Estimated reading time: 7 minutes
- Die Terblanche-manne kan getuig van die vrugte wat goeie besluitneming en bestuur afwerp.
- Erhard (sr) het 30 jaar met ramme op die plaas geteel en vandag is sy twee seuns aan die stuur van sake.
- Die ekonomiese aspekte van hul boerdery is een van hul belangrikste suksesmaatstawwe.
- Erhard (sr) het ’n voeraanleg op die plaas opgerig.
- Brandbeheer is ook ’n belangrike faset van die boerdery.
’n Kombinasie van tegnologie en die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne op ’n plaas wat as ‘ekstensief uitdagend’ gereken kan word, is ’n skuif in die boerderyskaakspel wat verskeie produsente al baie hoofbrekens gespaar het.
Die Terblanche-manne, Erhard (sr), Echbert en Erhard (jr), van Hassiesfontein op die randjie van die Stormberge naby Molteno in die Oos-Kaap, kan getuig van die vrugte wat goeie besluitneming en bestuur afwerp. Die omgewing waarin hulle boer word gekenmerk aan droë somers en uiters koue winters, en Veeplaas wou vasstel hoe hulle te werk gaan om winsgewend en volhoubaar met skape en beeste te boer.
Die 70/30-beginsel
Erhard (sr) het 30 jaar met ramme op die plaas geteel en vandag is sy twee seuns aan die stuur van sake – Echbert by die skaapvertakking en Erhard (jr) by die beesvertakking en aanplantings. Die boerdery het aanvanklik uit ’n groot hamelkomponent met ’n inkomstesamestelling van 70% wol en 30% vleis bestaan.
Hulle het die hamelkomponent met behulp van ’n studiegroep en landboukonsultant, dr Louis du Pisani, kleiner gemaak en toe Dohne Merino’s ingebring om die produksiepersentasie om te swaai na 70% vleis en 30% wol. “Ons het terselfdertyd begin om al die tweede-kudde-ooie wat ons gewoonlik sou verkoop, in die hamels se plek terug te hou. Ons paar hulle met die ramme en verkoop die lammers wat baie meer bemarkbaar is as ’n groot skaap.”
Die rede waarom hulle sowat twee jaar gelede ’n Dohne Merino-stoet, Hassiesfontein Dohne Merino’s, geregistreer het, was om meer waarde tot die skaapvertakking toe te voeg. “Die mense in die bedryf ken ons as die Hassiesfontein-groep en ons diere is daarvoor bekend dat hulle goed aangepas en gehard is,” sê Echbert.
“Ons stoetramme bly op die veld en kry geen spesiale voeding nie, want dit is vir ons belangrik dat hulle die seleksieprogram slaag op grond van die feit dat hulle in moeilike toestande kan presteer. Die stoet is vir ons ’n groot bate, hoewel dit nie werklik enigiets verander aan die wyse waarop ons die skape bestuur nie.”
Read more about Stormberg Dohne’s: Gemiddeld is nie goed genoeg nie.
Tegnologie maak dit makliker
Die ekonomiese aspekte van hul boerdery is een van hul belangrikste suksesmaatstawwe. “In ons omgewing is dit veral belangrik om ’n goed-aangepaste ram met lae insetkoste te teel. Tegnologie maak dit deesdae baie makliker om ekonomiese eienskappe meer akkuraat te meet en evalueer.” Dit verg noukeurige beplanning om veeverliese te beperk en die uiterste klimaatstoestande noop hulle om eksklusief van lamhokke vir meerlinglammers gebruik te maak.
Kondisietelling is uiters belangrik, en om die winters met reserwes in te gaan, moet die ooie voor die einde van Mei klaar lam. Die skape word jaarliks geskeer om risiko’s te beperk. Die verhouding van hul skaapkomponent (70%) teenoor die beeste (30%) op die plaas, stel hulle in staat om die veld optimaal te benut.
Echbert heg groot waarde aan ‘n klompie beginsels vir ’n gebalanseerde skaapkudde en -stoet:
- Die totale kilogram lammers/ooi/jaar gespeen.
- Meetbare moedereienskappe en ooie se aanpasbaarheid in die plaas se bestuurstelsel.
- Groeivermoë: Dit is belangrik om die g/dag wat ’n dier in gewig toeneem oor ’n tydperk van een jaar te meet en so te bepaal hoe aanpasbaar die dier op die veld en weiding is.
- Vrugbaarheid: ’n Ooi wat se lam dood is as gevolg van ’n jakkals of fratsongeluk, word onmiddellik weer by ’n ram gesit. Sy moet binne dieselfde jaar weer lam om op te maak vir die vorige verlies.
- Wol: Skoonvagmassa is ’n prioriteit en dit word gemeet en getoets. Gehalte en fynheid is ’n bepaler van inkomste.
“Hierdie beginsels word aan geldwaarde en ’n puntestelsel gekoppel vir ’n goeie kombinasie van ooie en die teel van ’n meer ekonomiese skaap,” sê Echbert. “Ons doelwit is om ons wins te vergroot met behulp van laer insette en hoër produksie.”
Aanpasbaarheid en diversifisering
“Dit is belangrik om altyd aanpasbaar te wees en waar moontlik, diversifiseer ons die boerdery om ekonomiese struikelblokke te oorkom,” sê Erhard (jr). Hy is in beheer van die droëlande en besproeiing op die plaas. Feitlik al die lande is in produksie om te verseker dat daar altyd veevoer is.
“Die lusern, hawer en ander kleingrane help dat ons die vee gesond grootmaak. Dit neem egter lank vir die gewasse om op te kom, te groei en hul wortels goed te vestig. Gewoonlik plant ons dit dus lank voor die wintermaande om deur te trek somer toe. Dit beteken dat ons die lande eers na die winter as weiding kan benut, stroop en die saad kan oes.”
In die verlede is die voer eers gemaal en voor lamtyd en gedurende die winter vir die vee uitgesit. Erhard (sr) het toe ’n voeraanleg op die plaas opgerig. Volgens sy seuns is dit een van hul beste boerderybesluite nog. Verbeterde tegnologie het hulle toegelaat om voerpille op klein skaal te maak. ‘n Ontleding van die voerpille ’n paar jaar gelede het getoon dat dit nie nodig is om slegs skoon lusern te gebruik nie.
Erhard (jr) meen die gee van skoon lusern was eintlik ’n vermorsing, omdat die diere nie so ’n groot behoefte aan die goeie gehalte voer en hoë proteïeninhoud het nie. “Ons verwerk en gebruik dus nou baie van ons kleingrane se hooi en verdun ook die lusern wat verpil word.” Baie min voer word dus vermors, en dit help die ooie om hul lammers groot te maak. Ongeveer 95% van die bestanddele in die voerpille kom van die plaas af.
Brandbeheer is ook ’n belangrike faset van die boerdery omdat dit baie moeilik is om drukbeweiding in die berge toe te pas. Dit help om renosterbos te bekamp, en beheer ongewenste bosluisspesies soos bontbosluis en verlammingsbosluis.
Stof tot nadenke
Die Terblanche’e se suksesbeginsels is redelik eenvoudig maar kragtig en behels kortom dat ‘n mens net behoort te konsentreer op die dinge wat jy kan beheer, en altyd op die boerdery se doelwitte gefokus moet bly. In onseker tye moet geen groot besluite geneem word of onbekende ondernemings aangepak word wat jou besigheid negatief kan beïnvloed nie.
Oor die tipiese sakboekie voel hulle sterk dat dit nie genoeg is nie. Beplan deeglik, stel behoorlike begrotings op en hou by jou beplanning. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Echbert Terblanche by 082 224 6189 of echbert.terblanche@gmail.com, of Erhard (jr) Terblanche by 082 322 2444 of erhardter@yahoo.com.


