ʼn Nuwe struktuur vir Graan SA

Estimated reading time: 3 minutes

Graan SA is genoodsaak om sy struktuur aan te pas weens veranderinge in die belastingwetgewing. Dit volgens Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, tydens streek 26 (Swartland) se algemene jaarvergadering in Moorreesburg.

“Artikel 30B van die Wet op Inkomstebelasting, 1962 (Wet 58 van 1962) bepaal dat as jy ‘n nie-winsgewende organisasie (NWO) is, soos Graan SA tans is, moet 85% van jou inkomste direk van lede afkomstig wees. Dié artikel bepaal ook dat as jy ʼn NWO is, en jy geniet belastingvrystelling, dit jou plig is om te voldoen aan die vereistes van die wet.”

Graan SA voldoen nie aan die 85%-vereiste nie. Die organisasie se fondsinsamelingsaksies is Nampo Bothaville, Nampo Kaap, Nampo Alfa en verskeie ander funksies. Dit word as kommersiële aktiwiteite geag. Graan SA moes dus sy struktuur aanpas, het Mathews gesê.

Die nuwe struktuur bestaan uit die volgende vier entiteite:

  • Graan SA NWO.
  • Nampo (Edms) Bpk.
  • Phahama Grain Phakama NPC.
  • Kommersiële Produsente Trust.

Mathews het gesê die grootste verandering is dat Graan SA se winsgewende (kommersiële) aktiwiteite apart in Nampo (Edms) Bpk bedryf sal word. In dié maatskappy sal Graan SA se belastingpligtigheid doeltreffend bestuur kan word.

Graan SA, die nie-winsgewende organisasie met lede, word net so behou en sy kernbesigheid, naamlik die uitbou van volhoubare, winsgewende graanproduksie in Suid-Afrika, bly ook dieselfde. Dié aksies sal befonds word deur projekte wat deur Nampo (Edms) Bpk bedryf word, het hy gesê.

Lees meer oor selfregulasie in die graanwaardeketting hier.

Die openbare weldaadsorganisasie, Phahama Grain Phakama NPC, is tot stand gebring ná donateurs wat in Graan SA se ontwikkelingsprogram bydraes gemaak het, versoek het om ook vir hulle belastingvoordele deur die uitreiking van Artikel 18A-sertifikate te bewerkstellig. “Dié entiteit se swart ekonomiese bemagtiging-status is baie goed en daarom kan ons vir dieselfde donateurs verskeie voordele bewerkstellig,” het Mathews gesê. Dit is belangrik om te besef dat 100% van die aktiwiteite in die entiteit op voorheenbenadeelde persone gemik is.

Die Kommersiële Produsentetrust se fondse word vir navorsing aangewend. Dié trust se fondse het voorheen in twee verskillende entiteite binne Graan SA gelê, naamlik die Mielieprodusente-navorsingstrust en die Wintergraanprodusente-navorsingstrust. Die fondse wat in die twee trusts was, sal steeds apart bestuur word.

Volgens Mathews is dit belangrik dat goeie beheer en bestuur in die nuwe struktuur toegepas word. Met die kompleksiteit wat die verskillende entiteite bring het die bestuur van Graan SA seker gemaak dat die aanspreeklikheid en die verantwoordelikheid in die regte plekke is.

“Dit beteken nie produsente het beheer oor hul organisasie verloor nie. Die kongres bly steeds die plek waar die produsent se stem duidelik en deeglik gehoor word en waar die mandate van die organisasie neergelê word.”

Die verantwoording sal egter by die hoofbestuur lê. Produsente hoef nie hieroor bekommerd te wees nie. Bestuur sal met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid verseker dat Graan SA wetlik is en aan goeie bestuurspraktyke voldoen, het Mathews gesê. – Hugo Lochner, AgriOrbit

Popular stories