Estimated reading time: 5 minutes
- Hoewel dit waar is dat bosluisoorgedraagde hartwater meer algemeen tydens natter seisoene voorkom, beteken dit nie dat produsente op hul louere kan rus wanneer droër weerpatrone, soos El Niño, die reënval beheer nie.
- Hartwater kan vir alle herkouers ’n probleem wees. Dit sluit beide tradisionele plaasdiere asook sommige wilde herkouers in.
- Hartwater word deur ’n klein intrasellulêre bakterie genaamd Ehrlichia ruminantium veroorsaak. Die organisme is egter nie direk aansteeklik nie; dit kan slegs deur die byt van ’n spesifieke bosluisspesie – die bontbosluis – oorgedra word.
- Ideaal gesproke moet diere ’n laegraadse blootstelling aan hartwaterbosluise hê wat hulle genoeg uitdaag om immuniteit te behou, sonder dat hulle só erg blootgestel word dat die infeksie die dier se immuniteit oorkom.
- Alhoewel gespesialiseerde diagnostiese toetse wel bestaan wat kan help om ’n diagnose by ’n lewende dier te bevestig, is daar as gevolg van die vinnige vordering van hierdie siekte oor die algemeen nie tyd om te wag vir diagnostiese toetsuitslae nie.
Hoewel dit waar is dat bosluisoorgedraagde hartwater meer algemeen tydens natter seisoene voorkom, beteken dit nie dat produsente op hul louere kan rus wanneer droër weerpatrone, soos El Niño, die reënval beheer nie.
Prof Dietmar Holm is verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde. Hy is ‘n spesialis-veearts in kuddegesondheid en sê die probleem van ’n verlaagde bosluislading, is dat minder diere aan die siekte blootgestel word. Dus bestaan die moontlikheid dat diere mettertyd hul immuniteit teen hartwater verloor.
Hartwater kan vir alle herkouers ’n probleem wees. Dit sluit beide tradisionele plaasdiere asook sommige wilde herkouers in. “Hartwater affekteer meestal kalwers en lammers voor speen of diere wat vanuit ’n hartwatervrye area na ’n plaas binne die hartwater-endemiese gebied verskuif word,” sê prof Holm. Areas waar hartwater nie endemies voorkom nie, sluit byvoorbeeld die Vrystaat en Noord-Kaap in.
Oorsake van hartwater
Hartwater word deur ’n klein intrasellulêre bakterie genaamd Ehrlichia ruminantium veroorsaak. Die organisme is egter nie direk aansteeklik nie; dit kan slegs deur die byt van ’n spesifieke bosluisspesie – die bontbosluis – oorgedra word.
Vir dié rede kan bosluisbestryding baie help om hartwater te beheer. Ideaal gesproke moet diere ’n laegraadse blootstelling aan hartwaterbosluise hê wat hulle genoeg uitdaag om immuniteit te behou, sonder dat hulle só erg blootgestel word dat die infeksie die dier se immuniteit oorkom.
Lees meer oor die effek van hartwater op wildspesies hier.
Kliniese tekens en behandeling
Een van die eerste tekens van hartwater is ’n skielike koors, maar dit is nie baie opmerklik nie, verduidelik prof Holm. Die oplettende produsent sal egter gou agterkom dat ’n siek dier minder aktief is en dat sy of haar voerinname afneem. Verder sal ’n besmette dier ook depressief voorkom.
Hierna sal erge kliniese tekens begin intree wat meestal verband hou met die sentrale senuweestelsel en die respiratoriese stelsel. “ ’n Geaffekteerde dier herstel óf spontaan óf ontwikkel neurologiese tekens soos stuipe en hipersensitiwiteit.” Die siekte vorder gewoonlik redelik vinnig en voor die dier vrek, ontwikkel hy of sy ernstige asemhalingsprobleme, met skuim wat by die bek en neusgate voorkom. “Geaffekteerde diere wat nie behandeling ontvang nie vrek meestal binne ’n dag of twee.”
’n Veearts sal hartwater diagnoseer deur die kliniese tekens te ondersoek. Dit kan ook tydens ’n nadoodse ondersoek deur ’n gespesialiseerde toets bevestig word. “Alhoewel gespesialiseerde diagnostiese toetse wel bestaan wat kan help om ’n diagnose by ’n lewende dier te bevestig, is daar as gevolg van die vinnige vordering van hierdie siekte oor die algemeen nie tyd om te wag vir diagnostiese toetsuitslae nie,” waarsku hy. Dit is waarom ‘n veearts se diagnose meestal op die kliniese tekens gebaseer is. Die siekte moet as ’n noodgeval hanteer word ten einde die dier se lewe te red.
Hartwater word met antibiotika behandel. Die antibiotika wat die meeste gebruik word en ook die beste sukses by die behandeling van hartwater toon, is oksitetrasiklien. – Susan Marais, Veeplaas
Vir verdere inligting, stuur ’n epos aan prof Dietmar Holm by dietmar.holm@up.ac.za.
Hartwater kos Suid-Afrika oor ’n miljard
In 2022 het ’n studie deur Mario van den Heever, dr WA Lombard, prof Yonas Bahta, en prof Frikkie Maré van die Universiteit van die Vrystaat, uitgewys dat die totale ekonomiese impak van hartwater op die Suid-Afrikaanse veebedryf ongeveer R1,266 miljard is. Die studie het die direkte sowel as indirekte kostes verbonde aan hartwater beraam. Direkte kostes bestaan uit produksieverliese, terwyl indirekte kostes die kostes verbonde aan die voorkoming of behandeling van die siekte verteenwoordig.
’n Opname onder 272 veeboere in ses provinsies waar hartwatergevalle aangemeld is, is gebruik om tot dié gevolgtrekking te kom. Die hoogste totale koste is in die Oos-Kaap, gevolg deur Noordwes en Mpumalanga. Hartwater het veral ’n enorme ekonomiese invloed op die beesbedryf, met produsente wat jaarliks ’n gesamentlike verlies van ongeveer R1 059 miljoen ly. Die skaapbedryf ervaar ’n totale kosteverlies van ongeveer R168 miljoen en die bokbedryf sowat R39 miljoen per jaar.
Wat die totale koste betref, het produsente se direkte koste 66,47% van die verliese uitgemaak, en die indirekte koste het 33,57% tot die totale koste van hartwater bygedra.
Die jaarlikse koste van hartwaterentstowwe het die minste (0,51%) tot die totale koste bygedra, met slegs 10% van die deelnemers wat gerapporteer het dat hulle die hartwaterentstof toegedien het. Altesaam 84,29% van die respondente het wel ’n behoefte aan ’n nuwe en verbeterde hartwaterentstof aangedui.
Om meer te lees oor die studiebevindinge, slaan gerus die bron na: “The economic impact of heartwater on the South African livestock industry and the need for a new vaccine”, Junie 2022, Preventative Veterinary Medicine.