Die reg en die gevolg wat in hofbevele gegee word, kan dikwels wreed voorkom, net soos ’n vonnis vir ’n misdryf. Dit is die een plek waar owerheidsgesag en mag in aksie kom om ’n bepaalde opdrag van die hof uit te voer, nadat die hof oortuig is om ’n regstelling ten gunste van een party toe te staan.
Lees die volgende artikel in hierdie reeks.
Uitsettings is geen uitsondering nie.’n Residensiële uitsetting behels die fisiese verwydering van persone en hul besittings van ’n perseel waar hulle woon. Dit is waarskynlik ook waarom die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) vereis dat uitsettings ’n laaste uitweg bly en slegs toegestaan mag word nadat die hof alle omstandighede in ag geneem het. In dié verband maak wetgewing ook voorsiening vir oorweging van die regte van kinders, ouer persone en huishoudings waarvan vroue die hoof is.
Is dit die enigste uitweg?
Die vraag is of uitsettings die enigste uitweg is, indien spesifiek na die beslegting van geskille tussen grondeienaars en -bewoners gekyk word, binne die gereguleerde raamwerk van die regsverbintenis en verhouding tussen die betrokke partye, kragtens die Wet op Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997, oftewel die ‘ESTA-wet’).
Die antwoord lê in die bewoording van artikel 10 van die ESTA-wet, wat die verhouding tussen grondeienaars en bewoners van hul grond aan twee elemente koppel:
- ’n Kontrak met regte en verpligtinge.
- ’n Verhouding tussen mense, wat aan waardes soos respek, vertroue, kommunikasie en samewerking meetbaar is.
Dit is ook waarom die verbreking van ’n mondelinge of geskrewe kontrak, of die onherstelbare verbrokkeling van ’n verhouding tussen grondeienaars en -bewoners, regtens gronde vir uitsetting volgens die voorskrifte en vereistes van die ESTA-wet sou wees.
Verhoudingskonflik op die plaas
Buite die raamwerk van politiek en retoriek rondom verblyf op plase, is die eenvoudige werklikheid dat grondeienaars en plaasbewoners, of plaasbewoners en ander plaasbewoners, ’n geografiese spasie moet deel. Op plase raak hierdie werklikheid nog meer ingewikkeld omdat natuurlike hulpbronne, soos water, aan beskikbaarheid gekoppel is.
Konflik is ongetwyfeld onafwendbaar wanneer mense ’n geografiese spasie deel as die lewensruimte waar hulle hul dag-tot-dag bestaan voer. Gelyklopend hiermee, behoort regtens genoegsame en doeltreffende meganismes te bestaan om ’n spreekwoordelike uitlaatklep te wees vir konflik, en behoort uitsetting ’n laaste uitweg te wees.
Die harde werklikheid is dat die ESTA-wet, en die wyse waarop in die praktyk daaraan gevolg gegee word, nie tans voorsiening maak vir ’n alternatiewe geskilbeslegtingsmeganisme nie. Uitsetting, en die moeisame, duur proses wat daarmee gepaard gaan, is tans die enigste ‘uitlaatklep’ vir hierdie dispute.
Olie op die vuur
Die negatiewe effek van ’n gebrek aan alternatiewe geskilbeslegtingsmeganismes word vererger deur die feit dat verskeie ongereguleerde organisasies toenemend by dispute tussen grondeienaars en plaasbewoners betrokke raak, en met ander motiewe die konflik verhoog in plaas daarvan om oplossings daarvoor te kry.
Die pogings van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om geskille op te los is ondoeltreffend, omdat die amptenary in baie gevalle as subjektief ervaar word en bykans sonder uitsondering nie die onderliggende kennis van wetgewing, toepaslike regspraak en mediasievaardighede het nie.
In landelike gemeenskappe is goeie werksverhoudinge op die plaas uiters belangrik vir die kommersiële sukses van ’n boerdery, maar nog meer so in ’n klimaat waar hierdie persone die teikens van brutale geweldsmisdaad is.
Moontlike alternatiewe?
’n Objektiewe siening van die aard en omvang van die regs- en menslike verhouding tussen grondeienaars en plaasbewoners, behoort ’n nuwe benadering tot hierdie kwessie te regverdig. Hierdie benadering verg daadwerklike poging om alternatiewe geskilbeslegting (byvoorbeeld mediasie) deel van konflikbestuur in hierdie unieke verhouding te maak.
Die alternatiewe wyse van geskilbeslegting behoort afdwingbare uitkomste te hê wat regsonsekerheid tussen die partye uitskakel.
Laastens sal dit sinvol wees om persone of instansies, buiten toegelate prokureurs wat regsadvies bedien, te begin reguleer, soos werkgewersorganisasies en vakbonde by arbeidsverhoudinge. Dit sal verseker dat persone wat by hierdie dispute betrokke raak, verantwoordbaar gehou word én verhoed dat persone of instansies met verkeerde motiewe, by hierdie geskille betrokke raak.
’n Beter en meer positiewe benadering om verhoudings te herstel deur middel van konflikhantering, sal uitsettings in alle opsigte die laaste uitweg maak. Dit is ’n oplossing waarin minder aktivisme en meer menslikheid die dryfveer is. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak HJ Moolman
by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.