Beproefde stelsel vir intensiewe skaapboerdery
Willie boer met sowat 3 000 skape op weiding en in lamhokke. Hy sê dit is ’n duur manier van boer, maar dit is steeds baie winsgewend omdat jou risiko’s soveel minder is.

Estimated reading time: 6 minutes

Willie Maree, eienaar van Kameelboom Vee in die Marydale-omgewing, is besig om intensiewe skaapboerdery in ’n unieke ekonomiese wetenskap te ontwikkel wat werk.

Willie is gewoond daaraan dat die mense in sy huis vir niks stuit nie. In die negentigerjare het sy pa, Johan Maree, en sy oom, Mattheus Maree van Wilkot Boerdery, na die buiteland gereis, op soek ’n tweedehandse katoenmeul wat hulle later eiehandig op hul plaas opgesit het. Vandag is dit een van ’n handvol privaat katoenmeulens in die land wat nog funksioneer.

Lees verwante artikels.

Ná sy studies in landbou-ekonomie, het Willie teruggekeer plaas toe en binne drie jaar ’n intensiewe skaapboerdery wat 3 000 ooie sterk staan, op weiding opgebou. Hy mik om dié kudde tot 4 000 te laat groei. Hy en sy werkers het ook wêreldklas-lamhokke, wat enige boer twee keer sal laat kyk, gebou.

Intensiewe lamstelsel

Hy vertel dat hy elke twee weke tussen 150 en 200 ooie onderdak in beskutte lamhokke laat lam. Hy gebruik laparoskopie en die ooie wat nie dragtig geraak het nie, word by opvolgramme gesit. Ses weke daarna word die ooie geskandeer. Ooie wat steeds nie dragtig is nie, gaan oor na ’n volgende trop wat later aan die beurt kom. Dragtige ooie loop dan vir sowat vyf maande op weiding.

Willie Maree het uitstekende krale opgesit waar die ooie en hul lammers eers versorg word voordat hulle weer na die weiding gaan.

’n Paar dae voordat hulle moet begin lam, kom die ooie weer na die lamhokke om ondersoek te word. Die skandering help ook om die een- en meerlinge vroegtydig te bevestig. In sy lamhokke is ’n voedingstelsel wat die voer afmeet, sodat elke ooi die nodige hoeveelheid voer kry om haar lammers groot te maak.

Hy speen al sy lammers op 56 dae, ongeag of hulle die regte gewig van tussen 16 en 25kg weeg. “Dit is gewoonlik minder as tien lammers wat nie die skaal op 16kg trek nie, maar ek speen hulle nogtans. Ek mors nie tyd om hulle groter te probeer kry nie,” sê hy. Die lammers gaan dan na ’n voerkraal en word vir die mark afgerond.

“Dit is harde werk, want elke twee weke het jy vier dae tyd om die 280 hokke skoon te maak en te ontsmet, voordat die nuwe trop ‘ingeboek’ word.”

Net produktiewe diere sal deug

Willie het op laparoskopie besluit omdat die koste van ramme te hoog sou wees. Hy sê hy sou andersins ongeveer 300 ramme nodig gehad het, wat hom te veel geld uit die sak sou jaag – nie net met die aankoop van die ramme nie, maar ook om hulle te voer en vervang.

“Nou kan die weiding eerder vir meer ooie aangewend word. Die koste van laparoskopie word op hierdie manier gedek en dit is vir my beter, omdat ek weet die saad wat ek gebruik is van uitstekende gehalte.”

Onproduktiewe ooie kry nie kans om lyf weg te steek nie. Willie gee sy ooie vier kanse om dragtig te raak. Dit beteken sy het sowat twintig weke tyd, waartydens sy twee keer laparoskopie ondergaan en by die ramme uitkom. As sy nie in dié tyd dragtig raak nie, word sy uitgeskot.

“Dit is duur om intensief te boer. Daarom moet my ooie drie keer in twee jaar lam, anders is dit nie kostedoeltreffend nie. Ons besettingspersentasie was in die eerste jaar maar 54% en nou staan dit op 96 tot 100%.”

Aangeplante weiding

Om heeltyd te voer, soos in sommige intensiewe stelsels, is vir Willie te duur. Gelukkig is die plaas langs die Oranjerivier geleë en aangeplante weiding is beskikbaar sodat sy diere deur die jaar goeie voeding kry.

In die winter plant hy hawer, maar vanjaar het hy koring en hawer gemeng, want die koring is in die winter beskikbaar en die hawer is vanaf Augustus gereed. Verlede jaar is 35ha koring as ’n toets geplant. Hy het 700 ooie en 40 beeste vir drie tot vier maande daarop laat loop en hulle kon nie die land opvreet nie. Hy het besluit om vanjaar ’n mengsel van hawer en koring te toets.

Teen die rivier het hy 9ha met ’n mengsel grasse en 9ha met kikoejoe beplant. Vir die wintermaande het hy nog 100ha oorlêlande waarop hy koring en hawer plant. Daarby is 15ha onder ’n spilpunt, waar hy in die somer sorghum en in die winter hawer plant.

Dormer-vleis en Merino-wol

Willie het aanvanklik met Dormers en Dormer/Ile de France-kruisings begin. Dié skape is baie vrugbaar, maar hul wolgehalte was nie vir hom goed genoeg nie. “Die wol moet die koste in die weidingsdeel van die boerdery dek. Ek skeer elke agt maande om dié inkomste te verdien.”

Willie en sy span werkers wat sorg dat dié intensiewe boerdery volhoubaar bestuur word. Van links is Moses Louw, Hein de Koker, Jerome de Wee, Willie Maree, Joseph Botha en Ernest Willemse.

Hy het onlangs weer met Dormersaad begin eksperimenteer op ’n derde van sy ooie, omdat die Dormer baie goed in die voerkraal groei en ’n uitstekende karkas lewer. Dormerlammers kan al op 35kg bemark word, terwyl suiwer Merino’s eers op 40kg bemark word. Hulle groei ook baie vinniger as Merino’s. Die bemarkingstydperk is dus baie korter.

Die Merino’s maak weer op met hul uitstekende wol.

Parasietlading op weidings

Hoewel die Karoo bekend is vir min siektes onder vee, behoort aangeplante weiding steeds met handskoene aangepak te word. Willie sê toe hy drie jaar gelede met die Merino’s op weiding begin het, het hy tussen 60 en 80 skape in die eerste jaar weens haarwurm verloor. Sy veearts, dr Frans Jooste van GeneCo Repro, het egter baie moeite gedoen om hom te help en in die laaste jaar het hy slegs vyf ooie verloor.

Dit was duur skoolgeld wat hy moes betaal, maar sedertdien is sy gesondheidsprogram vir die boerdery op ’n hoë standaard. “Waar ander produsente in ’n ekstensiewe boerdery slegs een keer ’n jaar moet doseer, moet ek dit omtrent vyf keer doen, want daar is soveel meer parasiete op aangeplante weiding as op die veld,” verduidelik hy.

As die ooie met parasiete besmet raak, is die besettingsyfer baie laag en die lammeroes maar skraps. “Wat ook van Merino’s interessant is, is dat hulle breekwol ontwikkel as hulle begin swaar kry weens parasiete. En jy kry omtrent niks vir dié wol nie. Dit is eintlik ’n fyn lyn wat jy moet loop, want jou uitgawes is soveel meer.”

Met sy ekonomiese kennis en landbou-agtergrond het Willie daarin geslaag om ’n uitstekende intensiewe skaapboerdery op weiding daar te stel, en hy het beslis nog baie planne vir die toekoms.

Vir meer inligting, kontak Willie Maree by 078 843 6616.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom