Estimated reading time: 6 minutes

Hoe beter die veld se toestand, hoe hoër en meer stabiel die voerproduksie, hoe beter die gehalte van die voer asook die veld se droogteverdraagsaamheid, en uiteindelik jou winsgewendheid. Goeie veld is jou beste versekeringspolis teen ’n wisselvallige klimaat.

Die ontwikkeling van veldbestuurstelsels in Suid-Afrika.

Die begin en die einde van goeie veld is ’n weidingstelsel wat voordelig is vir beide veld en vee. Spesifieke stappe kan geneem word om so ’n weidingstelsel te ontwikkel.

1. Drakrag en veelading

Die eerste stap in die ontwikkeling van ’n weidingstelsel is om die plaas se langtermyn drakrag te bepaal en op ’n veelading te besluit wat in harmonie daarmee is. As ’n 1 000ha plaas ’n drakrag van 2ha per grootvee-eenheid (GVE) het, dan is die ideale veelading 500 GVE (1 000ha ÷ 2ha/GVE = 500 GVE).

Veeladings wat hoër as die plaas se drakrag is sal lei tot diere wat kronies ondervoed is, met gepaardgaande swak diereprestasie. Hou ook in gedagte dat drakrag van jaar tot jaar sal wissel namate die reënval wissel.

Vier weidingkundige konsepte is van belang by hierdie berekening. Die eerste twee is weidingskapasiteit en drakrag. Weidingskapasiteit verwys na die vermoë van ’n relatiewe homogene eenheid van plantegroei op die plaas om ’n bepaalde getal diere vir 365 dae van voer te voorsien.

https://www.agriorbit.com/rivieroewerbestuur-n-belangrike-element-van-veldbestuur/

Indien 1ha veld 3 650kg voer per jaar produseer en ’n bees 10kg voer per dag benodig, sal sy totale voerbehoefte 3 650kg voer per jaar wees. Dan is die veld se weidingskapasiteit 1ha/dier, want daar word genoeg voer op 1ha geproduseer om die dier vir een jaar te voer. As veld in ’n ander gebied net die helfte van die dier se behoefte per hektaar produseer, dan is daardie veld se weidingskapasiteit 2ha per dier, ensovoorts. So het elke voerbron en kamp op die plaas sy eie weidingskapasiteit.

Drakrag verwys na die gekombineerde vermoë van al die voerbronne op ’n spesifieke plaas om diere vir ’n jaar lank te voer. ’n Plaas kan byvoorbeeld uit veld (insluitend vlei-, rant- en bergveld) en aangeplante weidings bestaan. Die hoeveelheid vee wat die plaas kan dra is dus afhanklik van elke voerbron se weidingskapasiteit.

Die tweede groep weidingkundige terme veroorsaak dikwels verwarring. Dit is veelading en veedigtheid, wat gereeld as sinonieme gebruik word. Veelading verwys egter na die getal diere wat die produsent aanhou. Byvoorbeeld, as die produsent 100 diere op 1 000ha aanhou, dan pas hy ’n veelading van een dier per 10ha toe.

Veedigtheid verwys weer na die getal diere wat die produsent op ’n gegewe stadium saam in ’n trop laat loop op ’n spesifieke deel van die plaas. Byvoorbeeld, as die produsent sy 100 stuks vee in ’n kamp van 100ha laat loop, pas hy ’n veedigtheid van tien diere/ha in daardie kamp toe, maar die veelading op die plaas is egter steeds een dier/10ha.

Om die agteruitgang van weidingshulpbronne te verhoed, moet die veelading nie die langtermyn drakrag oorskry nie. Die veedigtheid wat op ’n gegewe stadium op ’n gegewe kamp toegepas word, kan maar die drakrag van die plaas oorskry, solank die veelading dit net nie oorskry nie.

2. Kombinasie van veesoorte

Die ideale vee-tipe kombinasie om mee te boer, word deur die spesifieke samestelling en geskiktheid van die voerhulpbronne vir verskillende veesoorte asook die ekonomie bepaal. As ’n plaas se voerhulpbronne byvoorbeeld nie geskik is vir skape nie, sal dit onwys wees om skape aan te hou.

As die plaas vir 50% skaap en 50% vleisbeeste geskik is, sal die ideale verhouding 1:1 skape en vleisbeeste wees. Daar kan effens hiervan afgewyk word as die ekonomie dit dikteer, byvoorbeeld 60% skaap en 40% vleisbeeste.

3. Produksiestelsels

Bepaal wat die beste produksiestelsel vir elke veesoort op die plaas is. As die plaas byvoorbeeld bestaan uit minder as 50% veld wat geskik is vir kalwing, sal dit onwys wees om slegs met koeie daarop te boer. Dan sal daar noodwendig iets soos ’n tollie- en/of oskomponent ingeskakel moet word.

4. Beweidingstelsels

Besluit op die beste stelsel om die voerbronne te bewei, wat goed is vir beide die diere se prestasie (en winsgewendheid) en vir die langtermynwelstand van die voerhulpbron. Dit is hier waar veedigtheid ter sprake kom en nie by die eerste stap waar daar oor veegetalle besluit moet word nie.

Geen weidingstelsel sal ooit slaag as dit net goed is vir die hulpbron, maar die diereprestasie is só swak, dat dit min of geen wins gegenereer nie. ’n Goeie beweidingstelsel se doel is om die beste moontlike voer te voorsien wanneer die veekudde dit die nodigste het.

By koeie is daar vier stadiums wanneer goeie weiding noodsaaklik is:

  • Laatdragtigheid. Goeie kondisie tydens kalwing verseker goeie herbesetting en uierontwikkeling.
  • Vroeë laktasie. Koeie wat in hierdie tyd swaarkry, verloor vinnig kondisie, wat tot swak en vertraagde herbesetting lei.
  • Wanneer die kalf sterk begin vreet. Vanaf ouderdom drie maande neem die koei se melkproduksie af en moet die kalf sterk begin vreet. Sy grootste kompetisie vir weiding is vanaf die koeie in die trop.
  • Speentyd. Speenkalwers is op hulself aangewese en benodig goeie weiding, veral vervangingsverse wat moet uitgroei.

Eweneens is daar vyf stadiums in ’n ooi se produksiejaar wanneer goeie voeding noodsaaklik is:

  • Net voor en tydens paring.
  • Laatdragtigheid. In dié tydperk groei die fetus en vind follikelontwikkeling plaas. Goeie voeding is ook nodig vir bevredigende uier- en melkontwikkeling.
  • Laktasie. Swak voeding veroorsaak dat die ooi nie melk vir haar lam het nie en dat ’n swak lam met min groeivermoë gebore word. Weens die lae follikelontwikkeling by wollamers, sal die lam nie voldoende wol produseer nie. Die lam bereik dus nie sy genetiese potensiaal nie.
  • Afname in ooie se melkproduksie. Ooie se melkproduksie daal ongeveer ses weke ná lam. Die lam benodig dan goeie voer vir massatoename.
  • Speentyd. Speenlammers is op hulself aangewese. Indien hulle saam met volwasse diere wei, kompeteer hulle met volwasse diere vir kos. Speenlammers moet juis nou genoegsame, hoë-gehalte ruvoer inneem.

Die beweidingstelsel moet verseker dat die ooi- en/of koeikudde tydens elke stadium genoeg vars voer ontvang. Die veedigtheid moet ook by hierdie produksiestadia inpas. Daar moet byvoorbeeld nie van hoë veedigthede gebruik gemaak word wanneer kleinvee lam, of tydens laatdragtigheid van veral ooie met meerlingfetusse nie, aangesien dit diereprestasie sal belemmer.

Verskillende beweidingstelsels is oor die jare vir spesifieke streke en omstandighede ontwikkel, naamlik:

  • Aanhoudende beweiding, wat goeie individuele diereprestasie bied, maar swak produksie per hektaar lewer en nie volhoubaar oor die lang termyn is nie.
  • Eenvoudige, stadige wisselbeweiding, met hoogstens vier kampe per trop.
  • Eenvoudige meerkampwisselbeweiding met vyf tot agt kampe per trop.
  • Vinnige multikampwisselbeweiding.

5. Rustydperke vir veld

Besluit op ’n russtelsel om die veld se langtermyn volhoubaarheid te maksimeer. Wanneer veld bewei word, moet dit die diere se produksie bevoordeel. Wanneer die diere onttrek word, moet die moontlike ‘skade’ wat tydens beweiding veroorsaak is, ten volle herstel word vóór die volgende beweiding.

Een van die beste praktyke is om veld van tyd tot tyd kans te gee om vir minstens een groeiseisoen te rus, om die groeikrag daarvan ten volle te herstel. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant, Veeplaas


Vir meer inligting, kontak dr Louis du Pisani
by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.