Die invloed van individuele spasietoekenning op lammers se vleisgehalte (Deel 3)  

Estimated reading time: 7 minutes

Intensiewe produksiestelsels soos voerkrale, sowel as die gepaardgaande hoër veedigtheid, kan vleisgehalte benadeel, wat weer verbruikersaanvaarding kan beïnvloed. Verhoogde kortisolvlakke is ‘n direkte gevolg van die spanning wat diere ervaar in stelsels waar die individuele beskikbare spasie nie aan hul behoeftes voldoen nie. Dit het moontlik ‘n invloed op vleisgehalteparameters soos die uiteindelike pH (die finale suurheids- of alkaliniteitsvlak van spierweefsel, gemeet nadat spiere na vleis omgeskakel is), waterhouvermoë en sagtheid.  

Laasgenoemde hou verband met die smaaklikheid en eetgehalte van vleis, terwyl kleur ‘n belangrike rol speel in ‘n verbruiker se besluit om ‘n produk te koop. Spanningsvolle omgewingstoestande wat voor slag tot bogemiddelde kortisolvlakke lei, sal die uiteindelike vleis-pH beïnvloed, wat op sy beurt die kleur en sagtheid affekteer. 

Die vorige twee artikels in hierdie reeks het getoon dat ’n veedigtheid van 0,5m² geen noemenswaardige invloed op lamgroei en -welstand gehad het nie. Aangesien die verbruiker die eindgebruiker is, is dit belangrik om vas te stel of veedigtheid ‘n impak op produkgehalte het.  

Hierdie artikel fokus dus op die invloed van drie verskillende veedigthede op die gehalte, rakleeftydparameters en chemiese vleissamestelling van Dorper- en Dohne Merino-lammers. Die korrelasie tussen fekale glukokortikoïedmetaboliet- (fGCM)- konsentrasies en die verskillende vleisgehalteparameters is ook waargeneem.  

Karkas- en vleisgehalte 

Die lammers is binnenshuis gehuisves teen hoër digthede as die aanbevole riglyne van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS): 0,9m²/droë ooi en 1m²/ram in groepbehuising (SANS, 2021). Die behandelingsdigthede het ‘n kontrole van onderskeidelik 1 (laag), 0,75 (medium), en 0,5m²/dier (hoog) ingesluit. Die behuisingsfasiliteit was toegerus met hortjiesvloere en vensters aan weerskante, en het voldoende natuurlike lig en ventilasie toegelaat.  

Altesaam 60 gekastreerde ramlammers – 30 Dorpers en 30 Dohne Merino’s met ’n gemiddelde lewende massa van 29,52 ± 0,30kg by aankoms – wat teen die onderskeie digthede aangehou is, is ná ‘n voerkraaltydperk van ses weke by ‘n geregistreerde abattoir geslag. Goedkeuring vir die studie is van die Navorsingsetiekkomitee: Diereversorging en -gebruik van die Universiteit Stellenbosch verkry.  

Tabel 1 toon duidelik dat nóg ras nóg veedigtheid ‘n invloed op die karkasklassifikasie gehad het. 

Tabel 1: Totale aantal karkasse per vetklasgroep, soos beïnvloed deur ras en veedigtheid van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

  Vetklas 
Veedigtheid A2 A3 A4 
Skaapras Dorper Hoog (0,5m²/dier) 
Medium (0,75m²/dier) 
Laag (1m²/dier) 
Dohne Merino Hoog (0,5m²/dier) 10 
Medium (0,75m²/dier) 
Laag (1m²/dier) 

Skape is teen ‘n gemiddelde lewende massa van 44,31 ± 0,40kg geslag, met ‘n gemiddelde uitslagpersentasie van 46,07 ± 0,32%. Hoewel geen beduidende verskille in lewende massa met slagting tussen die rasse aangeteken is nie, het die Dorper-karkasse hoër warm en koue karkasgewigte, en gevolglik ‘n hoër uitslagpersentasie as die Dohne Merino-karkasse gehad.  

Hierdie verskil in naslagtingseienskappe kan moontlik toegeskryf word aan die bydrae van die Dohne Merino’s se vagte tot hul gewig voor slag, wat tot laer karkasgewigte en gevolglik ’n laer uitslagpersentasie gelei het. Geen verskil is tussen die rasse waargeneem in die aanvanklike pH en temperatuur wat 45 minute ná slag, sowel as in die finale pH en temperatuur wat 24 uur ná slag aangeteken is nie (Tabel 2).  

‘n Matige positiewe korrelasie tussen die fGCM-konsentrasie en die aanvanklike pH is waargeneem by die Dorpers wat teen 0,5m²/dier gehuisves is. Die gemiddelde, uiteindelike pH van 5,59 ± 0,02 wat in hierdie studie aangeteken is, val onder die drempelwaarde vir donker snitte. Geen verskille is tussen die vleis van skape van die verskillende veedigtheidsgroepe waargeneem nie. 

Tabel 2: Invloed van ras op vleisgehalteparameters (gemiddelde ± standaardfout) van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

Vleisgehalteparameter Skaapras 
Dorper Dohne Merino 
Warm karkasgewig (kg) 21,80± 0,36 20,32± 0,35 
Koue karkasgewig (kg) 21,15± 0,35 19,70± 0,34 
Uitslagpersentasie 48,02± 0,29 44,18± 0,29 
Aanvanklike pH 6,34 ± 0,04 6,35 ± 0,04 
Aanvanklike temperatuur (°C) 32,69 ± 0,40 32,93 ± 0,40 
Uiteindelike pH 5,60 ± 0,03 5,59 ± 0,03 
Uiteindelike temperatuur (°C) 5,82 ± 0,14 6,16 ± 0,13 

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p≤ 0,05). 

Kookverlies en vleisinhoud 

Kookverlies was die enigste vleisgehalteparameter wat beïnvloed is, met Dorper-vleismonsters wat meer vog tydens kook verloor het as dié van die Dohne Merino (24,69 ± 0,41% versus 21,07 ± 0,40%) (Tabel 3). Hoe meer bindweefsel in die vleis teenwoordig is, hoe hoër is die waterhouvermoë. Daarom is ‘n laer kookverlies in vleis van vroegvolwasse rasse te verwagte, aangesien hulle meer bindweefsel teen ‘n laer lewende massa het.  

‘n Hoër vetinhoud in vleis hou direk verband met verhoogde sappigheid. Die hoër persentasie vog van die Dorpervleis wat tydens die kookproses verlore gegaan het, kan dus die gevolg van die laer vetinhoud van hierdie karkasse wees. 

Tabel 3: Invloed van veedigtheid en ras op kookverlies (gemiddelde ± standaardfout) van vleismonsters van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

Vleisgehalte-parameter Veedigtheid 
Hoog (0,5m²/dier) Medium (0,75m²/dier) Laag (1m²/dier) 
Skaapras 
Dorper Dohne Merino Dorper Dohne Merino Dorper Dohne Merino 
Kookverlies (%) 24,55bc ± 0,69 20,49a ± 0,69 25,72c ± 0,73 20,30a ± 0,69 23,80bc ± 0,69 22,43ab ± 0,69 

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p≤ 0,05). 

Die omgekeerde verhouding tussen vog- en vetinhoud in die Dorpers was verwag, hoewel dit teenstrydig is met vorige navorsing wat ‘n hoër vetinhoud in vleis van vroegvolwasse rasse soos die Dorper gerapporteer het (Tabel 4). Die feit dat die vroegvolwasse Dorpers vroeër onderhuidse vet begin neerlê het as die laatvolwasse Dohne Merino’s, kon bygedra het tot die laer vetklas van die Dorper-karkasse, aangesien die vel en verwante vet voor karkasklassifikasie verwyder word. 

Tabel 4: Invloed van ras op proksimale vleisanalise (gemiddelde ± standaardfout) van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

Proksimale chemiese samestelling Skaapras 
Dorper Dohne Merino 
Vog (%) 73,94b ± 0,27 72,80a ± 0,27 
As (%) 1,24 ± 0,09 1,42 ± 0,09 
Totale vet (%) 3,18a ± 0,12 3,53b ± 0,11 
Ruproteïen (%) 22,05 ± 0,32 21,93 ± 0,32 

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p≤ 0,05). 

Voedingswaarde en rakleeftyd 

Deur die skape teen ‘n digtheid van 0,5m²/dier aan te hou, het nie hul vleis se voedingswaarde benadeel nie. Die rakleeftydparameters wat in hierdie studie gemeet is, val binne soortgelyke reekse wat deur vorige Suid-Afrikaanse studies aangeteken is. Dit dui daarop dat verbruikers nie teen vleis afkomstig van die medium- en hoëdigtheidsgroepe sal diskrimineer nie (Tabel 5).  

Hoër rooiheid- en chromawaardes is aangeteken vir vleis van skape van die laedigtheidsgroep. Dit beteken waarskynlik dat hulle minder gespanne was in vergelyking met die skape van die medium- en hoëdigtheidsgroepe. Geen beduidende korrelasie tussen fGCM-konsentrasies en rooiheid is in hierdie studie waargeneem nie. 

Tabel 5: Invloed van veedigtheid op vleisrakleeftydparameters (gemiddelde ± standaardfout) van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

Rakleeftydparameter Veedigtheid 
Hoog (0,5m²/dier) Medium (0,75m²/dier) Laag (1m²/dier) 
Rooiheid (a*) Dag 0 14,39ab ± 0,18 14,18a ± 0,18 14,89b ± 0,18 

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p≤ 0,05). 

Die hoër drupverlies van die Dohne Merino-vleismonsters wat op dag sewe van die rakleeftydstudie aangeteken is (Tabel 6), kan op hoër stresvlakke dui, soos aangedui deur ‘n matige positiewe korrelasie met die fGCM’s. Dit is teenstrydig met bevindinge van vorige studies, waarin verhoogde stresvlakke met ’n hoër vleiswaterhouvermoë geassosieer is. Volgens die bevindinge van ons studie, is fGCM’s nie die mees betroubare aanduiding van vleis se rakleeftyd nie. 

Tabel 6: Invloed van ras op vleisrakleeftydparameters (gemiddelde ± standaardfout) van lammers wat vir 42 dae in ’n intensiewe voerkraalstelsel aangehou is. 

Rakleeftydparameter Skaapras 
Dorper Dohne Merino 
Drupverlies (%) Dag 7 1,14a ± 0,03 1,28b ± 0,03 

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p≤ 0,05). 

Gevolgtrekking 

Die afronding van skape onder voerkraaltoestande met veedigthede van tot 0,5m²/dier het nie die gehalte, rakleeftyd of voedingswaarde van vleis in hierdie studie benadeel nie. Die waargenome verskille tussen die Dorper- (’n tradisionele ekstensiewe ras) en Dohne Merino-lammers, het nie tot ‘n ongewenste produk gelei nie. 

Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Estimated reading time: 7 minutesSuurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele...

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...

AFMA Matrix September 2026 – Forum issue now available

Estimated reading time: 2 minutesThe September 2026 edition of AFMA Matrix is a special...