Paul de Wet bedryf ’n baie suksesvolle intensiewe lamstelsel en voerkraal op sy plaas, Klipfontein, naby Witkop in die Stormberge. Dit is ’n familiebesigheid waar sy pa en oud-Bolander, Johan, al 42 jaar boer en holistiese drukbeweiding toegepas. Paul het so 19 jaar terug by die boerdery ingeval en beskou dit as ’n voorreg om sy pa as mentor te hê.

Paul de Wet (regs) en sy pa, Johan. (Foto: Lisa de Wet)

“In die verlede het ons van die veld af geboer en die ooie een keer per jaar laat lam, tot sowat nege jaar gelede toe die idee by my posgevat het om ’n intensiewe lamstelsel op die been te bring,” sê Paul. “Aanvanklik het ons op klein skaal begin deur die ooie dwarsdeur die jaar in voerkraalomstandighede te laat lam. Dit het vrugte afgewerp en ons het die boerdery stelselmatig daarby aangepas.”

Kry die jongste vleispryse.

Tans bestuur hulle 5 000 ooie in ‘n agtmaandestelsel wat beteken dat die ooie drie keer in twee jaar lam. Dit is ’n voltydse besigheid en daarom het Paul drie spanne wat die lamproses hanteer. Gewoonlik hanteer twee werkers ’n trop van 700 tot 800 ooie.

Weiding, voer en lamproses

“Ons paar die ooie op goeie somerweiding op die veld, of vanaf herfs tot Augustus op aangeplante weidings, meestal raaplande,” sê Paul. Hoewel die grootste persentasie inname steeds van die veld afkomstig is, gaan die ooie drie tot vier weke voor lamtyd ook op ’n volvoerrantsoen, of soos Paul daarna verwys, ’n volledige ooihokrantsoen, om die rumen voor te berei en van vesel- na styselvertering in die voerkraal aan te pas.

Daar is twee presisie-ooivoerkrale waar die ooie lam en Paul verduidelik hoe sake daar in mekaar steek. “Dié met eenlinge bly sowat 45 dae met hul lammers in die kraal en dié met tweelinge vir 55 dae. Die daaglikse voerinnames van eenlingooie is 1,3kg en dié van twee- en meerlinge 1,8kg, met ruvoer soos nodig. Vrye toegang tot kruipvoer vir die lammers is baie belangrik vanaf ouderdom tien dae tot die dag dat hulle gespeen word.”

Lammers word vir ongeveer twee maande ad lib in ’n voerkraal gevoer tot hulle ’n stoormassa van tussen 33 en 34kg bereik. (Foto: Lisa de Wet)

Daar word tweemaandeliks gelam met tussen 900 tot 1 000 lammers uit ’n trop van 700 tot 800 ooie. As ’n aansporingsbonus, wat volgens Paul goeie vrugte afwerp, betaal hy elke werker R5 ekstra per lam wat gespeen word en in die voerkraal beland. Die lammers word teen ’n gemiddelde gewig van 17 tot 18kg gespeen waarna hulle vir 60 dae (tussen drie en drie en ’n half maande) in ’n ad lib-voerkraal tot op ’n stoormassa van 33 tot 34kg gevoer word.

Sodra die ooie uit die voerkraal kom, gaan hulle terug veld toe om, soos Paul sê, “vir ’n maand lank weer ’n bietjie skaap te wees op die veld”. Daarna begin die hele proses van voor af, waar hulle ses weke voor paring geprikkel word om kondisie op te tel.

Bestuur vir produksie en wins

“Inaggenome die tydperk wat ’n ooi in die voerkraal is, loop sy in totaal sowat 100 dae nié op veld nie, wat beteken dat ek 50% meer ooie op die veld kan aanhou,” sê Paul. “Hoewel ek dus meer voer moet koop, kan ek ook meer ooie aanhou.”

Die natuurlike weiveld se voedingswaarde verskil deur die jaar en hy vind dat om net een patroon van prikkel te gebruik, nie noodwendig die beste resultate lewer nie. “Ons monitor dus die ooie se gemiddelde daaglikse toename deur die regte voer op die regte tyd te gee om te verseker dat daar genoeg twee- en meerlinge gebore word om die persentasie droë ooie te beperk.”

Volgens Paul hang die verkoop van ’n stoorlam af van die persentasieverhouding tot die slagprys: “As die stoorlamprys onder 50% van die slagprys kom, voer ons hulle nog 30 dae langer om op ’n gewig van 42 tot 43kg, met ander woorde vier en ’n half maande, as vetlammers geslag te word. Onthou, hoe swaarder ’n lam word, hoe meer is hy geneig om vet aan te pak wat deur die graderingsproses gelooi kan word en daarom word my lammers verkieslik op 42kg gelaai.”

Lamstelselbeplanning en kopsere

Die intensiewe lamstelsel moet wel oor die lang termyn uitdagings trotseer, soos die droogte in 2019, lae produksiepryse en voerpryse wat deur die dak geskiet het. Paul glo dat die prentjie vanjaar beter lyk met vooruitsigte van laer voerpryse terwyl die vraag na lammers goed is.

“As jy ’n voorstander van dissipline is en goeie finansiële bestuur kan toepas, bied ’n intensiewe lamstelsel beslis vir jou ’n toekoms, vernaamlik hier in die koue wêreld, waar baie mense gedink het die lammers sal vrek as die ooie in die middel van die winter lam. As jy mooi vir jou ooie sorg, sal hulle mooi na hul lammers kyk.”

Vrye toegang tot kruipvoer vir die lammers is baie belangrik vanaf ouderdom tien dae tot die dag dat hulle gespeen word. (Foto: Lisa de Wet)

Paul se raad vir enigeen wat ’n intensiewe lamstelsel op die been wil bring, is soos volg: “Daar is deesdae soveel tegnologie beskikbaar dat dit moeilik sal wees om verkeerd te gaan. Vir iemand wat sy boerdery wil intensiveer, sal ek aanbeveel om eenvoudig op die regte manier te begin en nie kortpaaie te loop nie. Byvoorbeeld, om later geld te bespaar, betaal dit om met jou lamhokbeplanning van die begin af voorsiening te maak vir toekomstige uitbreidings.”

Bemagtiging van skaapprodusente

Ockie Olivier lewer reeds 30 jaar al finansiële konsultasiedienste aan talle skaapprodusente en het ’n stelsel saam met ’n groep produsente, insluitende Paul, ontwerp wat bekend staan as Future Lamb.

“Skaapprodusente is by uitstek blootgestel aan wisselende klimaatstoestande en ongediertes, terwyl die mark weekliks eenvormige lamkarkasse verwag,” sê Ockie. “Dié stelsel is daarop gemik om produsente te bemagtig om hoogstaande gehalte lammers winsgewend en op ’n weeklikse basis te verskaf.”

Voordele wat Future Lamb bied sluit in dat produsente tussen 1,3 en 1,8 keer meer ooie op dieselfde grond kan aanhou, sonder om die drakrag van die veld te verhoog. Daar word jaarliks ook drie tot vier keer meer lammers verkoop en die wolinkomste is 2,5 keer meer, terwyl die bedryfskoste 9,5 keer meer as by ’n tradisionele boerdery is. Teen ’n A2-vleisprys van R75 is die wins amper dubbel dié van ’n normale boerdery. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Paul de Wet by 076 809 7982 of Ockie Olivier by 082 564 6156 of ockie@futurelamb.co.za.

orf, skeerpraktyke, lemon
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom