Kuilvoermeester tree af

Estimated reading time: 3 minutes

Dr Robin Meeske, Suid-Afrika se voorste kuilvoerkenner, het op 30 Augustus 2024 die tuig by die Outeniqua-navorsingstasie by George neergelê. Plaas Media het die voorreg gehad om sedert 2014 baie nou met hom saam te werk met die ontwikkeling en aanbied van die jaarlikse Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie. Robin het die beoordelingskriteria ontwerp en het as hoof-beoordelaar opgetree. Dié kompetisie het ’n groot rol gespeel in die verbetering van die gehalte van kuilvoer wat in die land gemaak word.

“Die gehalte van kuilvoer van die inskrywings,” sê hy, “het oor die afgelope tien jaar drasties verbeter. In die beginjare was daar heelwat mieliekuilvoere wat te vroeg ingekuil is met ’n voginhoud van meer as 70% en gevolglike lae stysel- en energie-inhoud. Kompaksie van veral die bolaag in die bunker het baie verbeter, asook die aerobiese stabiliteit van kuilvoer. Dit het ook duidelik geword dat die bolaag in die bunker goed gepreserveer kan word deur goeie kompaksie en afseël van die bunker. Baie produsente het goeie wenke ontvang oor hoe om hul kuilvoer te verbeter. Die data oor baie jare het duidelike teikenwaardes opgelewer waaraan kuilvoer behoort te voldoen.”

Sy studies tot en met sy MSc-graad het Robin aan die Universiteit van Pretoria behaal. Daarna het hy in 2000 ’n PhD Agric-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy proefskrif was oor die effek van kuilvoerinokulante op fermentasie en op diereproduksie.

Lees meer oor die Plaas Media Santam Nasionale Kuilvoerkompetisie hier.

Sy kuilvoer-reis

Tussen 1988 en 1995 was hy ’n navorser aan die Irene Instituut vir Diereproduksie, waarna hy na die Outeniqua-navorsingstasie by George geskuif het. Hier was hy spesialis-wetenskaplike waar hy vir navorsing en voorligting in suiwelvoeding verantwoordelik was, en ook die Outeniqua Jersey-kudde van 400 Jerseykoeie in melk bestuur het.

Sy besoek van drie maande in 1991 aan die Volcani Navorsingsentrum by Bet Dagan in Israel, sê hy, het ’n groot rol daarin gespeel om hom op die kuilvoerpad te plaas. Onder dr Gilad Ashbell, destyds die hoof van die navorsingeenheid vir voerpreservering en byprodukte het hy werk gedoen op sorghuminkuiling met die byvoeging van bakteriese inokulante. In 1993 het hy by die tiende Internasionale Kuilvoerkonferensie in Dublin, Ierland, ’n referaat oor die inkuiling van Digitaria erianthra met die byvoeging van ’n melksuur-bakteriese inokulant gelewer.  

Oor die jare het hy talle nasionale en internasionale kongresse en simposiums bygewoon en referate gelewer, en aktief meegewerk aan internasionale skakeling en medewerking met ander navorsingsinstansies.

Hy was tussen 1990 en 2024 die promotor van 32 MSc- en drie PhD-studente en outeur of mede-outeur van 74 wetenskaplike publikasies. Verder was hy outeur of mede-outeur van 178 voorleggings by wetenskaplike konferensies.

Robin sê hy sien nou uit na aktiwiteite waarvoor daar voorheen nie genoeg tyd was nie. Kamp en reis is hoog op die agenda, en hy wil ook graag leer seil. Wat presies hy gaan doen om sy brein gestimuleer te hou, sê hy, is hy nog nie seker nie.

Ons wens hom alles van die beste toe in hierdie nuwe fase van sy lewe. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg...

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...