Thursday, November 7, 2024
HomeAgri NewsJeugskou-afslaers slaan die bod toe!

Jeugskou-afslaers slaan die bod toe!

-

Estimated reading time: 3 minutes

Plaas Media se Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaerskompetisie is vanjaar vir die derde keer in samewerking met die Nasionale Landboujeugvereniging aangebied. Die finaal van vanjaar se kompetisie het van 23 tot 25 September 2024 in Middelburg tydens die nasionale jeugskoukampioenskap plaasgevind. Die kompetisie is in 2022 van stapel gestuur om leerlinge die geleentheid te bied om meer oor die afslaersberoep te leer en terselfdertyd hulle afslaersvernuf te verfyn. Die jeugskou is die perfekte platform hiervoor.

Soos met die ander jeugskoukategorieë, neem leerlinge deur die loop van die jaar op provinsiale vlak deel om hul plek by die nasionale jeugskoukampioenskap te verseker. Net soos in ander kategorieë, skryf die jong afslaers ook ’n toets en word hulle skoumanskap in die ring getoets. Daarna word die in-die-ringwenners en die algehele nasionale wenners aangekondig.

Die finaal

Altesaam 19 leerlinge het vanjaar in die junior en senior skoumanklasse aan die finaal van Plaas Media se Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaerskompetisie deelgeneem. Nadat hulle die toets geskryf en opleiding by die twee beoordelaars ontvang het, het die deelnemers drie praktiese rondtes afgelê. Die beoordelaars by vanjaar se finaal was Flip Jansen, vryskutafslaer, en Mollie Mentz van BKB.

Die beoordelaars was, van links, Flip Jansen en Mollie Mentz.

In elk van die rondtes het die deelnemers die geleentheid gehad om twee keer op te veil. In rondte een het hulle ’n hoender opgeveil, in rondte twee ’n skaap, en in rondte drie ’n bees. Die verskillende spesies is gebruik om die leerlinge se algehele kennis van lewendehawe te toets. Die beoordelaars het ook vir die leerlinge spesifieke eienskappe oor elk van die diere uitgelig waarop hulle in hul opening/aanslag klem moes plaas, soos in ’n regte veiling.  

Die junior in-die-ring wenners was Siphesihle Mbhele van KwaZulu-Natal (eerste), Johan Dames van Gauteng (tweede), en Mayimlonde Nxasame van KwaZulu-Natal (derde).

  • Siphesihle Mbhele.

Die senior in-die-ring-wenners was MG Hattingh van Noordwes-Noord (eerste), Nelius Nortjé van Namakwaland (tweede), Noah Manning van KwaZulu-Natal (derde), Ntobeko Mkhwanazi van KwaZulu-Natal (vierde), en Bhekithemba Dhladhla van Gauteng (vyfde).

  • MG Hattingh.

Die algehele wenners is tydens die prysuitdeling op 25 September aangekondig. Nelius Nortjé en Johan Dames het onderskeidelik met die titel van Toyota SA Nasionale Jeugskou-afslaers in die senior en junior afdelings weggestap.

Agter van links is Nelius Nortjé, 2024 Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaer in die senior afdeling, Noah Manning van KZN wat algeheel derde in die senior afdeling was, Johan Dames, 2024 Toyota SA Nasionale Jeugskou Afslaer in die junior afdeling, en MG Hattingh wat tweede plek in die senior afdeling behaal het. Voor, van links, is Siphesihle Mbhele, wat algeheel tweede in die junior afdeling was, en Mayimlonde Nxasame, wat algeheel derde in die junior afdeling was.

Vir meer inligting oor volgende jaar se kompetisie, stuur ’n epos aan deidre@plaasmedia.co.za. – Deidré Louw en LiMari Louw

Must Read

RSG Landbou: 6 November 2024 – geborg deur BKB

Wat is die waarde van veldbultoetse? Nuwe telers het onlangs by die Hoogland Simmentaler-studiegroep in Bethlehem meer hieroor uitgevind. In ons laaste gesprek oor die...