Jagkwota-hofsaak se visier kry rigting

Estimated reading time: 3 minutes

Die hofsaak waarin Wildbedryf SA (WRSA) en die Minister van Omgewingsake, dr Dion George, slaags is oor die uitreiking van jagkwotas vir onder meer olifante, luiperds en renosters, het begin rigting kry. Die minister het ingevolge ‘n bevel van die Hooggeregshof, rekords van meer as 1 000 bladsye aan WRSA beskikbaar gestel rakende sy besluit, of gebrek daaraan, om jagkwotas uit te reik.

Richard York, hoof uitvoerende beampte van WRSA, sê die saak spruit uit die bewering dat die bedryf sedert 2020 nog nie bruikbare kwotas gekry het nie, wat WRSA gedwing het om hom tot die hof te wend.

Weens die aard van sulke kwotas verval dit aan die einde van die jaar van uitreiking. Dit het glo in die verlede gebeur dat die kwotas so laat in die jaar uitgereik is, dat dit nie sinvol gebruik kon word nie. Hy sê WRSA het nou tien hofdae om op die minister se dokumente te reageer. Indien verdere regstappe nodig is, sal dit waarskynlik weens die besige hofrol aanstaande jaar voor die hof kan dien.

Verlammende onsekerheid

Die oogmerk is om ‘n redelike ooreenkoms te beding wat sal meebring dat die kwotas só uitgereik en toegeken word, dat die deur die wildbedryf benut kan word om die aanhou van skaars wildsoorte teen hoë koste te regverdig en so die bewaring van die volhoubare benutting vir bewaring te bevorder.

York voeg by dat die krisis waaroor die hofgeding gaan, nie net regsekerheid ondermyn en Suid-Afrika se internasionale handelsgeloofwaardigheid in gedrang bring nie, maar ook wildboere en landelike gemeenskappe wat wildbewaring op grondvlak dryf, verlam.

Die bedryf is van mening dat landelike gemeenskappe in die tussentyd ly, bewaringspogings uitrafel, biodiversiteit in gedrang kom en die volhoubare gebruiksekonomie in duie stort. Dit plaas ook provinsiale owerhede onder geweldige druk.

Kwotas is ‘n bewaringsplig

Die jaarlikse kwotas is nie opsioneel nie, maar is ‘n statutêre verpligting ingevolge die Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing en ‘n bindende vereiste ten opsigte van die land se verpligtinge teenoor die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) van wilde fauna en flora.

Veral luiperds word in die steek gelaat deurdat dié beleid lamgelê word. Boere staar toenemende mens-dier-konflik in die gesig. Wat renosters betref, rig die minister se beweerde nalatigheid waarskynlik meer skade aan as wat stropers tans doen, meen York.

Douw Pelser, ‘n bekende wildboer in die omgewing van Lephalale, sê luiperds wat vir jag bestem was, vang nie net wild wat gejag kan word nie, maar ook vee. Pelser is ook die voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Limpopo. Hy het die afgelope paar jaar talle kalwers verloor wat deur luiperds gevang is. Die laaste permit waarmee twee luiperds op sy plaas gejag was, was in 2018. – Andries Gouws, Plaas Media

Related

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient Africa in the face of...

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the appointment of ten new members to the National Agricultural Marketing Council (NAMC). These members will...