Monday, March 10, 2025
HomeMarketsLandboumark-oorsigLandboumarkte: September 2024

Landboumarkte: September 2024

Estimated reading time: 3 minutes

Die Rand het tydens September ‘n stabiele maand teenoor die dollar en die euro ervaar en het steeds ‘n sterk posisie teenoor beide geldeenhede behou. Die rand het dié maand teen R17,27 teenoor die Amerikaanse dollar en R19,23 teenoor die euro afgesluit. Beide die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) het tydens Augustus vir die tweede opeenvolgende maand gedaal. Tydens Augustus het die VPI na 4,4% (jaar-op-jaar) gedaal en die PPI het na 2,8% (jaar-op-jaar) gedaal. Die prima-uitleenkoers het na lang verwagte sprake met 25 basispunte gedaal na 11,50% nadat die prima-uitleenkoers vanaf Mei 2023 op 11,75% gestaan het.

Die geelmielieprys het tydens September gestyg met ongeveer R352/ton en die maand gesluit teen R4290/ton. Dit is ook die hoogste prys sedert April 2024, hierdie hoër prysvlakke kan heel moontlik toegeskryf word aan swak oeste wat regoor Suid-Afrika ervaar was en namate ‘n tekort in graanvoorraad na vore bring.

Wolmark herstel

Nadat die nuwe wolseisoen op ‘n laagtepunt begin het tydens Augustus, het die wolmark namate weer effens herstel tydens September. Hierdie marginale styging in pryse kan toegeskryf word aan die Australiese wolmark wat tydens September hoër pryse ervaar het en die Suid-Afrikaanse geldeenheid wat steeds ‘n sterk posisie in die geldmark handhaaf. Die aanwyserprys vir gesertifiseerde skoonwol het in September teen R161,01/kg gesluit. Die bokhaarmark het tydens September steeds ‘n afwaartse tendens beleef, hierdie tendens kan moontlik toegeskryf word aan die hoë aanbod by die laaste bokhaarveiling. Die aanwyserprys vir September het teen R339,48/kg gesluit.

Karkaspryse

Beeskarkaspryse het tydens September steeds ‘n algehele daling in pryse ervaar, beide die A2- en B2-karkaspryse het gedaal met C2 wat redelik stabiel gebly het. Die maand het afgesluit met ‘n gemiddelde A2-prys van R53,09/kg, die B2-prys van R44,24/kg en die C2-prys van R42,91/kg. Die gemiddelde speenkalfprys  sluit die maand af teen R29,61/kg.

Die skaapkarkaspryse het tydens September weereens ‘n redelike stabiele maand ervaar met die B2-karkasprys wat ‘n minimale daling ervaar het. Die A2-prys het teen R90,98/kg gesluit wat die hoogste is sedert Julie 2023, die B2-prys het gesluit teen R64,57/kg en die C2-prys het gesluit teen R63,43/kg. Die gemiddelde speenlamprys (Figuur 1) het tydens September tot ‘n mate herstel nadat pryse tydens Julie en Augustus gedaal het. Daar word gepraat van moontlike verdere stygings in speenlampryse na Desember toe, met pryse wat weer nader aan die R42/kg merk kan beweeg. Die gemiddelde prys het gesluit op R40,58/kg.

Na ‘n moeilike jaar het die prys van klas O-varkkarkasse in September ‘n effense styging beleef. Die prys het die maand teen R32,51/kg afgesluit wat die hoogste prys is sedert Februarie-maand. – Meyer van der Merwe, Siphiwe Tshabalala en dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat.

Figuur 1: Speenlampryse vir 2024

Kyk na Oktober se landboumark oorsig.

Must Read

RSG Landbou: 6 Maart 2025 – geborg deur Pioneer

Die slaglamkompetisie by die Williston Skou was weereens ‘n groot sukses. In vanoggend se RSG Landbou hoor ons by DeWitt Hodgsen wie was vanjaar...