Tuesday, February 4, 2025

Moraxella: Die oorsaak van aansteeklike beeskeratokonjunktivitis

Estimated reading time: 4 minutes

  • Aansteeklike beeskeratokonjunktivitis (pienkoog) is ’n baie algemene oogtoestand wat alle beesrasse kan affekteer en word veroorsaak deur die staafvormige bakterie, Moraxella bovis.
  • Moraxella is die enigste bakterie in diere wat korneale (horingvlies)-ulkus kan veroorsaak sonder ander onderliggende oorsake soos trauma of abnormale ooglede.
  • Die bron van infeksie is gewoonlik ’n nuwe of draerdier.
  • Die enigste sigbare tekens van die vroeë stadiums van die toestand is tranerige en ligsensitiewe oë, met moontlike rooi en geswolle konjunktivas.
  • Dis belangrik om vlieë op die plaas te bekamp, omdat vlieë grootliks vir die oordra van Moraxella verantwoordelik is.

Aansteeklike beeskeratokonjunktivitis (pienkoog) is ’n baie algemene oogtoestand wat alle beesrasse kan affekteer. Dit is egter meer algemeen in ligter gekleurde rasse en word veroorsaak deur die staafvormige bakterie, Moraxella bovis.

Moraxella is die enigste bakterie in diere wat korneale (horingvlies)-ulkus kan veroorsaak sonder ander onderliggende oorsake soos trauma of abnormale ooglede. Die toestand het geweldige finansiële implikasies, soos laer speengewig in kalwers, ’n afname in melkproduksie, behandelingskoste, en ’n laer herverkoopwaarde van diere.

Dit is ’n kuddesiekte van beeste, en nie ’n individuele beessiekte nie. Dit versprei vinnig tussen diere en die simptome is tot die oog beperk.

Lees meer oor hoe anasplasmosis onder julle kudde te bekamp hier.

Oordrag deur diere

Die bron van infeksie is gewoonlik ’n nuwe of draerdier. Draerdiere kan asimptomaties wees. ’n Minder aggressiewe vorm van die bakterie kan in die wintermaande in ’n kudde oorleef sonder enige kliniese tekens. Wanneer die lente begin en ultraviolet (UV)-straling verhoog, kan die meer aggressiewe of hemolitiese vorm terugkeer en vatbare diere besmet.

M. bovis word deur dierehanteerders, direkte kontak met besmette diere, en veral meganiese draers soos vlieë en motte oorgedra. Tydens die aktiewe infeksieperiode het besmette diere erge tranerige oë, terwyl oogafskeidings die organisme bevat wat maklik na die klere van dierehanteerders en veeartse oorgedra kan word.

Daar bestaan ’n korrelasie tussen piekvoorkoms van aansteeklike beeskeratokonjunktivitis en piekvlakke van UV-straling. Hoër UV-straling verhoog beskadiging van die oppervlakkige korneale of horingvliesselle en wat tot makliker infeksie deur die organisme lei. Die aantal vlieë teenwoordig korreleer verder met die infeksiekoers.

Lees meer oor snotsiekte hier.

Kliniese tekens

Die enigste sigbare tekens van die vroeë stadiums van die toestand is tranerige en ligsensitiewe oë, met moontlike rooi en geswolle konjunktivas (bindvlies van die oog). Binne 24 tot 48 uur ná die aanvang van kliniese tekens kan die sentrale kornea ’n klein oppervlakkige ulkus ontwikkel. Dit verander binne dae in ’n klein, bleek geel tot wit abses naby die middel van die kornea wat vinnig vergroot of ’n ovaal ulkus vorm.

Bloedvat-infiltrasie in die kornea begin en binne sewe tot nege dae ná die begin van die infeksie, omring die bloedvate die totale korneale letsel. In hierdie stadium is daar gewoonlik ook erge inflammasie van strukture soos die iris binne-in die oog. Die oogafskeiding verander van tranerig na slymerig en smetterig.

Nadat bloedvate die ulkus bereik het, begin die oog gewoonlik van die sentrale gedeelte na buite genees met ’n korneale litteken as ’n langtermyn gevolg. Die risiko bestaan dat die ulkus kan perforeer en meebring dat die oog verwyder moet word. Moontlike inflammasie binne-in die oog kan permanente skade veroorsaak wat tot ’n verkleinde blinde oog kan lei.

Behandeling

M. bovis kan met verskeie antibiotikums behandel word. Tradisionele oogdruppels moet minstens drie tot ses maal per dag toegedien word – wat dit onprakties maak.

Enkele nuwe middels wat aangewend kan word, sluit in:

  • Kloksasillien, ’n penisillien wat effektief is teen M bovis en as ’n oogsproei beskikbaar is.
  • Doksisiklien-oogsproei wat ’n baie breë spektrum dek en effektief is teen M bovis.
  • Langer-werkende penisillien-bevattende antibiotika kan ook deur ‘n veearts onder die konjunktiva in die ooglid ingespuit word. ’n Nuwe formule stel die antibiotika stadiger vry.

Lees meer oor lamsiekte en hoe om te behandel hier.

Aanvullende behandeling

Vitamien A-, koper- en seleniumtekorte kan tot ’n hoër infeksiekoers lei. Die toestand kan ook met poeier wat geregistreer is vir gebruik in pienkoog behandel word. Dit is ’n poeier wat met melk of water gemeng kan word en kolostrumpoeier bevat, sowel as vitamien A, koper, selenium, sink en aspirien.

Bestuurspraktyke soos om besmette diere van die trop te skei en hulle in die skadu te hou om UV-straling van die son te verminder, kan aktiewe uitbreking en erge impak minimaliseer. Dis belangrik om vlieë op die plaas te bekamp, omdat vlieë grootliks vir die oordra van Moraxella verantwoordelik is.

’n Entstof teen M. bovis is beskikbaar. Dit word egter nie algemeen gebruik nie omdat dit nie volle beskerming bied nie, tot laer melkproduksie kan lei, en nie noodwendig kostedoeltreffend is nie. – Dr Izak Venter, Digital Veterinary Ophtalmology Services

Vir meer inligting, kontak jou plaaslike veearts, of dr Izak Venter by 083 308 9237.

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...