Tuesday, February 4, 2025
HomeMarketsLandboumark-oorsigLandboumarkte: Oktober 2024

Landboumarkte: Oktober 2024

Estimated reading time: 3 minutes

Die rand het gedurende Oktober weereens ‘n stabiele maand teenoor die dollar en die euro ervaar en ‘n sterk posisie teenoor beide geldeenhede behou. Die rand het dié maand teen R17,67 teenoor die Amerikaanse dollar en R19,17 teenoor die euro gesluit. Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het tydens September vir die derde opeenvolgende maand gedaal. Gedurende September het die VPI na 3,8% (jaar-op-jaar) gedaal en die PPI het na 1,0% (jaar-op-jaar) gedaal. Die prima-uitleenkoers bly onveranderd op 11,50%.

Die geelmielieprys het gedurende Oktober weereens gestyg met ongeveer R456/ton en die maand afgesluit teen R4 793/ton. Dit is ook die hoogste prys sover in 2024.

Wolmark ry wipplank

Die wolmark het gedurende Oktober wipplank gery met die wolpryse wat tydens die eerste drie veilings gestyg het. Tydens die laaste twee veilings het pryse weer gedaal. Hierdie tendens kan toegeskryf word aan die Australiese wolmark wat gedurende die eerste helfte van Oktober verbeter het, maar weer swakker pryse ervaar het na die einde van die maand toe. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in Oktober teen R161,80/kg gesluit. Die bokhaarmark het gedurende Oktober steeds ‘n afwaartse tendens beleef, maar pryse het marginaal begin herstel tydens die laaste veiling van Oktober, as gevolg van die rand wat verswak het. Die aanwyserprys vir Oktober het teen R336,65/kg gesluit.

Karkaspryse redelik stabiel

Beeskarkaspryse het gedurende Oktober ‘n redelike stabiele maand ervaar, met die A2-karkaspryse wat steeds druk ervaar en B2- en C2- pryse wat marginale verhogings getoon het. Die maand het afgesluit met ‘n gemiddelde A2-prys van R52,70/kg, die B2-prys van R45,76/kg en die C2-prys van R44,98/kg. Die gemiddelde speenkalfprys het tydens Oktober marginaal herstel, met ‘n gemiddelde styging van ongeveer R2/kg, nadat hierdie pryse onder geweldige druk was die afgelope tyd. Die gemiddelde prys het teen R31,21/kg gesluit.

Die skaapkarkaspryse het tydens Oktober ‘n redelike stabiele maand ervaar. Die skaapkarkaspryse volg dieselfde tendens as die beeskarkaspryse met die A2-prys wat afneem en beide die B2- en C2-pryse wat styg. Die A2-prys het teen R88,57/kg gesluit, die B2-prys het gesluit teen R65,68/kg en die C2-prys het gesluit teen R63,43/kg. Die gemiddelde speenlamprys het tydens Oktober redelik gedaal nadat pryse in September namate herstel het. Hierdie daling in pryse kan heel moontlik toegeskryf word aan die volume speenlammers wat gedurende Oktober die mark binnegekom het. Die gemiddelde prys het gesluit op R38,63/kg.

Die prys van klas O-varkkarkasse (Figuur 1) het in Oktober ‘n effense styging beleef en volg steeds ‘n opwaartse tendens. Die prys het die maand teen R32,84/kg afgesluit. Dit vir die tweede opeenvolgende maand die hoogste prys behaal sedert Februarie. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala en dr WA Lombard, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.

Figuur 1: Prys van Klas O varkkarkasse vir 2024

Must Read

A New Era of Mobility: Say Hello to Flexibility with KINTO...

Estimated reading time: 3 minutes Imagine the freedom of subscribing to your favourite music, movies, or even gym services. Toyota has introduced this concept to...

BEK amper oral onder beheer