HomeMagazinesHou jou gronddamme goed in stand

Hou jou gronddamme goed in stand

Estimated reading time: 5 minutes

  • Goeie instandhouding is seker een van die beste besparingsopsies wat bestaan. Wanneer toerusting of strukture op die plaas nie versorg en in stand gehou word nie, gaan dit vinnig agteruit en is die vervanging daarvan soveel duurder.
  • Schalk Jacobsz, ’n landbou-ingenieur van SW Jacobsz Ingenieurskonsultante, sê die lewensverwagting van gronddamme is dikwels beperk, aangesien die materiaal blootgestel is aan die elemente en vertrapping deur diere.
  • Die grondwal van ’n dam is blootgestel aan verwering as gevolg van die reëndruppeleffek en branderaksies wat ontstaan as gevolg van wind.
  • ’n Dam wat lek is ’n rooi vlag, want die kanse is redelik goed dat die damwal besig is om in te gee.
  • ’n Gronddam is so veilig as wat sy vloeduitloop doeltreffend is.

Goeie instandhouding is seker een van die beste besparingsopsies wat bestaan. Wanneer toerusting of strukture op die plaas nie versorg en in stand gehou word nie, gaan dit vinnig agteruit en is die vervanging daarvan soveel duurder.

Schalk Jacobsz, ’n landbou-ingenieur van SW Jacobsz Ingenieurskonsultante, vertel dat hy baie jare vir die staat gewerk het. Dit was deel van sy werk om boere met raad te bedien oor die instandhouding van damme. Hierdie instandhouding kan nooit oorbeklemtoon word nie, veral in gebiede wat gereeld droogte ervaar en waar elke druppel water noodsaaklik is.

Hy sê die lewensverwagting van gronddamme is dikwels beperk, aangesien die materiaal blootgestel is aan die elemente en vertrapping deur diere.

Lees meer oor die opgaar van reënwater hier.

Verwering van die grondwal

Die grondwal van ’n dam is blootgestel aan verwering as gevolg van die reëndruppeleffek en branderaksies wat ontstaan as gevolg van wind.

Sy wenke om gronddamme in stand te hou, behels die volgende:

  • Vestig ’n goeie stand gras op die wal want dit kan die verwering van die wal vertraag. Die gras vorm ’n beskermde deklaag op die wal.
  • Verwyder bome wat op die walle groei. Die boomwortels groei deur die wal en wanneer die boom vrek, laat dit ’n reeks kanale in die wal waardeur die water kan vloei en die wal verswak.
  • Die branders op die watervlak veroorsaak erosie aan die oewer van die dam. ’n Stewige laag klippe op die volwatervlak kan brandererosie beperk. Die kliplaag kan ook vergroot word deur ’n mat van ou motorbande in holtes te plaas en dit met klippe te vul.
  • ’n Goedkoper opsie is om fluitjiesriet of biesies op die watervlak te vestig sodat dit die brandereffek kan demp en die krag van die branders beperk. Die probleem, veral met fluitjiesriet, is dat dit vinnig vermeerder en die dam kan oorneem.
  • Die grond waarmee die damwal gebou word, is geneig om oor tyd te konsolideer. Daarom is dit nodig om elke tien jaar ’n lengtesnitmeting van die wal te maak om versakking te monitor. Dit sal aandui of die wal verhoog moet word om te verseker dat die vloeduitloop sy volle potensiaal behou.
  • Gate wat deur erdvarke of knaagdiere veroorsaak word, moet ook gereeld opgevul word.

Damme wat lek

’n Dam wat lek is ’n rooi vlag, want die kanse is redelik goed dat die damwal besig is om in te gee. Schalk sê die erns van die lek kan bepaal word deur vas te stel of syferwater skoon of troebel is. As die water skoon is, is die gevaar dat die wal gaan breek gering, aangesien dit daarop dui dat die water uit die kant van die vallei kom en langs die wal verbybeweeg.

Syferwater wat troebel is, dui daarop dat die kanaal onder die wal groter word; dit kan aanvaar word dat die damwal besig is om in te gee. ’n Afsnykern moes aanvanklik aangebring gewees het voordat die wal gebou is.

Syfering aan die stroom-af kant, teen die toon, kan beteken dat ’n afsnykern nie in die ondergrond aangebring is nie. Die boonste laag van die oorspronklike grondoppervlak is dan nie verwyder nie en die ou wortelsone bevat heelwat wortels en humus wat ontbind en ’n kanaal laat.

“Die oplossing in albei gevalle is om die waterkant van die wal te verwyder tot op ’n hoogte van 2m oor die volle lengte van die wal. ’n Sloep word ondergrond onder die verwyderde deel, tot op ’n diepte van ongeveer 2m, gegrawe. Die sloep kan dan met digte klei opgevul en goed gekompakteer word, of ’n plastiekseil (hyperlastic) kan in die sloep wat tot in die grondwal strek, geplaas word,” verduidelik hy.

Vloeduitloop moet reg wees

’n Gronddam is so veilig as wat sy vloeduitloop doeltreffend is. Om dit behoorlik te onderhou, doen die volgende:

  • Hou dit vry van struike en bome.
  • Verwyder opdrifsels uit die vloeduitloop.
  • Vestig ’n digte laag gras in die vloeduitloop.
  • Moenie walle of sandsakke in die uitloop pak nie.

In gevalle waar erosie in die uitloop voorkom, kan ’n diensuitloop aangebring word. Dit bestaan uit ’n inlaatbak wat water in die dam ontvang en dit dan met behulp van ’n pyp van ongeveer 300mm in deursnee, deur die wal tot in die rivierloop laat vloei. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel Schalk Jacobsz by 083 305 0757.

Must Read

94ste NWKV-kongres: Suid-Afrikaanse wolprodusente in die voorste produksielinie

Estimated reading time: 6 minutes Vanjaar se 94ste Nasionale Wolkwekersvereniging-kongres het gefokus op volhoubare wolproduksie en ’n indrukwekkende lys van belangrike sake wat regstreeks betrekking...