Grondhof trek ’n streep in die sand oor regte van okkupeerders se gades

Estimated reading time: 4 minutes

Die hof het dit duidelik gestel dat indiensneming op die plaas nie ’n vereiste is vir die ontstaan van verblyfreg nie.

In ’n regsrubriek van 2018 het ons verduidelik hoe die Konstitusionele Hof ’n vrou wat vir ’n tydperk openlik op ’n plaas woon, as ’n okkupeerder in eie reg beskou. Die historiese siening dat ’n vrou se regte ‘ondergeskik’ is aan dié van haar man, is deur die hof as ongrondwetlik en vernederend verwerp.

Die Grondhof het onlangs in ’n outomatiese hersiening van ’n uitsettingsbevel wat deur die landdros in Fouriesburg uitgereik is, hierdie streep nóg dieper getrek. In Du Plessis NO en Andere vs Tshabalala en Andere (LCC 08R2025; 64/2020) [2026] ZALCC 12 het die hof die regsposisie van okkupeerders se gades bekragtig.

Ontslag beteken (nie) uitsetting

Tshabalala het reeds in 1995 as tweejarige kind op die plaas begin woon. Sy ouers het op die plaas gewerk en ’n huis is aan hulle toegeken waar hy saam met sy broers en susters grootgeword het. In 2013 het Tshabalala ingevolge ’n mondelinge ooreenkoms as tuinier op die plaas begin werk. In dieselfde jaar is hy getroud en het saam met sy vrou en hul twee minderjarige kinders op die plaas gewoon.

Op 20 Oktober 2016 is sy diensvoorwaardes skriftelik bevestig. Die ooreenkoms het bepaal dat Tshabalala vanaf 1 Januarie 2014 as ’n algemene werker op die plaas sou begin werk en dat sy verblyfreg en dié van sy afhanklikes direk aan sy dienskontrak gekoppel was. Dit beteken sy verblyfreg sou eindig indien sy diens beëindig word.

Op 14 April 2018 is hy summier ontslaan weens beweerde diefstal van tien sakke bone ter waarde van R7 500, in stryd met artikel 6(3) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) (ESTA) en Tshabalala het die dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys.

Op 3 Augustus 2018 het Brandwater Boerdery (Edms) Bpk en Tshabalala ooreengekom dat hy weer aangestel sou word op dieselfde bepalings en voorwaardes as voorheen. Hy het vir diens aangemeld en op dieselfde dag ’n kennisgewing van skorsing ontvang. Ná ’n dissiplinêre ondersoek wat in sy afwesigheid gehou is, is hy skuldig bevind aan die klagtes teen hom en ontslaan. Hierdie tweede dispuut is nie na die KVBA verwys nie.

Die applikante het die uitsettingsprosedure teen Tshabalala van stapel gestuur en aangevoer dat hy uit hul diens ontslaan is as gevolg van ’n fundamentele verbreking van die verhouding ingevolge artikel 10(1)(c) van ESTA. Volgens die applikante het hierdie verbreking uit wangedrag voortgespruit, naamlik die beweerde diefstal wat hy ontken het.

Die applikante het ook aangevoer dat sy vrou nie die vereiste toestemming ingevolge ESTA gehad het om op die plaas te woon nie en was nie ’n okkupeerder in eie reg nie, aangesien haar verblyfreg aan dié van haar man gekoppel was. Die applikante het aangevoer dat Tshabalala se verblyfreg, en gevolglik dié van sy gesin, outomaties geëindig het weens die onherstelbare breuk in die vertrouensverhouding tussen die partye.

Lees meer: Verblyfreg en veiligheid: Biosekuriteit op plase.

Onafhanklike verblyfreg bevestig

Die Grondeisehof het die bepalings van artikel 3(4) en 3(5) van ESTA toegepas en beslis dat Tshabalala se vrou ’n okkupeerder in eie reg is. Ingevolge hierdie bepalings skep die openlike en aaneenlopende bewoning van ’n persoon – wat nie onderhewig is aan die uitsonderings soos in die definisie van ’n okkupeerder vervat word nie – op sigself ’n reg van verblyf.

Die hof het dit duidelik gestel dat indiensneming op die plaas nie ’n vereiste is vir die ontstaan van verblyfreg nie. Aangesien Tshabalala se vrou sedert 2013 openlik, aaneenlopend en sonder enige beswaar op die plaas gewoon het, het sy regstegnies ‘toestemming’ verkry.

Regter Flatela het die landdros se uitsettingsbevel tersyde gestel en die saak vir verpligte bemiddeling kragtens artikel 11(2)(b) van ESTA verwys. Die Grondhof het gevolglik gelas dat:

  • Die partye vir ses maande moet poog om die geskil deur bemiddeling op te los.
  • Die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, en die munisipaliteit sinvol aan die bemiddeling moet deelneem om inligting rakende die verlening van huisvesting te verskaf.
  • Afhangend van die uitslag van die bemiddeling en enige verdere hofverrigtinge, die Tshabalala’s en hul gesin geregtig is om op die plaas te woon.

Die dae waar ’n man se ontslag outomaties tot die uitsetting van sy hele gesin lei, is verby. Grondeienaars moet aanvaar dat elke volwasse persoon wat op ’n plaas woon, moontlik oor onafhanklike verblyfregte beskik wat afsonderlik ingevolge ESTA beëindig moet word. Verblyfooreenkomste wat die regte en verpligtinge van alle gesinslede duidelik reguleer is nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid om toekomstige dispute te vermy. – Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak Clarissa Pienaar by clarissap@mmlaw.co.za of skakel die Pietermaritzburg-kantoor by 033 032 0241 of die Potchefstroom-kantoor by 018 297 8799.

Related Posts

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se...

AFMA Matrix September 2026 – Forum issue now available

Estimated reading time: 2 minutesThe September 2026 edition of...

Green grazing: Nutritious, but incomplete

Estimated reading time: 4 minutesThe first good rains of...

CHIPS September/October 2026

Estimated reading time: 3 minutesThe September/October issue of CHIPS...

Bloubosluise: Voorkoms, siekterisiko’s en voorkoming

Estimated reading time: 5 minutesBloubosluise is een van die...