HomeAgri NewsKoue front waai droeër weer nader

Koue front waai droeër weer nader

Estimated reading time: 3 minutes

Terwyl die eerste yskoue winterweer Suid-Afrika vandeesweek tref, kan dit goeie nuus vir beide winter- en somergraanproduksie wees.

Onafhanklike weerkundige Johan van den Berg verwag minder reën oor die komende weke in somerreënvalgebiede. Dis positiewe nuus vir produsente wat steeds graan op die lande het. “Produsente sal nou kan oes. Baie van die lande was tot op hede steeds te nat en produsente kon nie stroop nie.”

Die eerste ryp het ook hierdie week in die sentrale en suidelike dele van die land gevorm. “Vanjaar het die ryp twee of drie weke later as gewoonlik voorgekom en ons moet besef dat die winter êrens moes begin,” sê Van den Berg. Hy waarsku dat veral produsente in die Oos-Vrystaat en Oos-Kaap vir ryp en koue gereed moet maak, wat in die komende weke sal voortduur.

Produsente moet ook lig loop vir sterk winde wat tot verhoogde brandgevaar kan lei. “Dis belangrik om nou reeds seker te maak dat die regte brandbestrydingvoorsorg getref word.”

Van den Berg sê hoewel gemiddelde tot ondergemiddelde reën vir die winterreënvalgebied verwag word, word droër weer eers later in die seisoen tussen Julie en September verwag. “Daar was byvoorbeeld reeds goeie neerslae in die wynland gewees.”

Goeie winteroes verwag

Wandile Sihlobo, hoof-ekonoom van Agbiz, sê hoewel weervoorspellings nie 100% akkuraat is nie, bly die bedryf steeds positief dat Suid-Afrika vir ’n goeie winteroes gereed kan maak. “Die bedryf is optimisties dat hulle so 827 970 hektaar wintergewasse in die 2025/26-seisoen kan plant, wat 1% hoër as die vorige seisoen is. Dit bestaan ​​uit koring, gars, kanola, hawer, en soetlupiene.”

Sihlobo sê buiten vir gars word daar verwag dat alle wintergewasse se areas in die komende seisoen sal uitbrei. “Produsente verwag byvoorbeeld om vir die 2025/26-seisoen 513 200 hektaar se koring te plant, wat 2% hoër as die vorige seisoen is.”

Indien die weer sou saamspeel, en ’n oesopbrengs van 3,97 ton per hektaar realiseer – wat in lyn met die land se vyfjaargemiddeld is – kan Suid-Afrika ’n koringoes van 2,04 miljoen ton insamel, sê Sihlobo. “Dis 6% hoër as tydens die vorige seisoen.”

Wat kanola aanbetref beoog produsente om 166 500 hektaar aan te plant, wat 0,5% meer as die vorige seisoen is. Sihlobo sê as vorige jare se data in ag geneem word, kan die land ’n moontlike oes van 1,89 ton per hektaar verwag. Dit beteken dat Suid-Afrika moontlik 314 685 ton kanola vir die komende seisoen kan oes – 9% hoër as die vorige seisoen.

Met betrekking tot hawer, beplan produsente om 34 520 hektaar te plant, wat 11% meer as die 2024/25-seisoen is. “Die toepassing van ‘’n gemiddelde opbrengs van 1,54 ton per hektaar beteken die oes kan 53 161 ton wees – ’n styging van 24%,” sê Sihlobo.

Anders as ander gewasse, beoog produsente egter om garsaanplantings in die komende seisoen met 8% tot 93 050 hektaar te verminder.” As ons ’n vyfjaar gemiddelde opbrengs van 3,58 ton per hektaar op gars toepas, sal ons moontlik ’n oes van 333 119 ton kan realiseer, wat 11% laer as die vorige seisoen is,” sê Sihlobo. – Susan Marais, Plaas Media

Must Read

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the appointment of ten new members to the National Agricultural Marketing Council (NAMC). These members will...