Dit sit nie in enigeen se broek om die Roggeveld te tem nie. Jy moet hare op jou tande en passie in jou hart hê om in uiterste wintertemperature van onder vriespunt tot baie warm somers, suksesvol te boer. As jy egter grootgeword het met ’n pa en oupa wie se passie dit was om elke generasie diere op die plaas te verbeter, dan het jy ’n voorsprong.
Die plaas Leliekrans, naby Sutherland, spreek van doelgerigtheid en netheid. Selfs die eenvormigheid van die skaaptroppe is opvallend. Jy besef gou dat Piet en Nelia de Lange van die Leliekrans Meatmasterstoet daardie iets ekstra het om suksesvol in die Roggeveld te boer.
Piet vertel sy oupa het in die dertigerjare die plaas stuk-stuk aangekoop en dit Leliekrans gedoop vanweë die lelies wat onder die kranse geblom het. Sy oupa het met Afrikanerskape geboer en Piet se pa, Wessel de Lange, het in die veertigerjare ’n Merinostoet begin. In 1972 het hy met Dorpers begin boer en later die welbekende Dorperstoet bedryf.
Na sy aftrede het Wessel besluit om Persie-ooie as ’n stokperdjie aan te skaf. Die teelgogga het hom weer gebyt en binne vier jaar het hy die kleur van dié troppie skape vasgeteel. Omdat hierdie skape geen waarde in die mark het nie, het Piet sy pa aangeraai om eerder met Damaras te begin boer. Hulle het goeie Damara-ooie aangekoop en in 1997 het Piet sowat 300 ooie uitgehaal en van sy beste Dorperramme by dié troppie gesit.
Van basterlammers tot stoet
“Omdat dit nog altyd ons doelwit was om diere te verbeter, het ek moeite gedoen om dié groepie bont skape se bouvorm perfek te teel. Min het ek geweet dit is eintlik die begin van my Meatmasterstoet,” vertel Piet.
“Ek was so beïndruk met die basterlammers dat ek daar en dan besluit het dat dít die pad is wat ek wil loop. As gevolg van ons uiterste weersomstandighede, verkies ek ’n skaap wat in die winter ’n ligte bedekking groei en dit in die somer weer verloor.”
Dié Dorper-Damara-kruising het begin posvat onder talle Dorperboere omdat albei goeie eienskappe het wat vleisskaapboerdery op ’n nuwe pad kon sit. Sonder dat hulle dit besef het, het die De Langes met hul ‘basterskape’ die Meatmaster-ras ’n goeie hupstoot gegee, omdat hulle reeds ses jaar vantevore begin het om die bont skape se bouvorm perfek te teel.
Teling en seleksie by Leliekrans
Nadat hulle by die Meatmaster-telersgenootskap aangesluit het, het hulle verskeie proefnemings gedoen. Piet het albei kante om geteel: Goeie Dorperramme op Damara-ooie en andersom. Hy het agtergekom dat ’n kruising van ’n Damara-ooi en ’n Dorperram ’n beter skaap is, omdat sy haar moedereienskappe beter behou as ’n Dorper-ooi by ’n Damara-ram.
Piet gebruik natuurlike seleksiemetodes. Sy lammers gaan veld toe nadat hulle gespeen is. As dit droog is help hy hulle, maar in die goeie tye word hulle op die swakste veld gesit sodat hulle hul staal kan wys. Elke maand word die minder aanpasbare diere uitgeklas.
Deur seleksie onder ekstensiewe toestande toe te pas, bereik hy sy ideaal om beter aangepaste, geharde diere te teel. “My pa se leuse was altyd dat jy by veranderende omstandighede moet aanpas. Ek glo die skape wat ek teel moet ook daardie vermoë hê,” vertel hy.
Deeglike rekordhouding
Vir Piet en Nelia is die rekordhouding van die stoet ’n integrale deel van suksesvolle teling – nie om indekse te bepaal nie, maar eerder om goeie parings te doen. Hulle glo aan ekstensiewe boerdery waar natuurlike paring plaasvind. Elke groep ooie word apart met een ram gepaar en dié ram bly vir twee siklusse by die ooie.
Sedert 2009 doen hulle ’n ooibeskrywing van elke teelooi. Sy kry ’n punt uit vyf vir bedekking, vet en bouvorm. As die lam aankom, kry die lam ’n kleurbeskrywing. Hierdie rekords help hulle om voor- en nageslagte na te speur en só die parings beter te bestuur.
Belangrike eienskappe vir Leliekrans
Een van die belangrikste eienskappe boaan Piet se lys is reproduksie. ’n Onproduktiewe ooi het nie ’n plek op die plaas nie, veral nie tydens droogtetoestande nie. Hy het ’n stelsel in plek waarvolgens ’n gedeelte van die ooie elke agt maande lam. Vrugbaarheid, reproduksie en herstelvermoë bring mee dat die ooie dit met gemak kan doen.
Hulle het uitstekende moedereienskappe en goeie melkproduksie, en hulle kan in die veld na hulself en hul lammers omsien. Dit is alles eienskappe van die Damara-ras wat in die Meatmaster vasgelê is.
Produktiwiteit geld veral ook vir die ramme. “Ek het by geleentheid in ’n erge droogte 194 Meatmaster-ooie met lammers op huurgrond gaan aflaai, met net een ram by. Weiding was nie volop nie en ondanks dit, het slegs 14 ooie nie dragtig geskandeer nie. Hierdie groep ooie het Februarie en Maart gelam, en weer in Oktober en November. Min ander rasse kan dít nadoen. Meatmaster-ooie het ook die vermoë om vinnig te herstel ná hulle swaar gekry het.”
Goeie genetika kom eerste
Piet hou van mooi diere, solank funksionaliteit en produksie nie ingekort word nie. “In die Meatmasterbedryf is kleur baie belangrik, maar dit is nie vir my ’n topprioriteit nie. Dit neem 15 jaar om onder die vel reg te teel en net drie jaar om die kleur vas te lê. Daarom is dit vir my belangriker om eers die genetika reg te kry,” verduidelik hy.
Volgens hom het die Meatmasters wat uit die Damara-moederlyn geteel word baie goeie eienskappe, soos tropgebondenheid, gehardheid en bosluis- en parasietweerstandigheid, wat maak dat die diere baie meer aanpasbaar as die meeste ander skaaprasse is.
’n Ander eienskap wat vir hom belangrik is, is die regte bouvorm. “Om die Meatmasters as ’n ekstensiewe, vrugbare ras te behou moet jy die regte vorm skaap teel, wat nie oormatige vleis dra nie, goeie loopvermoë het en ook ’n goeie beenstruktuur het.”
Meatmasters is tans besig om baie veld in veeteeltkringe te wen. Volgens Piet bly dit die belangrikste om die regte genetika in jou kudde in te teel as jy aan die voorpunt van dié bedryf wil bly. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Piet de Lange by 074 738 8621 of pietneliadelange@gmail.com.