Tuesday, March 11, 2025

Koershou met Hennie

Deur Alwyn Viljoen

Met trots geborg deur Toyota

Jou plaasvoertuig: Hibried, ten volle elektries, of brandstof?

Estimated reading time: 4 minutes

Ons regte egte Zoeloe-prinses, Mbali, het die afgelope tyd windmakerig by die plaaskantoor ingestap en vir almal vertel hoe ‘haar’ motorvervaardiger, Toyota, weereens vir Porsche en Ferrari geklop het deur die 2023 FIA (motorsport se beheerliggaam) Wêreld-uithouvermoëkampioenskap te wen.

Gert, die plaaswerktuigkundige, het Mbali probeer wysmaak dat sy netsowel ’n ou kruiwa met ’n sneltrein kan vergelyk deur haar verouderde Avanza in dieselfde klas as die Toyota GR010 hipermotor, wat 400km/h kan ry, te wil noem.

“Elke hipermotor het ’n 520kW, 3,5-liter turbo-aangedrewe V6-petrolenjin en word aangevuur deur ’n 200kW elektriese motor. Ek meen, die elektriese motor genereer amper net soveel krag soos drie van jou 1,3 Avanza se enjins saam,” verduidelik Gert geesdriftig.

Mbali druk net haar vingers in haar ore en neurie Queen se We are the champions al hoe harder. Toe sy sien Gert het moed opgegee om haar te probeer oortuig, begin sy wel uitvra oor hibriede motors. Sy het onlangs haar rekenaar se skermwag verander na ’n foto van die meer praktiese Corolla hibriede luikrug in plaas van haar droommotor, die tweesitplek GR86.

Reikafstand versus brandstofkoste

“Die grootste voordeel van die elektriese motor in ’n hibriede kar is dat jy bykans dubbel die ry-afstand uit ’n liter brandstof kry teenoor dit wat ’n brandstofenjin lewer,” verduidelik Gert. “Verskeie tydskrifte het hierdie bewering al onder werklike omstandighede getoets, en daardie 1,8 Corolla wat jy in die oog het, het 20km/ℓ aangeteken met ’n kombinasie van oop pad en stadspaaie. Jy sal gelukkig wees om 15km/ℓ onder dieselfde omstandighede met jou 1,3 Avanza te kry.”

“Ek kry die gevoel daar is ’n ‘maar’ op pad,” sê Mbali.

“Jip,” sê Gert. “Die Corolla-hibried is ’n uitstekende voertuig en kos ’n rapsie meer as daardie halfmiljoen Boran-bul wat die baas in die oog het. Jou Avanza se plaasvervanger, die Rumion, kos so R200 000 minder as jy die twee met mekaar vergelyk. Dis nou wel ‘n rowwe syfer wat ek gee, maar met petrol wat nou rondom R25 ’n liter kos, kan R200 000 vir jou sowat 8 000ℓ petrol koop. Dit beteken jy moet 200 000km verder in die Corolla-hibried as in die Rumion ry om dieselfde brandstof te bespaar. So maak net seker jy gaan jou doelwit om brandstof te bespaar, bereik.”

Is ’n groen leefstyl werklik beter?

Ek val van die kant af in. “Enige hibried het twee klein aandryflyne en nie een funksioneer dieselfde as die groter brandstofenjin of vol elektriese motor nie. Die meeste hibriede vereis boonop ’n tweede, swaar battery wat in die kattebak gestoor word ten koste van heelwat bagasieruimte. Jou persoonlike behoeftes moet dus in ag geneem word wanneer jy besluit of jy die voertuig wil aankoop of nie.”

“Miskien moet ek dan maar net die vol elektriese een koop. Ten minste help ek dan om die omgewing te bewaar omdat daar geen uitlaatgasse is nie,” sê Mbali.

“Miskien ja, maar dan moet jy dit oorweeg om te herlaai deur gebruik te maak van ’n groen kragbron soos sonpanele of hidrokrag wat klaarblyklik self duur batterye gebruik,” sê ek. “Dit is ’n feit dat as jy ’n elektriese motor met Eskom-krag herlaai, jy maar net die uitlaatgasse stroomop verskuif na die kragstasie toe. Die bruin steenkoolrook wat uit Eskom se skoorstene kom is beslis vuiler as enigiets wat uit die uitlaatpyp van ’n moderne dieselmotor kom.”

“Die baas is reg,” sê Gert. “Gegewe die feit dat jy op ’n plaas woon en werk, moet jy maar vir tyd en wyl ’n klein dieselvoertuig aanskaf. ’n Hibried-enjin werk goed vir stop en ry in die stad, of vir snelwegverkeer wat aankruie. Dit geld egter nie vir ons pad tussen die plaas en die dorp nie.

“Ongelukkig is al die vol elektriese motors tans uitermatig duur in vergelyking met dit wat binnebrandenjins kos. Buitendien, as die baas besluit hy sal my betaal om ’n mini-pirolise-aanleg in die ou melkery te bou, kan ons ons eie diesel uit ou plastiek begin vervaardig.”

Vind uit of outomatiese karre steeds swaarder is op brandstof.