Blokkettingoplossings vir naspeurbaarheid en regverdige handel.
- Vertikale en binnenshuise boerderystelsels.
- Telemetrie en vlootoptimaliseringsagteware.
- Slim besproeiing en -monitering van grondgesondheid.
- Hernubare energie-oplossings vir landbou.
- Biotegnologie en draagbare toestelle wat met data-platforms integreer vir veebestuur.
Meer as net masjinerie – ’n viering van landbou
Buiten tegnologie en toerusting, bied NAMPO Kaap 2025 ook ’n lewendige program vir die hele gesin:
- Suid-Afrikaanse Boerboelvereniging (SABBS): Ontmoet hul indrukwekkende Boerboel-honde van nader.
- ITPF-uitnodigingskampioenskap: SA Tentpegging – met swaarde, lanse, en vaardige ruiters!
- Voermol-blommesaal: Pragtige rangskikkings deur Marjolijn Malan.
- Jeugbetrokkenheid: Sluit die Overberg-streekjeugskou op 13 Sept in.
- Skoleprogram: Praktiese blootstelling vir meer as 19 skole.
- Santam-vroueprogram: Propvol plaaslike flair en bekende gaste soos Bok van Blerk, Jo Black, en Andriëtte Norman.
Sien jou daar!
NAMPO Kaap duur van Woensdag, 10 tot Vrydag, 12 September van 8:00 tot 17:00, en Saterdag, 13 September van 8:00 tot 14:00.
Toegangskaartjies is vanaf 1 Julie 2025 aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R100 vir volwassenes. Kaartjies sal by die hekke te koop wees teen R110 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kry gratis toegang. – Persverklaring herbewerk deur Plaas Media.
Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2025, besoek www.nampokaap.co.za, of kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za.