Estimated reading time: 4 minutes
Klostridiale infeksies word deur ‘n groot groep bakterieë veroorsaak en om onderskeid tussen hulle te tref, word dit soms ingedeel as die Clostridium perfringens groep waar ons byvoorbeeld Clostridium perfringens tipe D vind, wat bloednier veroorsaak, en dan die groep wat kwaadaardige edeem of gasgangreen veroorsaak, en laastens die groep wat neurotoksiene produseer wat die senuweestelsel aantas, byvoorbeeld klem-in-die-kaak en lamsiekte. Dit kan ook volgens die organe/dele wat dit hoofsaaklik aantas, naamlik die spiere, ingewande, lewer en senuweestelsel, ingedeel word.
Klostridiale bakterieë is alomteenwoordig en ons kan dit feitlik enige plek aantref. Verder het hulle ook die unieke eienskap dat hulle spore vorm en op hierdie manier baie lank buite ‘n dier kan oorleef. Sekere siektes soos sponssiekte kom meer onder beeste voor, terwyl bloednier weer meer onder skape voorkom. Produsente moet beslis daarteen waak, omdat duisende veevrektes al regoor die land weens dié siektes, wat vir lang tye rustend bly voordat dit weer toeslaan, voorgekom het.
Dr Maryke Henton, ’n veearts en bakterioloog by Vetdiagnostix, sê die inenting van diere teen dié siekte is die enigste manier om hulle te beskerm. Dit is omdat vrektes gewoonlik vinnig plaasvind en daar nie juis kans vir behandeling is nie.
Die voorkoming van sponssiekte en dikkopsponssiekte deur jaarlikse inenting, word in die boek Entstowwe en immunisering van plaasdiere, deur drs Jan du Preez en Faffa Malan, uitgelig.
Besmetting en simptome
Drs Du Preez en Malan verduidelik dat sponssiekte, veroorsaak deur Clostridium chauvoei, meer algemeen by vinnig-groeiende, jong diere in goeie kondisie, en wat op goeie weiding loop, voorkom.
Die spore van alle Clostridium-spesies kom in grond en besmette water voor. Beeste raak besmet wanneer dié spore saam met kos of water ingeneem word. Wanneer jong diere tande wissel, kan besmetting ook plaasvind. Die dier word waarskynlik deur klein wonde in die bek besmet. Sponssiekte is nie aansteeklik nie, maar diere wat daaraan vrek is die hoofbron van omgewingsbesmetting.
Wat simptome betref, styg die dier se liggaamstemperatuur en neem die eetlus en grootpensbewegings dikwels af, terwyl styfheid en lamheid ook kan intree. Swelling met ’n sponsagtige gevoel ontstaan onder die huid, en word later koud en gevoelloos.
Diere wat vrek se karkasse blaas gou op en ontbind vinnig. ’n Bloederige skuimvloeistof sypel by die neus en anus uit, en aangetaste spiere bevat gas en vertoon donkerrooi.
Lees meer oor hoe om sponssiekte te voorkom in groeiende diere.
Dikkopsponssiekte
Die bakterie C. novyi veroorsaak dikkopsponssiekte by beeste en skape. Dié siekte is minder algemeen by beesboerderye. Dit kom meestal in skape en veral jong ramme voor. Dikkopsponssiekte kan egter ook by ouer ramme en ooie voorkom.
Draerdiere versprei die bakterieë deur hul mis, en diere wat aan dikkop vrek en verrot, besmet die omgewing. Ander diere in die kudde word dan besmet wanneer hulle bakteriese spore inneem deur besmette gras of voer te vreet.
Besmetting deur C. novyi kan ook deur wonde, die naelstring van lammers of die baarmoeder van ooie plaasvind. Wondbesmetting speel waarskynlik ook ’n rol in die ontstaan van dikkop by beeste.
Tekens van dikkopsponssiekte
Volgens die skrywers sluit siektetekens in dat diere terneergedruk is, nie vreet nie, ’n uitgestrekte kop en nek het, en baie lê. Vinnige, oppervlakkige asemhaling, ’n swak hartklop, moeilike beweging en diere wat agter raak in ’n trop, is ook tekens.
Diere wat vrek se karkasse verrot vinnig. Die sponsagtige gevoel onder die vel by sekere liggaamsdele, soos die geval is met sponssiekte, kom meestal egter nie voor nie. Weefselaantasting word wel by beeste gevind, veral in die nekspiere en borskasorgane soos die hart. Hierdie tipe letsels kom ook by skape voor.
Diagnosering en entstowwe
Dr Henton sê daar is ’n groot verskeidenheid entstowwe vir die verskillende sponssiektes beskikbaar. Die spesifieke Clostridium-spesie op die betrokke plaas moet egter gediagnoseer word, voordat daar in oorleg met die veearts, op ’n entstof besluit kan word.
Lees nog ‘n artikel oor sponssiekte.
Die veearts mag druksmeerondersoeke aanbeveel, omdat dit die vinnigste en goedkoopste diagnoseringsopsie is. Daarna kan diagnostiese laboratoriums vasstel of die bakterieë C. chauvoei, C. novyi, C. septicum of C. sordellii is. ’n Druksmeerondersoek kan egter nie tussen die C. novyi A- en B-stamme onderskei nie, en dit kan ook nie die meer seldsame oorsake van sponssiekte diagnoseer nie. In só ’n geval moet kweking gedoen word.
Entstowwe bied geen kruisbeskerming tussen die C. novyi A- en B-stamme nie, en sodra C. novyi gediagnoseer word, moet daar vir albei stamme ingeënt word. Entstowwe moet twee keer, vier tot ses weke uitmekaar, toegedien word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Maryke Henton by henton@vetdx.co.za.