Monday, March 10, 2025

Monitor jou veld en diere vir suksesvolle strategiese voeding

Estimated reading time: 6 minutes

“Veeboerdery het ’n wetenskap geword waarby ons moet inpas. Vroeër jare het die ooie in die veld geloop en as hulle bronstig raak, het die ramme op hul tyd die ooie gedek. Alles teen ’n rustige pas.

“Vandag word baie meer druk op die produsent geplaas om doeltreffend te boer en ek het begin met bekostigbare strategiese voeding vir my ramme en jong ooie. Die dividende wat ek op dié belegging gekry het, het my laat besluit om al my diere se voeding te verander.”

Hendrik Cloete van die plaas Lushof naby Loxton glo die definisie van strategiese voeding is om die regte kos vir die regte dier op die regte tyd te gee.

Aanvanklik duur

“Dit was aanvanklik ’n groot kapitaaluitleg om elke keer die gepaste voeding aan te wend vir die fase waarin die ooie, lammers of ramme is, maar die resultate wat ek gekry het, is ongelooflik goed.”

Hy het begin om sy ramme en jong ooie se voeding aan te pas om hulle gereed te maak vir dektyd. “Jy moet vir hulle deurvloeiproteïen gee wat by jou omgewing en jou veld pas. Daarom is dit vir my belangrik dat die voedingkundige of voermaatskappy moet weet hoe dit op my plaas lyk, wat beskikbaar is en wat ekstra gegee moet word.”

Uit die staanspoor het hy uitstekende resultate gemerk en daarna het hy ook die res van sy skaapboerdery by ’n strategiese voedingstelsel ingepas.

Wees betrokke by jou boerdery

Hendrik glo ’n produsent moet voortdurend sy veld monitor en raaksien as iets in die veld kort, sodat hy dit as ’n byvoeding vir die diere kan gee.

“In die laaste ses weke voor ’n ooi lam, ontwikkel die fetus en dan moet sy, byvoorbeeld, goeie biesmelk kan produseer om die lam te beskerm. As sy nie in ’n goeie kondisie is nie, kan sy nie vir die lam voorsien nie. As die veld nie die nodige hulp kan gee nie, moet die boer ingryp en sy ooie en lammers help.”

Nog ’n belangrike element van strategiese voeding is om jou diere se kondisie te monitor en te bepaal wat elke dier nodig het om gereed te wees vir die volgende produksiefase. As ’n ooi se kondisie vyf weke voor lamtyd daal, moet jy die rooi ligte raaksien en meer byvoeding gee, want sy kry nie genoeg voedingswaarde uit die veld nie. As jy nie ingryp nie, gaan jou lampersentasie laer wees, jou lammers kleiner en jou verliese groter.

Beplan elke jaar opnuut

Hendrik sê strategiese voeding is nie ’n voorafuitgewerkte program waarvolgens jaarliks dieselfde voeding op dieselfde tye gegee word nie.

“Omdat die veld elke jaar verander na gelang van reënval, plantegroei en insekte, verander jou resep ook elke jaar. Daarom is dit noodsaaklik om jou diere en jou veld aanhoudend te monitor. In ’n nat jaar is die veld mooi en het jy net ’n klein bietjie energie en proteïen nodig, maar in droë jare het jy meer nodig. Dit help nie om die diere iets te voer wat hulle in elk geval in die veld sou kry nie. Dan mors jy net jou geld,” gesels hy.

Gebruik die wetenskap

“Die droogte het ons gedwing om strategies te begin voer. Vroeër het die boere net mielies uitgegooi en gevoer wat daar was, maar ons jonger boere is bevoorreg dat die wetenskap sodanig ontwikkel het, dat verskillende voere vir verskillende diere en verskillende behoeftes beskikbaar is.

“Die wetenskap is daar vir ons om meer doeltreffend te boer. Ons moet dit net gebruik. Vandat ek dit begin doen het, het alles verbeter. Meer lammers, meer tweelinge, beter omset en ek kon my boerdery uitbrei.

“Ek glo ook die enigste manier om die geld terug te kry wat ons gebruik het om in die droogte te voer, is om in die groen jare strategies te voer. Jy haal dalk ’n klein bietjie geld uit, maar jy verdien dan groot winste.”

Hy verduidelik dat baie produsente in die groen tye ophou voer, maar hy het al geleer as jy in die groen jare steeds ’n bietjie ekstra voeding bygee, is jou lampersentasie soveel hoër, omdat die ooie in ’n beter kondisie bly en makliker beset raak. As jy nie lammers het nie, hou jou fabriek op werk. Soms stop produsente te gou en kry die ooie nie kans om te verbeter nie.

Die kool is die sous werd

Hendrik sê produsente staar hulle dikwels blind teen die hoë koste van voer, maar die dividende is soveel hoër as jy strategies voer. “As jy net R50 aan ’n ooi bestee deur vir haar prikkelvoeding te gee, gaan jy klaar meer lammers kry as ’n groep ooie wat geen prikkelvoeding ontvang het nie.

“Met strategiese voeding kan lammers ook vroeg gespeen word. Ons verkoop stoorlammers aan die voerkraal en dit werk vir ons ekonomies beter om die lammers op ’n jong ouderdom weg te neem. Hulle is dan gewoond aan kruipvoeding en pas makliker by die voerkraal aan as lammers van die veld af. Die voerkraal betaal ’n premie vir die reeds aangepaste lammers.

“In droogtetye is dit beter om die lam so gou as moontlik weg te neem. Dit haal druk van die ooi af en gee haar kans om te herstel sodat sy gou weer beset kan raak.”

Raad met strategiese voeding

Hendrik het al die skoolgeld betaal om strategiese voeding op sy plaas toe te pas. Sy raad aan produsente is om nie dadelik voluit te begin nie. “Jy gaan baie tweelinge hê en jou geriewe om hulle reg groot te maak is ’n groot kapitaaluitleg. Begin eerder stelselmatig met ’n kleiner groep ooie in die eerste jaar en brei dan uit.

“Begin met prikkelvoeding, sodat die ooie in goeie kondisie is om ram te vat. Begin ook met jou ramme. Hulle is die mees ekonomiese om ’n goed gebalanseerde dieet en deurvloeiproteïen te voer én jy kry die meeste uit hulle.

Lees nog artikels oor skaapboerdery.

“Die oogmerk is om die meeste lammers te kry met die ooie wat jy het. Daarom is ek gesteld op meerlinge in die kudde en dít kry ek reg met ’n voedingstrategie.

“Laat ooie met tweelinge apart lam. As jy nie lamkampies het nie, probeer om hulle in klein groepies apart te hou van die ooie met eenlinge. Dit is die moeite werd om lamkampies te bou en hulle vir ’n kort rukkie daar te hou. So verloor ek minder as 5% van my lammeroes,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Hendrik Cloete by 076 153 8785.

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van...

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...