Estimated reading time: 3 minutes
Die rand het in die maand van Maart versterk teenoor die Amerikaanse dollar en sluit die maand af op R18,38 teenoor die dollar. Die rand het verswak teenoor die euro; vanaf die laaste dag in Februarie het dit gestyg met 70 sent en sluit af op R19,90. Die Prima-uitleenkoers het in Maart onveranderd gebly en bly op 11%. Die verbruikersprysindeks (VPI) is op 3,2% beraam vir Februarie 2025 met die produsenteprysindeks (PPI) wat op 1% beraam is.
Geelmielieprys bly wisselvallig
Die geelmielieprys het ’n baie wisselvallige maand ervaar met pryse wat aan die begin gestyg het, maar in die laaste week taamlik geval het en dit sluit die maand af op R4 513/kg. Die wolmark het ’n positiewe maand ervaar met die markindikatorprys wat met R10 vanaf Februarie gestyg het en sluit die mark af op R188,25.
Karkaspryse toon stygende tendense
Die beeskarkaspryse het na twee opeenvolgende maande van dalende pryse, ’n styging in pryse ervaar. Die gemiddelde A2-karkasprys het vanaf Februarie 2025 gestyg met R0,59/kg en sluit die maand af op ’n gemiddelde prys van R56,16/kg, met die prys op R58,83/kg in die laaste week van Maart. Die B2-karkasprys het effens gedaal, met die gemiddelde prys vir die maand op R49,32/kg. Die gemiddelde C2-karkasprys het gedaal en is op R47,23/kg bereken, met die prys wat die maand op ’n prys van R47,23/kg afsluit. Die gemiddeld speenkalfpryse is op R34,28/kg vir die maand bereken, met die prys wat met sowat R0,95/kg deur die loop van die maand verbeter het. Soos kan sien in Figuur 1, toon die speenkalfpryse ’n beter tendens as 2024 en bied hoop vir produsente vir 2025.
Die lamkarkaspryse hou aan om ’n stygende tendens in Maart 2025 te toon met A2-pryse wat ’n gemiddelde prys van R100,76/kg behaal en die maand op R100,81/kg afsluit. Die B2-skaapkarkaspryse het ook gestyg en toon ’n gemiddelde prys van R71,21/kg sluit. Dit sluit die maand af op ’n gemiddelde prys van R71,21/kg. Die C2-karkasprys het gedaal met ’n gemiddelde prys van R65,19/kg en die prys aan die einde van die maand is op R64,89/kg.
Die klas O-varkkarkas het effens in Maart gestyg en sluit dus die maand op ’n gemiddelde prys van 31.85/kg af. – Iniel Huggett, dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.



