Estimated reading time: 5 minutes
- Metritis is inflammasie van die baarmoeder en kom voor as metritis en/of endometritis.
- Die mees algemene oorsaak van beide metritis en endometritis by ’n melkkoei is ’n bakteriese infeksie wat opgedoen word ná sy gekalf het, wanneer haar serviks nog oop is.
- Daar is verskillende opsies as behandeling vir endometritis.
- Vir metritis, is die behandeling om die koei met ’n sistemiese/inspuitbare antibiotika gekombineer met anti-inflammatoriese middels te behandel.
- Voorkoming is meer ekonomies as om siek diere te behandel.
Metritis is inflammasie van die baarmoeder. Daar moet egter ’n onderskeid getref word tussen metritis en endometritis, sê dr Riaan Putter, ’n veearts van George wat hoofsaaklik op melkkuddes fokus.
“Endometritis,” verduidelik hy, “is inflammasie van die binneste gedeeltes van die baarmoeder, ook bekend as die endometrium, en daar word tipies na so ’n koei as ’n ‘vuil’ koei verwys. Nadat sy gekalf het, sal hierdie koei ’n afskeiding hê. Sy is nie siek nie en het gewoonlik nie koors nie.
“Daarteenoor is metritis ’n infeksie en ontsteking van die hele baarmoederwand. Sulke koeie is gewoonlik siek, koorsig en het ’n ernstige, onwelriekende afskeiding. Waar ’n spoel van die baarmoeder endometritis gewoonlik sal genees, is dit nie voldoende om metritis te genees nie. So ’n koei moet ook antibiotika en anti-inflammatoriese middels ontvang.”
Lees meer oor hierdie Oos-Kaapse Hooglande veeboer hier.
Endometritis
Die mees algemene oorsaak van beide metritis en endometritis by ’n melkkoei is ’n bakteriese infeksie wat opgedoen word ná sy gekalf het, wanneer haar serviks nog oop is. Omdat koeie met endometritis nie noodwendig siek vertoon nie is dit maklik om die toestand te mis. Sommige koeie het só ’n ligte graad van infeksie, dat daar baie min uitskeiding is.
“Wat behandeling van endometritis betref,” sê hy, “is daar verskillende opsies – van spoeling van die koei se baarmoeder met ’n jodiumoplossing, tot antibiotiese steekpille wat ingesit word. Daar is verskillende voorkeure van behandeling. Sommige veeartse gebruik ook prostaglandien vir koeie met ‘n funksionele corpus luteum om hulle op hitte te bring. Wanneer so ’n koei op hitte kom, maak sy haarself gewoonlik van ’n oppervlakkige infeksie skoon.”
Metritis
By metritis is die hele baarmoeder ontsteek en gewoonlik baie groot geswel. Om so ’n vergrote baarmoeder met iets soos ’n jodiumoplossing te probeer uitspoel, is haas onmoontlik. ’n Mens sou ’n groot volume vloeistof nodig hê, sê hy, maar dit sal ook net die interne voering van die baarmoeder behandel.
“Vir metritis behandel ons dus die koei met ’n sistemiese (inspuitbare) antibiotika gekombineer met anti-inflammatoriese middels, want sy verkeer in pyn en is koorsig. Sy is werklik siek.”
By antibiotikabehandeling is ’n onttrekkingstydperk gewoonlik ’n vereiste. “Gelukkig is daar deesdae antibiotikamiddels wat geen melkonttrekkingstydperk vereis nie, want die implikasies van melkonttrekking is natuurlik een van die newe-effekte van antibiotiese behandeling.”
Omdat die koeie gewoonlik vars in melk is, is dit veral ’n groot voordeel as melkonttrekking nie ’n vereiste is nie.
Lees meer oor ‘n bobaas hawerkuilvoermaker hier.
Voorkomingsmaatreëls
Voorkoming is meer ekonomies as om siek diere te behandel. Daarom moet seker gemaak word dat alles in plek is om metritis sover as moontlik te beperk. Dit begin by droëkoeibestuur en -voeding.
“Vitamien- en mineraalbalanse moet optimaal wees vóór kalf. Dit is veral vitamien E en selenium wat hier ter sprake is om ’n gesonde baarmoederomgewing te bevorder en om dit vir die koei makliker te maak om van haar plasenta ontslae te raak. Wanneer die selenium- en vitamien E-vlakke laag is, is die koei se immuunvlakke laag en verhoog dit die kans dat sy haar nageboorte sal terughou. Sodoende neem die risiko vir metritis of endometritis drasties toe.”
Koeie wat moeilik kalf, veral as die kalf getrek moet word, het ook ’n baie groter kans om infeksie op te doen. Dit is goeie praktyk om in sulke gevalle by voorbaat ’n steekpil in te sit om die risiko van infeksie te verlaag.
“Die omgewing waar die koeie kalf, speel ook ’n rol. In ’n volvoerstelsel, waar die koeie in ’n kleinerige area kalf en dit dalk redelik modderig is, is die kanse vir infeksie baie groter as waar koeie op grasweidings kalf.”
Juis omdat endometritis maklik oorgesien kan word, sê hy, is dit goeie praktyk om iewers tussen tien en 25 dae ná die koei gekalf het, ’n inwendige ondersoek te doen om seker te maak dat daar nie ’n laegraadse infeksie is nie. Dit kan ook gepaard gaan met ‘n inwendige spekulum-ondersoek waar veral gekyk word of daar nie enige uitloopsels vanuit die baarmoeder is nie. So ’n infeksie kan lank in die baarmoeder bly en verhoed dat die koei weer op hitte kom of dragtig raak. So word haar tussenkalfperiode (TKP) onnodig negatief beïnvloed. Selfs ’n laegraadse geval van endometritis benadeel haar vrugbaarheid oor die lang termyn.
Prognose
Die prognose vir endometritis is goed en dit is relatief maklik om te behandel. Metritis, wat die hele baarmoeder affekteer, het ook ’n goeie prognose, maar kan tot vrektes lei indien dit onbehandeld bly. Ongelukkig het beide endometritis en metritis ’n negatiewe korrelasie met vrugbaarheid. TKP word dikwels verleng met enigiets van twee weke tot twee maande.
Om endometritis en metritis uit die melkkudde te hou, moet die volgende aspekte prioriteit geniet:
- Optimale voeding vóór kalf.
- Voldoende vitamien E- en seleniumvlakke.
- Goeie higiëne tydens kalwing.
- Voorkomende behandeling van koeie wat moeilik gekalf het.
- Opvolgondersoeke ná kalwing.
- Observasie van varskoeie vir die eerste drie weke ná kalwing. – Izak Hofmeyr, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Riaan Putter by 083 379 8623.