Estimated reading time: 6 minutes

Bosindringing van natuurlike habitat is wêreldwyd ’n uitdaging. Kundiges meen Suid-Afrika is, naas Australië, die grootste slagoffer van dié probleem. Miljoene hektaar van die natuurlike omgewing is al deur in- en uitheemse indringerplante ingeneem, wat veral veeboerdery kniehalter.

Daarby is die meeste van dié plante waterdiewe, wat die oorlewing van natuurlike plante bemoeilik, waterafloop en insypeling beperk, erosie bevorder, veldbrande vererger en soms die grond met die afskeiding en neerlegging van onnatuurlike stowwe vergiftig.

Prof Charlie Reinhardt van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê plante is die anker in enige omgewing se biodiversiteit. Dit is daarom belangrik om plante sowel as die biodiversiteit, so gesond as moontlik te hou.

Die proses van bosindringing

Bosindringing vind gewoonlik plaas wanneer mense se ingryping en bedrywighede toelaat dat indringerspesies ’n plantgemeenskap begin domineer. Baie van die gewenste plante, veral smaaklike gewasse met goeie voedingswaarde, begin dan minder voorkom en probleemplante begin die plantgemeenskap oorheers.

Die mate van oorheersing deur die ongewenste plante word bepaal deur hul vermoë om met ander plante mee te ding om water, voeding, sonlig en so meer. Die plante wat dié stryd wen, verander dan in ‘vrate’ en gebruik meer van die groeifaktore as wat hulle eintlik benodig. Dit bring mee dat die probleemplante ál groter word en die natuurlike plante van hul kos en water ontneem.

Prof Reinhardt meen daar moet tussen inheemse en uitheemse indringerplante onderskei word. Waar inheemse plante verdig, is dit ’n aanduiding van hoofsaaklik veldagteruitgang. Hoewel hulle die veld oorheers, kan hulle ook gesien word as reddingsplante wat in tye van ernstige droogtes oorbly, nadat al die gras verdroog het.

Dan bied van dié inheemse plante voeding met ’n hoë proteïeninhoud vir vee. Omdat vee die peule ook vreet, word die saad versprei en as die reën kom en veldagteruitgang het veroorsaak dat daar nie gras is om die nuwe saailinge te ‘versmoor’ nie, vorder bosindringing vinniger.

Selektiewe plantbeheer

Daarom moet die plante altyd beheer word. Dit kan meganies of met chemiese middels gedoen word, maar dit moet altyd selektief wees. Selektiewe beheer is makliker wanneer dit meganies gedoen word, omdat spesifieke bosse uitgehaal kan word.

Moderne werktuie wat die bos plat sny en opkerf, is veral voordelig omdat die stukkies hout as organiese materiaal oor die grondoppervlakte versprei word, wat die grondstruktuur verbeter vir die grassaad om te ontkiem. Dit is weliswaar duur, maar los dadelik die probleem op en die dooie plante hoef nie verwyder te word nie.

Met chemiese beheer moet die bosdoder met die hand om die stam van die plante gesproei of gestrooi word. Die gevaar bestaan dat as ’n stortbui reën kort ná die toediening val, die doder na ander plante kan spoel en hulle ook doodmaak. Lugtoediening is glad nie selektief nie en waar die middel land, kan alles vrek.

Uitheemse indringers

Uitheemse indringerspesies is ’n groter probleem vir die omgewing. Hulle het gewoonlik geen natuurlike vyande soos insekte, patogene of diere wat hulle vreet nie. Dit beteken hulle het ’n voorsprong ten opsigte van groeifaktore. Hulle is geneig om natuurlik te vermeerder en mettertyd ’n spesifieke gebied te domineer ten koste van die gewenste inheemse plante.

Lees meer oor hoe uitheemse kaktusse weiveld verdring.

Die omvang van die probleem word weerspieël in die feit dat miljoene hektaar van Suid-Afrika se gras- en savanna-veld nadelig deur bosindringing beïnvloed word en veeboerdery knou. Terselfdertyd het die regering die afgelope dekades miljarde rande per jaar bestee aan projekte om die probleem hok te slaan. Daar is al gevegte gewen, maar die oorlog duur voort.

Een van die groot oorsake van bosindringing is swak weiveldbestuur wat grootliks toegepas is omdat insetkoste sedert die 1940’s vinniger as vee- en vleispryse gestyg het. Om te oorleef, moes produsente noodgedwonge meer vee aanhou om die somme te laat klop. Oorbeweiding, wat die mededingendheid van gras in die ekostelsels gepootjie het, het die bosse vastrapplek gegee.

Die impak van indringerplante

Volgens ’n handleiding oor die beheer van indringerplante wat deur die Landbounavorsingsraad in samewerking met verskeie vennote opgestel is, hou veral uitheemse indringerplante talle nadelige gevolge vir die natuurlike omgewing in.

’n Enkele groot uitheemse indringerboom kan tussen 100 en 1 000 liter water per dag gebruik, wat beduidend meer is as soortgelyke inheemse plante. Sulke plante vestig ook dikwels in die opvanggebiede en op rivieroewers, wat die stroomvloei verswak sodat minder water damme bereik. Suid-Afrika verloor na raming sowat 2,5 miljard kubieke meter water per jaar as gevolg van indringerplante.

Dit kan ook tot laer landbouproduksie lei. As dié plante oor landbougrond versprei, is daar minder ruimte vir gewas- en veeproduksie. Veeproduksie word gewoonlik op onbewerkbare grond beoefen waar die bestryding van die plante moeiliker is. Plantbeheer is ’n bykomende uitgawe vir produsente, wat ’n nadelige uitwerking op die landbou-ekonomie het.

Die hoër risiko van veldbrande en digte indringerbosse wat brandbestryding bemoeilik, is nog ’n uitdaging. Houtagtige indringerplante wat in digte kolle voorkom, bied ekstra brandstof. Van die spesies bevat ontvlambare verbindings wat die vuur verder stook. Dit maak die vuur warmer en meer intens as veldbrande in natuurlike plantegroei. Dit maak die brande moeiliker beheerbaar, rig groter skade aan natuurlike plantegroei en kan lewensbedreigend wees.

Habitatte wat met indringerplante vervuil is, lewer minder ekostelseldienste soos skoon water en gesonde grond. Dit het ’n betekenisvolle negatiewe invloed op die verkoopwaarde van die grond, omdat die produksiewaarde daarvan laer is en dit vir die nuwe eienaar duur gaan wees om die probleem op te los.

’n Verlies aan biodiversiteit kan voorkom, wat die verskeidenheid natuurlike spesies in ’n gebied kan laat afneem. Die indringerspesies druk die natuurlike spesies uit en vervang hulle. Wêreldwyd is die verlies aan biodiversiteit grootliks toe te skryf aan skade wat deur uitheemse indringerplante veroorsaak word. Die skade is gewoonlik die ergste in streke met ’n unieke en ryk verskeidenheid van plante, soos in die geval van die Kaapse fynbos- en blommeryk.

Baie van die uitheemse indringerplante kan maklik aanpas om voordeel uit klimaatsverandering en aardverwarming te trek. Daarby kan van dié plante, veral peulgewasse, stikstof bind wat die chemiese samestelling van die grond verander en die opname en afloop van reënwater benadeel.

Beginsels van plantbeheer

Die kernbeginsels vir die beheer van indringerplante is vroeë optrede, opvolgbeheer en die instandhouding van herwonne ekostelsels. Die verwydering van indringers is die eerste stap. Om die plante te beheer sodra hulle verskyn, is makliker en goedkoper as om digte stande indringerbosse te verwyder.

Opvolgbeheer en deurlopende instandhouding is noodsaaklik om die beleggings wat in ontbossing gemaak is, te regverdig. Dit is noodsaaklik om die oorsaak van bosindringing te identifiseer en dit reg te stel. As die indringers verwyder en die bestuur reggestel is, sal inheemse spesies wat natuurlik in die ekostelsel voorkom, oorvloedig herleef en floreer.

Vir meer inligting, kontak prof Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of charlie.reinhardt@up.ac.za.

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom