Sunday, March 9, 2025

Kyk uit vir lewerslak dié herfs

Estimated reading time: 4 minutes

Dr Paul Reynolds, ’n veearts by Warden Dierehospitaal beskryf lewerslak (lewerbotsiekte) as ’n parasitiese wurm wat groot ekonomiese verliese veroorsaak. Daarby, sê hy, moet veeprodusente met twee soorte lewerslak rekening hou – gewone lewerslak en die reuse-lewerslakwurm.

Lees hierdie artikel in Engels

Vleie, fonteine, aangeplante weiding, reën en hitte skep ’n ideale teelaarde vir lewerslak. Die parasiete kom regoor Suid-Afrika voor en hul getalle neem veral in die laatsomer en herfs toe. Lewerslakke is afhanklik van varswaterslakke as tussengashere om hul lewensiklus te voltooi en derhalwe voorspel die voorkoms van varswaterslakke gewoonlik probleme vir veekuddes.

Volwasse en onvolwasse lewerslakke is gewoonlik skadelik vir beide mens en dier. Volwasse lewerslakke kan tot kroniese produksieverliese of akute vrektes in vee lei, terwyl migrerende, onvolwasse lewerslaklarwes tot besmetting lei wanneer vee dit saam met plante en water inneem.

Tekens van besmetting

“Die tekens van lewerslakbesmetting wissel, afhangend van hoe swaar die lading is en hoe lank diere daaraan blootgestel was,” sê dr Reynolds. “Beeste kan ’n mate van weerstand teen lewerslak opbou, maar dit hang van die lading van varswater- of lewerslakke in die besmette gebied af.”


Luister na ‘n RSG Landbou-onderhoud oor lewerslak:


By kroniese lae besmetting, kan diere kwakkeel en ’n growwe haarkleed ontwikkel. Skielike vrektes, met bloeding in die buik, kan voorkom, en besmette koeie sal gewoonlik minder melk lewer. In akute gevalle, waar ’n hoë lading van lewerslakke voorkom, kan dit tot skielike vrektes lei as gevolg van die parasiet se migrasie deur die organe en bloedvate, wat bloeding veroorsaak, of weens blote skok as gevolg van die parasiet se teenwoordigheid in die dier se liggaam.

In sub-akute gevalle van enkele weke se hoë lading, kan lewerskade plaasvind weens die onvolwasse lewerslakke se migrasie deur die liggaam. Dit kan proteïentekorte, verlaagde bloedstollingsfaktore en ’n hormoonwanbalans veroorsaak. Dit kan ook lei tot swak besetting en diere wat nie op hitte kom nie.

In kroniese gevalle, wanneer diere vir verskeie weke deur ’n lae lading besmet word, is behandeling eintlik reeds te laat. Die toestand veroorsaak lewerskade en proteïentekorte wat daartoe lei dat diere kondisie verloor en swak presteer. Die dier se haarkleed kan ook grof vertoon, en in hierdie stadium is behandeling nie meer doeltreffend nie.

Dr Reynolds merk op dat die lewer een van die belangrikste organe is, omdat dit die bloed, proteïene en hormoonfunksies beïnvloed. “ ’n Beskadigde lewer kan groeihormone en hittesiklusse benadeel en soms permanente skade aanrig.

“ ’n Bees wat tipies nie gewig optel nie, selfs met die nodige byvoeding en behandeling in die kraal, is ’n voorbeeld daarvan. Ongelukkig is dit gewoonlik dieselfde bees waarop daar nie ’n nadoodse ondersoek gedoen word nie, omdat hy maar net ‘siekerig’ was.”

’n Handige voorkomingstrategie

Lewerslakprobleme kan op ’n natuurlike wyse beheer word deur wisselweiding en goeie bestuur toe te pas, veral in gebiede waar water of klammigheid voorkom. Vermy hierdie areas indien prakties moontlik. Nog ’n handige voorsorgmaatreël is om wilde ganse in die omgewing hul gang te laat gaan, omdat hulle die slakke vreet.

“Wat dosering betref, kan dit in ’n groot mate help om volwasse en onvolwasse lewerslakskade te beperk,” sê dr Reynolds. “Om te bepaal of daar ’n lewerslakprobleem in jou kudde is, kan jy mismonsters na jou plaaslike veearts neem en saam op ’n doseer- of spuitprogram besluit.

“Onthou, die afwesigheid van lewerslakeiers in ’n mismonster beteken nie noodwendig dat daar nie ’n probleem is nie. Daar is dalk op daardie stadium net geen volwasse lewerslakke wat eiers lê nie. ’n Mismonstertoets identifiseer nie die onvolwasse lewerslakke wat wel later probleme kan veroorsaak nie. ’n Bloedtoets vir teenliggaampies in ’n dier kan enige stadium van lewerslakbesmetting bepaal.”

Strategiese behandeling

Voorkomende behandeling sluit verskillende doseer- en spuitmiddels in, waarvan meeste produkte slegs die volwasse lewerslak dood, terwyl die onvolwasse lewerslak steeds deur die dier se liggaam migreer en skade in die lewer en ander organe aanrig.

Behandeling vir erge lewerslakbesmetting is meestal daarop gemik om die lewer te ondersteun en sluit ’n proteiënaanvulling in. Die aanbeveling is om onvolwasse lewerslakke strategies te behandel en produkte te gebruik wat beide die volwasse en onvolwasse stadia van lewerslak aanspreek.

Laastens merk dr Reynolds op dat dit veeprodusente dubbel en dwars sal baat om koppe bymekaar te sit met ’n veearts. Jou kuddeveearts sal konstruktief kan help om met ’n kolonie lewerslakke klaar te speel. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Paul Reynolds
by 082 587 7607, 071 438 9277 of wardendier@gmail.com

orf, skeerpraktyke, lemon

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...

Damage caused by game: Who is legally liable?

Estimated reading time: 5 minutes This raises the question as to whether someone can be...