Monday, February 3, 2025

Klimaatslim-ambassadeur deel sy wenke met medeboere

Estimated reading time: 7 minutes

Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek wat jaarliks deur Plaas Media aangebied word, trek baie aandag. Veeprodusente raak toenemend bewus van die belangrikheid om klimaatslim te boer en woon graag die jaarlikse boeredae by waar die nuutste ambassadeur en ander sprekers hierdie tema aanspreek.

Vanjaar is die kompetisie deur Charl Saunderson gewen, en as deel van sy prys het hy ’n boeredag op sy plaas, Nooitgedacht, in die Kenhardt-omgewing aangebied. Die dag is deur sowat 100 produsente bygewoon. Dr Louis du Pisani, ’n bekende weidingkundige en een van die beoordelaars is, was die programleier op die boeredag.

Ontwikkeling kan ontwrig

Dr du Pisani het gesê hy herinner produsente altyd daaraan dat ontwrigtende gebeurtenisse deur die loop van die geskiedenis, en veral vandag, bestaande bedrywe radikaal verander en ontwrig. Die Covid-19-pandemie was ’n voorbeeld daarvan. Nog ‘n voorbeeld is die goeie foto’s wat selfone neem, ‘n proses wat Kodak en Fuji totaal ontwrig het.

Die veranderende klimaat in Suid-Afrika en Afrika ontwrig veeprodusente en dwing sommige om hul besighede te staak. Klimaatsverandering word deur hoër temperature, ‘n toename in uiterste weerpatrone, en ‘n toename in CO2 en bosverdigting veroorsaak. Die gevolge van hoër temperature is hittestres met gevolglike swakker voerinname en dalende reproduksie, asook ’n geografiese verskuiwing van siektes.

Die invloed van hoër temperature op die veld is dat plante nie meer fotosinteer nie en meer vog verdamp. Meer hitte-eenhede is egter ook ‘n positiewe verskynsel, omdat dit meer water bring. Dit is egter so dat reënval toenemend geken word aan meer en intenser donderstorms, nat tydperke wat natter word, en droë tydperke wat droër word. Produsente wat nie by hierdie omstandighede wil of kan aanpas nie, moet ag slaan op ’n aanhaling van Jack Welch, voormalige uitvoerende hoof van General Electric: “As die verandering binne jou besigheid stadiger is as die veranderings daarbuite, dan is die einde naby.”

Dr du Pisani het Plaas Media bedank vir die Klimaatslim-inisiatief wat daarop gemik is om produsente se houding van reaktief na pro-aktief te swaai. Die projek identifiseer produsente wat reeds klimaatslim boer en bereid is om hul suksesse met ander produsente te deel.

Elke druppel reënwater moet behoue bly. Charl en dr Du Pisani wys hoe ploegvore reënwater kan opvang en die kanse op veldverbetering soveel groter maak.

Verbetering kom ‘n lang pad

Charl is ’n geesdriftige produsent wat veldverbetering beskou as een van die noodsaaklike pilare waarop ’n suksesvolle veeboerdery staan. In sy aanbieding het hy gesê sy oupa en pa het met veldverbetering begin en hy kon dus ’n ‘skoon’ plaas erf. Om egter indringerbosse en -bome te verwyder is nie ‘n eenmalige stryd nie. “Dit is ’n lewenslange stryd, maar as jy eers die resultate begin sien, raak dit verslawend om te sien hoe jy die plaas kan verbeter.”

Daar is nie net een manier om die veld te verbeter nie, daar is altyd nog iets wat jy kan doen om jou drakrag te verhoog, het hy gesê. Sy doelwit is om die plaas verder te verbeter, sodat sy nageslag ook volhoubaar kan boer. Hy het by sy pa geleer hoe bevredigend dit is om jou plaas se drakrag stukkie vir stukkie te verhoog en wanneer droogtes toeslaan, gereed te wees om dit teen te staan.

Veldverbetering behels meer as een manier om klimaatslim te boer. Een daarvan is om ploegvore op die kaal kolle op die plaas te maak en saad in te saai. Dit was ’n projek wat sy pa lank terug al aangepak het. Hy sit die proses voort en konsentreer ook op die skraal kolle waar hy die veld nog beter kan kry.

Hy het onder meer ook ’n stinkdam waarin dooie diere gegooi word. Elke jaar of twee word die inhoud aan die brand gesteek, en die as en beenmeel word dan saam met kraalmis gebruik as ’n kunsmis vir die grassaad wat hy insaai. Hierdie saad versamel hy van ander nuttige plante op die plaas en wanneer hy dit in die ploegvoere strooi, word die selfgemaakte kunsmis bygevoeg om die saad ’n hupstoot te gee. Hierdie metode lewer tot dusver uitstekende resultate.

Charl en Isabel Saunderson is baie trots op die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-toekenning wat hy ontvang het.

Skape wat bome ‘plant’

Charl het ook kameeldoringboompeule gekoop wat hy saam met voer vir sy Dorperskape meng. Op dié manier help die skape hom om kameeldoringbome op die plaas te ‘plant’.

Veldverbetering is egter nie die enigste pilaar waarop volhoubare boerdery staan nie. Die produsent moet ook die genetika van sy/haar kudde verbeter. Hy pas ’n streng ooi- en ramseleksiebeleid toe, en ooie wat nie hul deel doen nie, word uit die kudde verwyder. “Op ’n plaas in die Boesmanland het ons eenvoudig nie plek vir passasiers nie.”

Nog ’n pilaar van sy boerdery is behoorlike predasiebestuur. “Ek kan nie bekostig om ‘n enkele lam af te staan nie. Daarom het ek my drade geëlektrifiseer en maak ek die predatore op die plaas van kant.”

Sy raad aan medeprodusente was eenvoudig: “Maak gereed vir die onvermydelike. Klimaatsverandering is iets waaraan geen produsent iets kan doen nie, maar die onvermydelike kan beter bestuur word sodat die droogte of risiko ‘sagter’ op jou plaas land. Daarom moet ’n mens ’n langtermynplan ook in plek hê.”

Om dit te doen, sorg hy vir die volgende:

  • Verbeter jou grond se waterhouvermoë en behou elke moontlike druppel reënwater.
  • Verbeter grondgesondheid en veld deur indringers, swak produseerders en watergebruikers te verwyder.
  • Volg dit op deur weidae korrek te bereken en die veld só te benut, dat dit verbeter. Dit doen hy deur stelsels van drie of vier kampe te gebruik om rus- en hersteltye moontlik te maak.
  • Vergroot jou kudde soos die drakrag van die veld verbeter.
  • Verbeter die kudde deur goeie teling en seleksie.
  • Infrastruktuur moet voortdurend opgegradeer word om bestuur voortdurend te optimaliseer.
  • Berei elke jaar voor asof ’n droogte gaan aanbreek.

Charl sê produsente moet nie verskonings uitdink vir waarom hulle nie sekere praktyke wil toepas nie. Hulle moet eerder redes vind waarom die plaas verbeter kan word en hulle volhoubaar kan boer.

Nedbank is een van die borge wat van jaar een af by die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek betrokke is. Hier wens Daneel Rossouw, Nedbank se hoof van landbou, Charl geluk met sy prestasie.

Voorkoming is beter as genesing

Neels Brits, ’n verteenwoordiger van Zoetis, een van die projekborge, het met produsente gesels oor dieresiektes wat hand-aan-hand met klimaatsverandering loop. Hy het gesê dit is veral longsiektes, soos pasteurella, wat gedy as gevolg van klimaatsverandering, juis omdat dit een dag koud en die volgende dag warm is.

Voorkoming is beter as genesing, was sy hoofboodskap. “Daar is uitstekende middels op die mark wat gebruik kan word om hierdie siektes te voorkom en die voorkomingsaksies kos uiteindelik baie minder as om ’n paar lammers per jaar te verloor.”

Neels Brits, senior professionele verkoopsverteenwoordiger van Zoetis, wens Charl met sy toekenning geluk.

Om te kyk na die video oor Charl se boeredag, volg die skakel: https://youtu.be/zWa4e8eB2x4?si=XTYHrm9bi6EZT6T4

Vir meer inligting oor sy boerdery en praktyke, skakel Charl Saunderson by 082 414 6146. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 27 tot 31 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...

LandbouRadio: 3 Februarie 2025

Welkom by 'n splinternuwe LandbouRadio met 'n effense ander baadjie aan. Ons groet vandag ons jarelange omroeper, Gerda le Roux. Aanbieder LiMari gesels met haar oor haar LandbouRadio-reis. Luisteraars kan ook uitsien na die...

RSG Landbou: 3 Februarie 2025 – geborg deur Plaas Media

Senwes het in Januarie aangekondig dat Debbie Bester vanaf 1 April die leisels as uitvoerende hoof van dié landboumaatskappy by Francois Strydom sal oorneem. Ons vind meer uit oor haar loopbaan in landbou. Staatsbeheerde siektes...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie kleinhandelpryse is nie, maar wel plaashekpryse wat BTW uitsluit. Get the...

A New Era of Mobility: Say Hello to Flexibility with KINTO ONE

Estimated reading time: 3 minutes Imagine the freedom of subscribing to your favourite music, movies, or even gym services. Toyota has introduced this concept to mobility with its innovative KINTO ONE subscription platform. Say hello...