Wednesday, December 4, 2024

KwaZulu-Natalse aspirant-afslaer swaai die septer

Estimated reading time: 4 minutes

Die wenner van Plaas Media se Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie is op Vrydag, 13 September 2024, by Nampo Kaap in Bredasdorp aangewys. Vyf puik aspirant-afslaers het om die titel meegeding, maar dit was die jong Fiso Hadebe wie se vernuf uiteindelik die deurslag gegee het. Die kompetisie is vanjaar vir die elfde keer aangebied en Toyota SA is ook vir die elfde keer die trotse naamborg.

2024 se streeksrondtes

Plaas Media het sedert 2023 verskeie veilingshuise by die kompetisie se streeksrondtes betrek. Vanjaar was Vleissentraal, OVK, Brandon Leer Auctioneers en Angus Williamson van Bloodstock South Africa betrokke.

In die eerste streeksrondte by Bloemskou in Bloemfontein het Jurie Burger en Hanno Ferreira eerste en tweede plekke verwerf. Die tweede streeksrondte het by die Royal Landbou-uitstalling in Pietermaritzburg plaasgevind. Hadebe het in dié rondte ’n tweede plek behaal, wat aan hom ’n plek in die finale rondte besorg het. John Cannon was hier eerste.

Hoewel twee van die streeksrondtes nie kon plaasvind nie, was deelnemers in die Oos-Kaap en Gauteng die geleentheid gegun om ’n video-inskrywing te stuur wat deur twee afslaers beoordeel is. Hierdie afslaers het tydens die proses geen kontak met mekaar gehad nie en die twee deelnemers wat video-inskrywings gestuur het, moes aan streng vereistes voldoen. Daar moes onder andere vee in die video, wees sodat die beoordelaars kon sien wat opgeveil word en of die deelnemers se kennis op standaard is.

Deelnemers word in verskeie kategorieë beoordeel. Voorkoms, inleiding en aanslag, duidelikheid van spraak, stembeheer, doeltreffendheid en kontak met die gehoor, vermoë om ’n bod en hoër bod te vra en te kry, afslaersvernuf en veekennis is alles in aanmerking geneem.

Meer oor Fiso Habede

Hadebe se gladde mond en besonderse kontak met die gehoor, het hom behoorlik stof in die oë van sy teenstanders laat skop. Hy was skoon sprakeloos ná sy oorwinning. “Ek het reeds op skool ’n liefde vir die afslaersmedium ontwikkel en later besef ek kan ’n beroep daarvan maak. Dit is iets wat ek regtig geniet. Ek is mal daaroor om rondom diere te wees, en ek glo dit is goed om te doen waarvoor jy lief is.”

Hadebe se wenprys behels ’n reis na Calgary in Kanada, waar hy in 2025 saam met die 2023 Toyota SA Nasionale Jong Afslaer, Vincent Pike, aan die Calgary Stampede se internasionale afslaerskompetisie sal deelneem. “Nou vat ek dit eers een tree op ’n slag, maar my visier is ferm op Calgary gerig. Hopelik sal ek ook vanjaar meer lugtyd kry by veilings.” 

Fiso Hadebe in aksie in die finale rondte saam met Pierre Vlok van BKB, sameroeper

Finaliste met selfvertroue

Allan Sinclair, besturende direkteur van Vleissentraal Bloemfontein en beoordelaar by die finaal, sê vanjaar se deelnemers was uitstekend. “Elkeen het sy eie afslaersmanier gehad, maar dit was veral selfvertroue wat die finaliste van mekaar onderskei het.

“Ek was redelik beïndruk met van hulle en baie beïndruk met ’n paar ander. Fiso het ’n baie gemaklike manier, baie selfvertroue en die vermoë om met mense kontak te maak. Die grootste ding is egter sy geesdrif – ‘n mens kan sien hy geniet dit.”

Sinclair sê wat veral uitstaan, is as ’n deelnemer weet wat hy gaan sê, wat in die ring is en wat die waarde daarvan is. “Jy moet daardie kennis kan oordra en sodra jy dit doen, het jy amper ’n erkenning van ander mense dat jy weet wat jy doen. Hulle kry respek vir jou en dan kan jy hulle beheer en meer geld vir die verkoper kry.” – LiMari Louw en Deidré Louw, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Deidré Louw by deidre@plaasmedia.co.za.

Bestuur stres in ’n skaapvoerkraal

Estimated reading time: 5 minutes Stresvrye dierehantering verbeter dierewelsyn, produktiwiteit, vleisgehalte, en gesondheid. Stresfaktore sluit fisiese...

Die suksesvolle bestuur van ’n skaapvoerkraal

Estimated reading time: 4 minutes Doeltreffende hoklogistiek is noodsaaklik vir goeie dierewelsyn, voerdoeltreffendheid en operasionele...

Die ekonomie van ’n skaapvoerkraal

Estimated reading time: 5 minutes 'n Skaapvoerkraal is ’n intensiewe stelsel waarin speenlammers vir vleisproduksie...

Goedkoop invoere is ’n risiko vir ons plaaslike bedryf

Estimated reading time: 4 minutes Die ding wat my die meeste van skaapboerdery aantrek, is...