Estimated reading time: 8 minutes
- Die keuse van speenouderdom is ’n belangrike bestuursbesluit in koei-kalfproduksiestelsels.
- Geskikte speenstrategieë kan produksie en reproduktiewe doeltreffendheid verbeter.
- In Suid-Afrika word kalwers algemeen op die ouderdom van ongeveer sewe maande gespeen.
- Vroegspeen behels dat kalwers tussen 60 en 150 dae gespeen word.
- Vroegspeen word toegepas op jonger verse wat vroeër gedek is, wat beteken dat hulle reeds op 28 maande begin kalf.
Die keuse van speenouderdom is ’n belangrike bestuursbesluit in koei-kalfproduksiestelsels. Dit beïnvloed die kalwers se onmiddellike produktiwiteit sowel as die langtermyn volhoubaarheid van beesbedrywighede – waaronder voerdoeltreffendheid, koeie se herstel, reproduksietempo en beskikbare hulpbronne, wat weens druk van klimaatsverandering en markvereistes al hoe belangriker word.
Geskikte speenstrategieë kan produksie en reproduktiewe doeltreffendheid verbeter, en sodoende bydra tot voedselsekuriteit deur stabiele beesvleiskettings te bevorder. Terselfdertyd ondersteun gepaste speenpraktyke die doeltreffende gebruik van weiding, grond en water – veral tydens droogtes. Aangesien speenpraktyke koei-kalfproduktiwiteit en veerkragtigheid beïnvloed, moet produsente hierdie besluit goed verstaan en aanpas.
Faktore wat speentyd beïnvloed
Verskeie faktore moet in ag geneem word wanneer die ideale speenouderdom bepaal word. In ’n onlangse studie deur die Universiteit van die Vrystaat, is die Delphi-metode gebruik om veekundiges in Suid-Afrika en Argentinië se insae te kry oor die faktore wat speentyd beïnvloed. Dit het gelei tot ’n speenbesluit-ondersteuningsraamwerk waarin die mees algemene produksie- en finansiële faktore wat tot optimale speentyd bydra, geïdentifiseer is (Figuur 1).
Figuur 1: Produksie- en finansiële faktore wat optimale speenproduksie beïnvloed.

Die raamwerk (Figuur 1) is in twee hoofkategorieë verdeel: produksiefaktore en finansiële faktore, wat beide tot die bepaling van die optimale speenouderdom bydra. Produksiefaktore sluit veranderlikes in wat verband hou met biologiese doeltreffendheid, omgewingstoestande en kuddebestuur (soos voerkraalafronding), herbesetting, ouderdom van die koei by kalwing, die kalf se daaglikse groei, drakrag en veldtipe. Hierdie faktore het ’n impak op die kalf se groei, die koei se herstel, en die algehele prestasie van die kudde.
Finansiële faktore fokus op ekonomiese oorwegings, waaronder kalfverkope, uitskotkoeiverkope, arbeidskoste vir kalfgrootmaak, voerkoste, medikasiekoste en kontantvloeibehoeftes. Hierdie aspekte beïnvloed die winsgewendheid en volhoubaarheid van speenstrategieë. In die middel van die illustrasie word ’n produsent uitgebeeld wat die speenouderdom van kalwers oorweeg en is ’n simboliese voorstelling van die kompleksiteit van die besluitnemingsproses.
Die vraagtekens in die raamwerk verteenwoordig die interaksie en onsekerheid tussen die faktore, en illustreer hoe Suid-Afrikaanse beesprodusente beide produktiwiteit en finansiële lewensvatbaarheid moet balanseer om die optimale speenouderdom vir hul koei-kalfbedrywighede te bepaal, soos in hierdie studie bevestig. Die raamwerk erken dat daar nie ’n universeel optimale speenouderdom bestaan nie. Inteendeel, besluite moet geneem word met inagneming van plaasspesifieke produksie-, finansiële en ekologiese omstandighede.
Die raamwerk dien ook nie as ’n vaste besluitnemingsinstrument nie, maar eerder as ’n riglyn wat beesprodusente bemagtig om hul speenstrategieë aan te pas volgens hul klimaats-, finansiële en operasionele beperkings.
Speenpraktyke in Suid-Afrika
In Suid-Afrika word kalwers algemeen op die ouderdom van ongeveer sewe maande gespeen, met ’n liggaamsmassa van tussen 180 en 240kg. Hierdie kalwers ontvang selde addisionele voeding en word direk vanaf die veld aan veilings en voerkrale bemark. Aangesien koeie tussen drie en vier maande na kalwing weer gedek word, is hul voedingsbehoefte redelik hoog gedurende dié tydperk.
Die koei moet nie net voldoende energie hê om genoeg melk te produseer nie, maar haar kondisietelling moet ook verkieslik in ’n opwaartse tendens wees om herbesetting te verseker. Hoewel natuurlike weiding met ’n goeie lek in gunstige jare dikwels voldoende is, moet byvoeding egter voorsien word in swak jare om goeie kalfgroei en besetting te verseker – wat die voerkoste van die kudde aansienlik beïnvloed.
Alternatiewe praktyke
Vroegspeen is ’n praktyk wat nog nie wyd in Suid-Afrika toegepas word nie, maar internasionaal reeds goed nagevors is en met groot sukses gebruik word. Vroegspeen behels dat kalwers tussen 60 en 150 dae gespeen word, pleks van die tradisionele ouderdom van 205 tot 210 dae. Hierdie praktyk gaan met goeie kruipvoer of kalfgroeivoeding gepaard, wat help dat die kalwers se rumens vinniger aanpas, hulle vinniger groei en minder melk nodig het.
Navorsing toon dat vroegspeen verskeie voordele inhou. Koeie se besetting verbeter na die tweede speensiklus, danksy die langer rustyd. Daarbenewens verminder die natuurlike weiding wat benut word en meer koeie wat dus aangehou kan word. ’n Verdere voordeel is dat vroeggedekte verse van 14 tot 15 maande oud, beter herstel.
Kalwers wat vroeg gespeen word lewer ook beter prestasie in die voerkraal, omdat jonger diere ’n beter voeromsetverhouding het. Daarby behoort kalwers ook premies te verdien wanneer hulle verkoop word. Laastens dra vroegspeen by tot ’n groter aantal gespeende kalwers, met meer vroulike diere wat beskikbaar is vir aanhou of kommersiële verspreiding.
Die vroegspeenpraktyk op Arcadia
Die Universiteit van die Vrystaat het die raamwerk ook gebruik om te bepaal hoe die produktiewe uitkoms van koei-kalfstelsels deur speen beïnvloed word. Die studie is op die AG Bonsmara-stoet van Arthur de Villiers op die plaas Arcadia in die Vrede-omgewing uitgevoer. De Villiers pas vir dekades al die vroegspeenmetode toe en rapporteer uitstekende resultate.
Die studie het bevind dat vroegspeen van kalwers (60 tot 90 dae) veral doeltreffend is by eerstekalfverse wat op die ouderdom van 14 tot 15 maande gedek is. Op Arcadia word al hierdie verse se kalwers tussen die ouderdom van 60 en 90 dae gespeen. Dit ondersteun die reproduktiewe en ontwikkelingsuitkomste van die verse.
Vroegspeen ondersteun nie net eerstekalfverse se groei nie; waarnemings toon dat die praktyk hul herbesetting aansienlik aanhelp. Die hormoon, oksitosien, speel ‘n belangrike rol in verse en koeie se melkafskeiding en moederlike gedrag, en hoe hulle by veranderinge aanpas. Eerstens bevorder oksitosien die herstel van die baarmoeder na kalwing, wat help dat die reproduksiesiklus vinniger herstel en herbesetting moontlik maak. As ’n ‘bindings- en trooshormoon’, verminder oksitosien ook spanning en bevorder rustigheid, wat gesondheid en voeropname verbeter.
Vroegspeen lei verder tot verlaagde melkproduksie weens minder oksitosienstimulasie, wat die metaboliese las van laktasie verlig en jong verse help om te groei en vir dekking voor te berei. Op Arcadia het hierdie praktyk, waar verse op tweejarige ouderdom reeds kalwers grootmaak, AG Bonsmaras se algehele kuddegetalle aansienlik laat toeneem, ten spyte van normale kudde-erosie as gevolg van vrektes, swak prestasie en verkope.
Tabel 1 toon die kudde se groei oor nege jaar, gebaseer op die aanname van ’n aanvangskudde van 50 verse, met ’n speenpersentasie van 90%, waarvan 50% vroulike kalwers is. Die verskil in kuddegrootte tussen twee speenouderdomme vir eerste kalwing is opvallend.
Tabel 1: Kuddegroei oor nege jaar as verse op twee jaar begin kalf.
| Kuddegroei | Kalf op twee jaar | Kalf op drie jaar |
| Jaar 2 | 50 | 0 |
| Jaar 3 | 50 | 50 |
| Jaar 4 | 73 | 50 |
| Jaar 5 | 95 | 50 |
| Jaar 6 | 128 | 73 |
| Jaar 7 | 170 | 95 |
| Jaar 8 | 228 | 118 |
| Jaar 9 | 304 | 150 |
Voerpraktyke
Op Arcadia ontvang kalwers vanaf ouderdom 90 tot 205 dae ‘n gebalanseerde kalfgroeivoerrantsoen saam met natuurlike weiding. Die voer word vir ongeveer 115 dae na speentyd gegee. Kalfgroeimeel word ad libitum (vrylik beskikbaar) gegee en geleidelik verhoog om aan die kalwers se onderhouds- en groeibehoeftes te voldoen.
Die gemiddelde inname van kalfgroeivoer vir vroeggespeende kalwers was sowat 4kg/dag/kalf. In teenstelling hiermee word konvensioneel-gespeende kalwers (nie-eerstekalfverse se kalwers) toegelaat om tot op ouderdom 205 dae melk te drink. Tabel 2 toon belangrike produksieverskille tussen die twee stelsels.
Tabel 2: Produktiwiteit van koei-kalfpare in vroeë en konvensionele stelsels op Arcadia.
| Speenpraktyk | ||
| Produktiewe faktore (gemiddeld) | Vroegspeen | Konvensioneel |
| Kalf se geboortegewig (kg) | 28 | 33 |
| Moeder se gewig by kalwing (kg) | 380 | 481 |
| Koei-kalfgeboorteverhouding | 7 | 8 |
| Moeder se ouderdom by kalwing (maande) | 28 | 37 |
| Moeder se TKP (dae) | 347 | 419 |
| Kalfgewig op dag 90 (kg) | 102 | – |
| Kalf-GDT op dag 90 (g/dag) | 745 | – |
| Kalfgewig op dag 205 (kg) | 210 | 237 |
| Kalf-GDT op dag 205 (g/dag) | 890 | 992 |
Die data toon dat vroegspeen duidelike voordele vir reproduksiedoeltreffendheid inhou, met ’n korter tussenkalfperiode of TKP (347 dae teenoor 419 dae) wat die rol van oksitosienvrystelling by moeders van vroeggespeende kalwers beklemtoon. Verder was eerstekalfverse met ’n gemiddelde gewig van 380kg ligter as tweedekalfkoeie (481kg). ’n Laer koei-kalfgeboorteverhouding (7:1 teenoor 8:1) is ook waargeneem, wat dui op beter produksiedoeltreffendheid – dit is veral belangrik vir die voorkoming van distokie by eerstekalfverse.
Vroegspeen word toegepas op jonger verse wat vroeër gedek is, wat beteken dat hulle reeds op 28 maande begin kalf. Teen dag 90 het vroegspeenkalwers reeds 102kg geweeg en vaste voer (kalfgroeimeel) begin eet, en ’n goeie gemiddelde daaglikse toename (GDT) van 890g/dag teen dag 205 getoon. Die konvensionele speenstelsel het egter beter kalfgroeiresultate opgelewer: ’n hoër geboortegewig (33 teenoor 28kg), beter speengewig teen dag 205 (237 teenoor 210kg), en algehele hoër GDT van 992g/dag.
Hierdie vroeggespeende kalwers behoort ‘n pryspremie te genereer. Dit is voordelig vir voerkrale, omdat die kalwers reeds vir die voerkraalmark gekondisioneer is (rumens en medisinaal). Die resultate bevestig dat vroegspeen die reproduksieherstel van jong koeie bevorder en dat die keuse van speentyd afhanklik is van die produsent se prioriteite, hetsy kuddedoeltreffendheid of kalfprestasie.
Ten slotte
Dit is moeilik om presiese produksie- en finansiële vooruitskattings te maak deur vroegspeen met normale speentyd te vergelyk, aangesien die betrokke faktore tussen produsente verskil. Hierdie praktyk bied wel goeie voordele, maar dit hang van baie faktore af, soos in Figuur 1 aangedui. Produsente moet steeds objektief bly oor optimale speenpraktyke ten einde uitstekende produktiewe uitsette oor die langtermyn te realiseer. – Brent Jammer, Arthur de Villiers, dr WA Lombard en prof Henry Jordaan
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan Brent Jammer by JammerBD@ufs.ac.za of Arthur de Villiers by amdev@zippnorth.co.za





