Merinobedryf kyk opgewonde vorentoe

Estimated reading time: 3 minutes

Merino SA se algemene jaarvergadering, dinee, en nasionale veiling is vanjaar deur ’n hernude gees van positiwiteit gekenmerk en het goeie bywoning vanuit verskeie oorde geniet. Die geleentheid het op 14 en 15 Augustus by die Botaniese Sportgronde op Graaff-Reinet plaasgevind.

Volgens Merino SA se bestuurder, Willie van Heerden, en hul president, Grant Naudé, lig die Merinobedryf weer sy kop na ’n uitdagende klompie maande waarin bek-en-klouseer die land se vleis- en wolprodusente seergemaak het. As president van die genootskap, het Naudé tydens die jaarvergadering gesê dat die Merino-stoetbedryf en kommersiële produsente die wa saam deur die drif sal moet trek en dat die Merino-raad aan ’n plan werk om ’n geleentheid soos ’n opedag in die  nabye toekoms te hou waartydens kommersiële produsente en almal wat die Merino-ras ondersteun, bymekaar kan kom.

“Vir die Merino-ras se bestaansreg is dit baie belangrik dat almal wat in die Merino-bedryf is, met ’n positiewe gesindheid skouer aan die wiel sit om iets te doen wat daadwerklik van waarde vir die Merino-ras sal wees,” het hy gesê.

2025 Nasionale Merino-veiling

Die aanbod by vanjaar se Nasionale Merino-veiling het 50 ramme ingesluit en die afslaer was JP Marais van BKB.

Die hoogste bod is op Lot 33 van Andrew Jordaan en Seuns se Montevideo Merinostoet toegeslaan vir R85 000. In die tweede plek met ’n bod van R80 000 was ’n ram van Andries Pienaar van Trump Merinos van die plaas Dieprivier in die Hanover-distrik. En in die derde plek was ’n ram van Jacques Pienaar se Mega Merino-stoet van Klipplaatsfontein by Colesberg wat vir R60 000 van die hand gesit is.

Die gemiddelde prys vir die veiling was R23 800. Merino SA was baie tevrede met die verloop van sake, ten spyte daarvan dat die produsente nog deur ’n moeilike tydperk moet kom en die druk wat almal in die kleinveebedryf ervaar.

Corné Nel, BKB-streekbestuurder vir vesel in die westelike streek, het ook ’n draai by die veiling gemaak.

Toekennings en verdienstelikheid-sertifikate

Merino SA se dinee is op die vooraand van die nasionale veiling gehou en goed bygewoon deur produsente, erelede, makelaars, adviseurs, en leiers in die bedryf soos die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en Cape Wools SA.

  • Chrisjan Oosthuizen, BKB skaap- en wolbeampte asook Merino SA adviseurskursus-duxstudent 2025. In die foto saam met hom is Willie van Heerden, Merino SA-bestuurder en Grant Naudé, Merino SA-president.

Daar is verskeie toekennings by die dinee uitgedeel, onder meer aan Dr Japie van der Westhuizen, wat in sy afwesigheid’n toekenning ontvang het as Stamboek SA-verteenwoordiger wat op Merino SA se raad en tegniese komitee gedien het. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Merino SA by 049 892 4148 of merinosa@eastcape.net.

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...