Thursday, November 21, 2024

Kompleksiteit van die in- en uitvoer van rooivleis

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die in- en uitvoer van rooivleis is nie so eenvoudig as wat ’n mens dalk dink nie.
  • Agri Inspec is in 1998 gestig met die doel om onder meer die in- en uitvoer van vleis te monitor en markte te beskerm om regverdige handel te bevorder.Hy sê daar is ’n paar algemene tendense wat gereeld by die in- en uitvoer van rooivleis voorkom, en dit is probleme wat daadwerklik aangepreek word.
  • Die grootste probleme wat met die in- en uitvoer van rooivleis ervaar word, is ondergewaardeerde transaksies, met Suid-Afrika se swak grensbeheer wat een van die groot probleme in die rooivleiswaardeketting is.
  • Van Heerden se raad aan in- en uitvoerders van rooivleis is om eerder binne die wet te bly, aangesien dit jou op die lang duur baie geld gaan spaar.

Die in- en uitvoer van rooivleis is nie so eenvoudig as wat ’n mens dalk dink nie. Omdat rooivleis in verskillende vorms in- en uitgevoer word, is dit ’n komplekse bedryf met genoeg skuiwergate in die handelsketting wat dit maklik maak om belastings en heffings te ontduik. Ongelukkig is daar nie oral genoeg monitering om regverdige handel te verseker nie.

Dit is egter nie net die rooivleisbedryf wat dié probleem ervaar nie. Verskeie landbouprodukte het dieselfde probleme en om die gaping in die waardeketting te vul, is ’n nie-winsgewende organisasie, Agri Inspec, in 1998 gestig met die doel om onder meer die in- en uitvoer van vleis te monitor en markte te beskerm om regverdige handel te bevorder.

Agri Inspec is deur die Roovleisprodusente-organisasie (RPO) gekontrakteer om hierdie monitering te verrig en die twee organisasies werk nou saam om regverdige handel in die hand te werk.

Bertus van Heerden, uitvoerende direkteur van Agri Inspec, vertel dat die maatskappy oor 20 jaar verskeie suksesse op sy kerfstok het. Hul kliënte is hoofsaaklik die georganiseerde landbou en spesifiek produsente-organisasies en bedryfsorganisasies.

Hy sê hierdie organisasies moet landbouers, wat aan die begin van die waardeketting staan, beskerm, want as onwettige of ongeregverdigde transaksies plaasvind, is dit juis die landbouers wat die swaarste getref word. Daarom is dit Agri Inspec se taak om te sorg dat die in- en uitvoer van rooivleis reg en regverdig geskied. Dieselfde geld ook vir handelsmerke soos Karoo-lam wat beskerm moet word.

Kompleksiteit van rooivleis

Van Heerden sê die rooivleisbedryf is kompleks, aangesien soveel verskillende onderafdelings ter sprake is. Dit is waarom na die sogenaamde ‘rooivleiskompleks’ verwys word.

“Ons praat nie net van skape, beeste, en bokke nie, maar ook van lewende hawe uit elke spesie, karkasse, halwe karkasse, ontbeende vleis, vleissnitte, vars vleis, bevrore vleis, en dies meer. Elk van hierdie onderafdelings het ’n spesifieke stel reëls wat nagekom moet word en daardie reëls kan maklik gebuig word as daar nie genoeg monitering plaasvind nie,” sê hy.

Algemene probleme

Hy sê daar is ’n paar algemene tendense wat gereeld by die in- en uitvoer van rooivleis voorkom, en dit is probleme wat daadwerklik aangepreek word.

Sekere aktiwiteite wat as bedrog met betrekking tot vleisinvoere beskou word, is:

  • Die waarde van die produk word onderverklaar.
  • Die volume van die produk word onderverklaar.
  • Die tipe produk se land van oorsprong word vals verklaar.
  • Die land waarheen uitgevoer word, word vals verklaar.
  • Die produk as sulks word ook soms vals verklaar.

“Handelaars lê soms hierdie vals verklarings af of pleeg bedrog om die heffing wat op die produk betaalbaar is te omseil of die bedrag laer te maak. In die meeste gevalle is BTW ook betrokke en verskeie rolspelers probeer om dit ook te omseil. Dit is die twee hoofmotiewe,” verduidelik hy.

Invoer van rooivleis

’n Redelike groot hoeveelheid vleis word in verskillende vorms ingevoer. “Op ’n maandelikse basis beloop die waarde van die totale invoer van rooivleis sowat R400 miljoen – gemiddeld 530 transaksies per maand. Die volume is sowat 8 200 ton vleis plus sowat 25 000 speenkalwers wat elke maand ingevoer word.”

Volgens rekords van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is 2 784 ton beesvleis in Junie ingevoer. Dit verteenwoordig ’n toename van 27% teenoor Junie 2023. Die vry-aan-boord-prys vir Junie 2024 was R45,48/kg, wat ’n afname van 7% in prys per kg verteenwoordig indien dit met Junie 2023 vergelyk word. Die meeste invoere, 328 ton, was vanuit Namibië. Altesaam 25 043 lewende speenkalwers is in Junie 2024 ingevoer, wat 5% minder is as in Junie 2023. Die prys was R6 921,21 per kalf, wat 7% hoër is as in Junie 2023.

In Junie 2024 is 650 ton skaapvleis ingevoer – ’n styging van 180% teenoor Junie 2023. Die vry-aan-boord-prys was R30,25/kg, wat 17% laer is as in Junie 2023. Die meeste skaapvleis is uit Australië (370 ton) ingevoer. In Junie 2024 is 75 252 lewende skape ingevoer. Dit is 4% meer as in Junie 2023. Die prys was R1 150,20 per skaap, wat 6% laer is as Junie 2023 se prys. Die meeste skape, altesaam 75 151, is uit Namibië ingevoer.

Bedenklike transaksies

Van Heerden sê Agri Inspec het sedert 2023 reeds ’n hele aantal transaksies van ingevoerde rooivleis geïdentifiseer, waarvan die prys heeltemal te laag was. Dit het die rooiligte laat flikker en Agri Inspec het, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) en Doeane en Aksyns, ’n projek geregistreer om hierdie invoer in meer detail te ontleed.

In sulke gevalle word eers bepaal watter produkte betrokke is voordat ’n forensiese ondersoek gedoen word. Indien hulle vind dat daar moontlike ongerymdhede is, word die saak aan ’n spesiale afdeling van SARS oorhandig vir verdere hantering.

“Hierdie diens wat ons verrig, is daarop gerig om regverdige handel te bevorder en uiteindelik die produsent en sy georganiseerde produsente-organisasies te beskerm. Hoewel ons nie wetgewende magte het nie, werk ons baie nou saam met die owerhede om toe te sien dat almal in die transaksie beskerm word.”

Hy sê hulle het nog nie baie werk rakende die uitvoer van rooivleis gedoen nie, maar dieselfde beginsels wat vir invoer geld, sal vir uitvoer ook geld. Die RPO doen baie moeite om die rooivleis-uitvoermark te stimuleer en uit te brei. Gevolglik word heelwat vleis reeds uitgevoer.

Volgens hul inligting was die lande wat in 2023 die meeste rooivleis uit Suid-Afrika ingevoer het, Koeweit, die Arabiese Emirate en Jordanië. “In die eerste ses maande van 2024 was dit steeds hierdie lande, en China het in groot getalle vleis uit Suid-Afrika ingevoer. In die eerste ses maande van die jaar is 23 300 ton vleis uitgevoer. Na verwagting kan dit teen die einde van die jaar op sowat 50 000 ton te staan kom. Dit is sowat vier ton per maand – volgens ons rekords die beste uitvoervolume in die 20 jaar van Agri Inspec se bestaan.”  

Probleme in rooivleishandel

Die grootste probleme wat met die in- en uitvoer van rooivleis ervaar word, is ondergewaardeerde transaksies, met Suid-Afrika se swak grensbeheer wat een van die groot probleme in die rooivleiswaardeketting is.

“Die land het omtrent 80 grensposte wat nie ewe goed beman en bestuur word nie. Die swak grense bied produsente en spekulante uit buurlande ’n gulde geleentheid om oor die grens te stap en vleis in te bring of uit te neem, sonder dat ’n haan daarna kraai. In dieselfde proses kom siektes ongekontroleerd die land in.”

Invoerprodukte wat nie korrek verklaar word nie, is ook ’n probleem. Sommige produkte is nie onderhewig aan heffings nie, en dit gebeur dikwels dat produkte opsetlik verkeerd verklaar word met die doel om heffings te ontduik.   

Daar bestaan veral in die uitvoerbedryf ideale geleenthede vir die rooivleisbedryf, maar ongelukkig is daar ook heelwat kansvatters in die waardeketting wat ’n paar rand ekstra wil maak en in die proses die handelstransaksie kelder. Van Heerden se raad aan in- en uitvoerders van rooivleis is om eerder binne die wet te bly, aangesien dit jou op die lang duur baie geld gaan spaar.

Hulle poog om met die regering te onderhandel om die grensposte te verbeter, om sodoende onnodige diere uit die land te hou en daarmee saam onnodige siekes ook buite die landsgrense te hou.

Vir meer inligting, skakel Bertus van Heerden van Agri Inspec by 083 300 3667. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Popular stories