Estimated reading time: 7 minutes
Die oorgang na lente stel groot uitdagings aan die skaapboer in die somerreënvalgebiede. Ná die winter word reikhalsend na nuwe groei uitgesien, omdat opgegaarde voer naby aan opgebruik is. Nuwe groei op die veld, en spesifiek gebrande veld, moet egter met omsigtigheid bewei word.
Annelie van Deventer, herkouer-voedingkundige by die voermaatskappy, Lavendula CC, wat deel uitmaak van die Agri FARMACY SA-groep in Potchefstroom, sê nuwe groei kan metaboliese steurnisse veroorsaak wat produksieverliese tot gevolg kan hê. Groen weidings het tekorte en wanbalanse moet aandag kry. Nuwe groei word met ’n hoë voginhoud en lae effektiewe vesel geassosieer, en albei hierdie verskynsels hou ’n stel probleme in wat bestuur moet word.
Te veel van ’n goeie ding
“Die eerste probleem wat ons waarneem as skape te vinnig en te lank op nuwe, groen veld wei, is dat dit ’n lakserende effek het. Die hoë voginhoud en hoogs verteerbare gras veroorsaak dat deurvloei deur die spysverteringskanaal baie vinnig plaasvind. Die hoë verbyvloeitempo maak dat voedingstowwe nie doeltreffend opgeneem word nie.
“Die vars spriete het boonop ’n lae effektiewe veselinhoud, wat veroorsaak dat binding in die maag om normale miskorrels te vorm, nie plaasvind nie. Die gevolg is ’n los maag.”
Hoewel vars spriete hoog in energie en proteïen is, sê sy, verdun die hoë hoeveelheid vog die beskikbare voedingstowwe, met die gevolg dat die skaap nie genoeg daarvan kan opneem nie. Die hoë voginhoud veroorsaak dat die skaap as’t ware dik gevreet raak vóór hy vol is.
Daarby is groen uitloopsels baie smaaklik, wat beteken dat die skape enige ander voerbron sal ignoreer. Die skape kry dus nie genoeg voedingstowwe in nie (lae droëmateriaalinname) en begin gewig verloor.
Bestuur van vee op groen weiding
Die deurvloei van jong, nuwe groei kan bestuur word deur diere geleidelik daaraan bloot te stel, sê Annelie. Laat diere die weiding vir die eerste paar dae net een uur per dag bewei en maak die weityd dan geleidelik langer.
Daarmee saam moet diere ook toegang tot goeie hooi hê. “Die meeste skaapboere kraal deesdae hul skape in die aand, so ’n maklike oplossing sou wees om die hooi in die krale beskikbaar te stel, sodat die diere soggens en in die nag daarvan kan vreet. Dit los ook die probleem op dat skape die hooi ignoreer terwyl smaaklike nuwe grasspriete beskikbaar is.”
Domsiekte by ooie
Ooie se voedingsbehoeftes neem geweldig toe in laatdragtigheid. Wanneer droëmateriaalinname by dié ooie beperk word, kan ’n metaboliese steurnis genaamd domsiekte ontstaan. Ooie met meerlinge se energie- en proteïenbehoeftes is nagenoeg dubbel dié van ’n droë ooi, maar hul voerinname neem nie noodwendig dienooreenkomstig toe nie.
“Die lae droëmateriaalinname vanweë die hoë voginhoud van die gras, veroorsaak dat die ooi nie genoeg voedingstowwe in die vorm van energie inkry nie, met die gevolg dat haar liggaamsvet begin afbreek. Hierdie proses verander die vet in ketone, maar ketone is giftig vir ’n skaap se brein.
“Dit is waar die naam ‘domsiekte’ vandaan kom – die skaap se brein word aangetas. Sy raak gedisoriënteerd, loop in voorwerpe vas of staan bloot met haar kop teen ’n heining of muur. Domsiekte kan dodelik wees as die skaap nie onmiddellik ’n goeie bron van hoë energie ingegee word nie.”
’n Energiebron wat baie vinnig werk, is suiker (glukose). By melkkoeie word propileenglikol gebruik om ’n negatiewe energiebalans doeltreffend teen te werk. Dit sal dieselfde uitwerking by skape met domsiekte hê.
“Dit is gewoonlik skape in goeie kondisie, of ooie wat meerlinge dra, wat veral vir domsiekte vatbaar is. By dragtige ooie neem die meerlingfetusse soveel spasie in die buikholte op, dat daar in elk geval min plek vir ’n vol rumen is. As sy dan nog groen, hoë-vog gras inneem, kan dit tot domsiekte lei.”
Domsiekte kan ook aanleiding gee tot ander metaboliese siektes soos melkkoors. Dit is belangrik om so ’n ooi se grootpens so vinnig as moontlik weer aan die gang te kry. Praat met jou kuddeveearts hieroor.
Die sleutel tot die voorkoming van domsiekte, sê sy, lê in een woord: energie. ’n Hoogs gekonsentreerde, gebalanseerde byvoeding met genoeg energie is die doeltreffendste manier om jong, groen gras aan te vul vir die voorkoming van domsiekte. Daarbenewens word proteïen, minerale en vitamiene ook natuurlik aangevul om aan die produserende ooi se behoeftes te voldoen.
Siektetekens en behandeling
Volgens dr Christo Fick van Agri FARMACY Professional Services Inc. sluit tekens van domsiekte onder meer in lusteloosheid, skape wat sukkel om op te staan of agterbly as die trop beweeg, of wat in voorwerpe vasloop of met hul koppe daarteen leun. Hierdie skape het gewoonlik geen aptyt nie, hulle oë is dof en nadoodse ondersoeke wys dikwels ’n vergrote lewer.
Hy beklemtoon dat vroeë behandeling noodsaaklik is en dat die kuddeveearts dadelik betrek moet word. Van die behandelingstrategieë sluit in die spuit van ’n binneaarse glukose-oplossing, asook dosering met gliserol of propileenglikol, vitamien B, of ’n oplossing met ’n halwe tot een koppie suiker of molasse en twee tot drie koppies water.
Voorkoming bly egter die beste behandeling, sê hy. ’n Goeie voedingsprogram moet in plek wees om te sorg dat ooie nie te vet word aan die begin van hul dragtigheid nie. Goeie bestuurspraktyke is om te sorg dat daar nie tydperke sonder voer is nie, daar genoeg beskerming teen erge klimaatstoestande is en dat diere nie onnodig hanteer word nie.
Aspekte by aangeplante weiding
Al die beginsels wat by natuurlike weiding geld, is ook van toepassing op aangeplante weiding. Omdat aangeplante weiding egter bemes word, is ’n ‘onttrekkingstydperk’ betrokke nadat weiding met stikstof bemes is.
Annelie se raad is om by ’n weidingkundige seker te maak oor die lengte van die onttrekkingstyd vir die spesifieke kunsmis wat gebruik is, maar gewoonlik is dit in die orde van twee tot drie weke. As ’n mens te vroeg begin bewei, is nitraatvergiftiging ’n risiko.
Nog ’n risiko om teen te waak is blousuurvergiftiging. Blousuurvergiftiging, of geilsiekte, vind plaas wanneer blousuurvlakke in sekere weidings styg weens spanningstoestande soos ryp en blare wat verlep. Diere wat dié weiding inneem, kan tekens van moeilike asemhaling en stuiptrekkings toon. Aangetaste diere vrek vinnig.
“ ’n Energielek sonder stikstof, met ’n buffer en ionofore so twee weke voor die tyd, is aan te beveel wanneer diere op bemeste aangeplante weiding gaan loop. Bemeste aangeplante weiding kan hoogs oplosbare suikers bevat, wat tot verskillende grade van suurpens (asidose) lei, aangesien dit die pH in die grootpens verlaag.
“Maak egter seker elke individuele dier kry sy kwota vir die dag in, want die lek moet in die pens teenwoordig wees om sy werk te doen wanneer die skaap op die lande kom,” sê sy.
Subkliniese asidose
Volgens dr Fick is subkliniese asidose (SARA) ’n wesenlike gevaar wanneer diere stysel met lae hoeveelhede vesel inneem. “Die rumen van ’n herkouer bevat mikroörganismes wat eers gewoond moet raak aan die groot hoeveelhede stysel. Dit kan 14 tot 21 dae neem.
“Wanneer die rumen nie vooraf aangepas is nie, produseer die mikroörganismes melksuur vinniger as wat hulle dit kan afbreek en benut. Dit lei tot ’n laer rumen-pH en ’n afsterwing van die meeste van die ander mikroörganismes, behalwe dié wat melksuur produseer.”
Voerkraalskape of skape wat na mieliereste geskuif word, sonder om aangepas te word, loop ’n risiko vir die ontwikkeling van SARA. Tekens van dié metaboliese steurnis sluit laer voerinname, melkproduksie en kondisie in, en diere kan diarree ontwikkel.
Behandeling, sê hy, is grootliks gemik op komplikasies nadat die asidose reeds opgeklaar het. Teensuurmiddels soos Acid Buf van Allied Nutrition of magnesiumoksied kan gegee word. Vitamien B moet ook aangevul word, omdat asidose ’n tekort hieraan veroorsaak. Penisillien word gewoonlik gegee vir lewerabsesse wat ná asidose kan vorm.
“Voorkoming bly maar die beste behandeling. Onthou om voorsiening vir ’n aanpassingstyd (14 tot 21 dae) te maak, styselinname te beperk, en genoeg vesel in die dieet in te sluit. Lacticon S kan ook gedoseer word.”
Vir meer inligting, kontak Annelie van Deventer of dr Christo Fick by 018 297 1855 of info@agrifarmacysa.co.za, of besoek Agri FARMACY SA se webtuiste by www.agrifarmacysa.co.za.