Haarwurm: Chemiese beheer alleen is nie meer genoeg nie

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die haarwurm, in sy onaktiewe vorm, oorwinter in die dermwand asook mis van skape.
  • Haarwurm het die afgelope paar jaar enorme ekonomiese verliese vir bok- en skaapboere in Suid-Afrika veroorsaak, omdat dit tot bloedarmoede en vrektes lei.
  • Die volwasse wurm heg aan die abomasum (melkpens), begin bloed suig en lê eiers in die spysverteringskanaal wat dan in die mis uitgeskei word.
  • Vee wat reeds anemies is, kan met ’n kontakdoder behandel word. Aanvullings soos vitamien B12, kobalt en yster is belangrik vir rooibloedselregenerasie.
  • Wurmweerstandigheid teen beskikbare chemiese middels, asook geen nuwe aktiewe bestanddele binne die afsienbare toekoms, veroorsaak dat ons meer holisties na wurmbeheer moet begin kyk.

Haarwurm het die afgelope paar jaar enorme ekonomiese verliese vir bok- en skaapboere in Suid-Afrika veroorsaak, omdat dit tot bloedarmoede en vrektes lei. Weerstandigheid teen beskikbare chemiese middels is wêreldwyd ‘n probleem en daarom moet produsente holisties na wurmbeheer en -bestuur begin kyk.

Lewensiklus van die haarwurm

Die haarwurm, in sy onaktiewe vorm, oorwinter in die dermwand asook mis van skape. Die eiers begin tydens gunstige toestande met meer as 50mm reën en temperature hoër as 15°C uitbroei. Nadat die wurms uitgebroei het, gaan dit deur vier larfstadiums – L1, L2, L3 en L4 – voordat dit die volwasse stadium bereik.

Stadiums L1 tot by L3 neem sowat ses dae. L3 is die besmetlike stadium wanneer die parasiet op die weiding deur die dier opgeneem word. In hierdie stadium beweeg die wurm ongeveer 5 tot 8cm teen die weiding op.

L4 is die stadium waartydens die wurm begin bloed suig. Die volwasse wurm heg aan die abomasum (melkpens), begin bloed suig en lê eiers in die spysverteringskanaal wat dan in die mis uitgeskei word. Een wurm kan in 24 uur tot 10 000 eiers lê. Die maksimum bevolkingsvlak kom tydens laatsomer en herfs voor – daarom staan dit ook as autumn disease (herfssiekte) bekend.

Kliniese simptome haarwurmbesmetting

Die bloedsuiende parasiet veroorsaak bloedarmoede. Simptome wat ons sien sekondêr tot bloedarmoede sluit in bleek slymvliese, kwakkeel as gevolg van ’n tekort aan die bloedproteïen genaamd albumien, ‘n afname in melkproduksie wat lei tot vertraging in groei van jong diere, swak groei of gewigsverlies, lusteloosheid, en akute vrektes as gevolg van ’n suurstoftekort.

Bokke het van nature ’n swak immuniteit teen haarwurm. Skape, wat nader aan die grond asook meer selektief wei, is meer vatbaar vir die parasiet as beeste. Ouer skape en bokke het ’n hoër immuniteit teen haarwurm, maar lammers en bokkies is baie vatbaar.

Dragtige en lakterende ooie is weer meer geneig tot haarwurmbesmettings as gevolg van ’n afname in immuniteit tydens hierdie produksiestadiums. Onvoldoende voedingsvlakke kan ’n verlaging in die diere se immuunstelsel tot gevolg hê, wat die diere meer vatbaar maak vir besmetting.

Behandeling en beheer

Vee wat reeds anemies is, kan met ’n kontakdoder behandel word. Aanvullings soos vitamien B12, kobalt en yster is belangrik vir rooibloedselregenerasie. Tien dae later, wanneer die dier weer voldoende rooibloedselvlakke het, kan sistemiese middels wat deur bloedproteïene vervoer word, opgevolg word om ’n residuele effek te kry en herbesmetting te voorkom.

Wurmweerstandigheid teen beskikbare chemiese middels, asook geen nuwe aktiewe bestanddele binne die afsienbare toekoms, veroorsaak dat ons meer holisties na wurmbeheer moet begin kyk. Implementeer dus die ‘groot vyf’ bestuurs- en voorkomingstrategie, soos voorgestel deur prof Gareth Bath, in jou kudde. Hierdie strategie bestaan kortliks uit:

  • Gasheerweerstand: Selekteer vir wurmweerstandigheid; gebruik die FAMACHA-model vir selektiewe ontwurming; gehalte voeding vir sterk immuunstelsels.
  • Verminder parasietladings: Verkort weidingstydperke en weidingsdruk; verlengde tyd van afwesigheid; wisselweiding met beeste en perde; identifiseer hoë-risiko kampe en gebiede op die plaas.
  • Evalueer weidingsfaktore: Weidingshoogte – langer as 8cm; weidingstipe – grassoorte soos kikoejoe is meer gunstig vir haarwurm as ander; helling van weidings; besproeide lande is meer gunstig vir wurmoorlewing as droëlande.
  • Monitor die situasie: Monitor weidingsfaktore; gebruik miseier- en miseierreduksietellings om doeltreffendheid van produkte te bepaal; gebruik die vyf-punt ondersoek (Figuur 1) om die regte diagnose te maak want ander parasiete en tekorte kan soortgelyke simptome toon.
  • Optimaliseer aktiewe bestanddele: Behandel selektief; ontwurm by die korrekte gewig; strategiese beheer versus taktiese beheer; sterk middels versus kombinasiemiddels; kwarantyn, ontwurm en doen ’n miseiertelling op nuwe diere om te verhoed dat jy weerstandige wurms in jou kudde inbring. – dr Johann Stadler, Wilgepoort Veedienste

Vir meer inligting, kontak dr Stadler by 072 482 4909.

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 5 minutes LET WEL: Johan van...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 18 of 2024

The weekly pork carcass price is brought to you...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...