Estimated reading time: 5 minutes
- Gerrit Diedericks, eienaar van Trekland Landboumasjinerie, sê die eerste vraag wat ’n voornemende kuilvoermaker moet vra, is hoeveel hektaar gewasse verwerk gaan word.
- Volgens Diedericks is ’n kuilvoerkerwer die spil waarom die maak van goeie kuilvoer draai.
- Goeie plastiekseile word gebruik om die kuilvoerbunker en -hope toe te maak sodat dit nie aan suurstof blootgestel word nie.
- Volgens Diedericks bepaal die regte toerusting hoofsaaklik die kuilvoergehalte.
- As jy daarin slaag om hoë-gehalte kuilvoer te maak, spaar jy uiteindelik baie geld op voerkoste.
Hoewel kuilvoer ’n nuttige hulpmiddel op enige veeplaas is, is die proses om dit te maak nie altyd maklik nie en ook nie noodwendig goedkoop nie. Gerrit Diedericks, eienaar van Trekland Landboumasjinerie, sê die eerste vraag wat ’n voornemende kuilvoermaker moet vra, is hoeveel hektaar gewasse verwerk gaan word.
“As jy beplan om minder as 100ha se gewasse vir kuilvoer te gebruik, is dit sinneloos om nuwe toerusting aan te skaf. In so ’n geval word ’n kuilvoerkontrakteur aanbeveel. As jy meer as 100ha se gewasse vir kuilvoer gaan sny, is dit beter om eers tweedehandse toerusting te oorweeg en, namate jou projek vorder, dit mettertyd te vervang. Eers wanneer jy 300ha of meer vir kuilvoer gaan gebruik, is dit die moeite werd om in nuwe toerusting te belê.”
’n Goeie kerwer jaag jou ’n paar miljoen rand uit die sak, tesame met spesiale waens wat die kuilvoer moet vervoer, genoeg trekkers om die harde werk te doen en voldoende seile om die kuilvoer toe te maak om suurstofblootstelling te voorkom.
Noodsaaklike toerusting
Volgens Diedericks is ’n kuilvoerkerwer die spil waarom die maak van goeie kuilvoer draai. Hier het jy ’n keuse tussen ’n sleepmodel wat goedkoper is, of ’n selfaangedrewe model. Wat mieliekuilvoer betref, het sleepmodelle nie altyd die vermoë om mieliepitte te breek nie, terwyl selfaangedrewe modelle, hoewel heelwat duurder, dit wel doen. Dit is juis belangrik dat die pitte gebreek word wanneer mieliekuilvoer gemaak word. Heel pitte bied min voedingswaarde, omdat dit heel deur die dier se stelsel beweeg. Gekraakte pitte word beter benut en het meer voedingswaarde.
Saam met die kerwer is ’n paar waens noodsaaklik wat die kuilvoer kan vervoer. Dit is belangrik om waens te gebruik wat hoog kan oplig sodat dit kan kantel, aangesien kuilvoer nie maklik van die wa afgly nie. Verder word ’n trekker met ’n lem benodig om die kuilvoer in dun lagies te versprei.
Kuilvoer behoort nie in ’n bondel gekompakteer te word nie. Op sommige dele van die landerye is die gewasse natter as ander en wanneer dit in lae gekompakteer word, word die nat en droëmateriaal beter versprei. Sodoende verbeter die voedingswaarde en smaaklikheid van die kuilvoer.
Goeie plastiekseile word gebruik om die kuilvoerbunker en -hope toe te maak sodat dit nie aan suurstof blootgestel word nie. Die geheim van goeie kuilvoer is om die suurstof so vinnig as moontlik te verwyder sodat goeie fermentasie kan plaasvind. “Belê in ligte seile wat dig genoeg is en oor ’n goeie UV-faktor beskik, sodat dit nie stukkend brand in die son nie. As die kuilvoer nie vinnig genoeg gekompakteer en toegemaak word nie, produseer jy eintlik kompos pleks van kuilvoer.”
Verskillende opsies
Diedericks sê daar is verskillende maniere om kuilvoer te maak. Bunkers en hope is meer tradisionele metodes, terwyl silosakke al hoe gewilder raak en daar ook diegene is wat kuilvoerbale maak. Elkeen het sy voor- en nadele.
Die voordeel van silosakke is dat die kuilvoer dadelik in die sak gelaai en die suurstof verwyder word. Omdat daar minder suurstof in die silosak is, kan die materiaal ’n bietjie droër gesny word. “Indien jy van ’n put of bunker gebruik maak, kan die voer ’n bietjie natter gesny word. Nat kuilvoer in ’n silosak kan egter die sak laat bars.”
‘n Probleem ontstaan wanneer droër en natter kuilvoer nie gemeng word nie. Dit kan veroorsaak dat sekere dele van die kuilvoer minder nutriënte bevat.
Algemene foute
Volgens Diedericks bepaal die regte toerusting hoofsaaklik die kuilvoergehalte. Gewasse moet op die regte snystadium en teen die geskikte voggehalte gesny word. Die venstertyd hiervoor is baie kort en daarom moet dit vinnig en presies gedoen word. Om die beste waarde te behaal, moet die kuilvoersnitte nie te lank of te kort wees nie. “Jou kerwer moet korrek ingestel wees om die beste resultaat te verkry.”
’n Algemene fout wat hy dikwels teëkom, is dat produsente te lank neem om hul kuilvoer te sny en te kompakteer. In sy ondervinding gebeur dit ook dikwels dat die produsent nie genoeg toerusting beskikbaar het om die kuilvoer vinnig te hanteer nie. Die gevolg is dat dit ’n paar dae neem voordat al die materiaal gekompakteer en toegemaak is.
Nog ‘n algemene fout is dat die gewasse te vroeg gesny word, terwyl die plante nog te nat is vir inkuiling. In die geval van mieliekuilvoer het die stysel dan nog nie behoorlik ontwikkel nie. Daarmee saam word die belangrikheid van mieliepitte wat gebreek moet word, dikwels onderskat. As die pitte nie gebreek is nie, beland ’n groot deel van die stylselkomponent in die dier se mis.
Kontaminasie in die bunker of kuilvoerhoop is ook ’n probleem. Voertuie wat die hoop moet vastrap se wiele bevat grond en stof waarin mikrobes kan skuil. Dit beland in die kuilvoer en verhoog die risiko van bederf. Nog foute is dat te min aandag gegee word aan die kompaksie van die bolaag of dat die seile nie vas genoeg gepak word nie.
Om kuilvoer te maak is ‘n wetenskap en boonop nie ‘n goedkoop proses nie. Daarom is dit belangrik om van meet af die regte toerusting te gebruik en kennis te dra van die bestuursproses. “As jy daarin slaag om hoë-gehalte kuilvoer te maak, spaar jy uiteindelik baie geld op voerkoste. Vra kenners se raad om seker te maak jy volg die regte stappe.” – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir meer inligting, skakel Gerrit Diedericks by 082 770 1352.


