Estimated reading time: 6 minutes
Die inheemse struik, kraalbos, is ’n veelsydige plant met ’n veelbesproke geskiedenis van medisinale eienskappe. Ongelukkig taan dié vaalgroen struik se gewildheid redelik vinnig wanneer die gesprek om waterpens begin draai. Waterpens is ’n siektetoestand wat deur die einste kraalbos veroorsaak word.
Veeplaas het met dr Jaco (JP) Pienaar, ’n staatsveearts van die Wes-Kaapse Departement van Landbou by Beaufort-Wes, gesels oor die verband wat tussen kraalbos en waterpens bestaan.
’n Meerjarige, taai vasbyter
Kraalbos, Galenia africana, groei in versteurde gedeeltes soos ou landerye, uitgetrapte dele rondom krale of plekke waar diere saans gekraal word. Die struik is in die proses om van die Suid- en Wes-Kaap na groot dele van die Karoo en Namakwaland uit te brei. In die meeste gevalle is die rede daarvoor agteruitgaande veld en versteurde grond, veral ou lande.
Voorkoms van waterpens
Waterpens kan by bokke en skape voorkom, maar word meestal net in volwasse diere gesien. Dit is, volgens dr Pienaar, ’n aanduiding daarvan dat diere ’n redelike groot hoeveelheid van die kraalbos oor ’n lang tydperk moet inneem voordat sigbare simptome van waterpens verskyn.
“Wanneer skape en bokke te veel kraalbos oor ’n lang tyd inneem,” sê hy, “is die vernaamste fisieke simptoom daarvan ’n uitermatige groot buik. Oormatige vog versamel in die buik – soms tot so ’n mate dat die dier nie meer kan beweeg nie.”
Daar kon nog nie uitsluitsel gevind word oor of waterpens ’n dier se hart aantas, wat dan tot lewerskade lei, en of dit hoofsaaklik ’n lewergif is nie. Dit lyk wel asof die hart aangetas word en tot lewerskade aanleiding gee, omdat sommige diere wat van die gifplant weggehou word en waar vog in die buik uitgetap word, herstel. Wanneer die hart aangetas word, veroorsaak dit ’n opdamming van vog in die liggaam, waarvan die grootste volume in die buikholte versamel.
“Die moeilikheid is dat diere gewoonlik ’n normale eetlus het en op die oog af gesond lyk, behalwe vir ’n erg uitgesette buik wat beweging bemoeilik,” sê dr Pienaar. “Die buik word soms só groot, dat die dier nie genoeg spasie vir kos in die pens het nie, nie meer gemaklik kan beweeg om kos te soek nie en dan ook reeds baie swak is.
“By nadere ondersoek sal ’n mens gewoonlik vind dat so ’n dier al feitlik net vel en been is. As ’n dier in hierdie toestand vrek en die buik oopgesny word, loop daar gewoonlik liters en liters helder vloeistof uit. Die lewer is in baie gevalle donkerder en het ’n redelike harde, knobbelrige voorkoms. Die skade aan die lewer word gewoonlik op die biopsieverslag as kenmerkend van hartversaking aangedui.”
Dit is interessant dat die plant eintlik oor goeie voedingswaarde beskik en slegs skadelik raak as dit die enigste eetbare plant in die omgewing is. Hoewel kraalbos redelik baie gevreet word wanneer dit groen en jonk is, word dit meer onsmaaklik soos dit oud en stokkerig raak. Voorheen is al beweer dat dit giftiger in droë toestande is, maar dat dit ook kan wees dat die giftigheid daarvan dan meer gekonsentreerd in die droë bosse is.
Behandeling en voorkoming
As behandeling kan ’n mens ’n dik trokar of ’n paar 15g-naalde in die middellyn onder die pens van die dier indruk en soveel as moontlik vog aftap, sodat die dier weer goed kan beweeg. Dit is uiters belangrik dat hierdie proses so steriel as moontlik gehou word en dat geen organe binne die dier beskadig word nie.
“Diere moet ook weggehou word van enige verdere toegang tot kraalbos. Die sukses van hierdie prosedures is egter wisselvallig, omdat in baie gevalle reeds te veel skade aangerig is. In sulke gevalle is die aanbeveling om die dier so gou as moontlik te slag,” sê dr Pienaar.
“Voorkoming van hierdie siekte berus uitsluitlik daarop om beter voeding te verskaf, met ekstra lekke en ander byvoeding in dele waar baie kraalbos groei.”
Waterpens en oorbeweiding
Corrie van der Westhuizen boer op die plaas Grootvlei in Namakwaland en vind die vaalgroen, wasagtige kraalbos, wat van Julie tot September blom, nie juis aantreklik nie. Wat hy wel interessant vind, is dat ’n dier wat uit die grasveld van die Boesmanland af daar aankom, die struik vreet en gewoonlik niks daarvan oorkom nie.
As produsent het hy nog nooit vee met waterpens op sy plaas gehad nie en hy is daarvan oortuig dat daar bloot ’n verband tussen waterpens en oorbeweiding, oftewel ’n ongebalanseerde voerrantsoen, is. “Ek glo weidingsbestuur is die deurslaggewende faktor,” sê hy.
“Wanneer daar voldoende kos in die veld en op die lande is, sal ’n dier nie van kraalbos siek raak nie. As jy wel ’n kamp oorbewei en die normale voedingswaarde daarvan begin afneem, sal die diere al hoe meer aan die kraalbos begin vreet, wat die kanse om waterpens op te doen, groter maak.
“Ek kan persoonlik daarvan getuig dat diere ’n land vol kraalbos kaal kan vreet sonder dat hulle iets oorkom. Maar terselfdertyd gee ek ook voldoende voer wat my vee se voedingsinname balanseer. As jy jou skape net lank genoeg in ’n kamp los en daarna skuif, sal jy nie probleme ondervind nie.”
’n Medisinale en inheemse struik
Kraalbos is ’n struik uit die vygiefamilie en inheems aan Suid-Afrika en Namibië. Dit word op die SANBI-rooilys as veilig gelys. Die struik is in die verlede as medisyne vir talle kwale deur die Khoisan aangewend en volgens verskeie wetenskaplike studies, beskik kraalbos oor swamwerende eienskappe wat voordelig vir veltoestande soos psoriase en ekseem kan wees.
Kosmetiese produkte is al uit kraalbos ontwikkel, soos die Namaquagold™ reeks. In 2012 is ’n bioprospekterende permit deur die minister van water en omgewingsake aan Rapitrade 670 (Edms) Bpk vir die Komaggas-gemeenskap, 40km suidwes van Springbok, uitgereik, vir die ontginning en suiwering van die chemiese komponente van kraalbos, waaruit onder meer seep gemaak word.
– Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Jaco Pienaar by
023 414 2154, 082 907 1140 of jacop@elsenburg.com.