HomeAgri NewsGoeie pryse by Williston-veiling

Goeie pryse by Williston-veiling

Estimated reading time: 6 minutes

Die jaarlikse Williston Jongooiveiling was vanjaar weer ’n reusesukses. Sowat 1 078 skape en 55 bokke het onder die hamer gekom. Die veiling het ’n baie goeie opbrengs gelewer – die omset van die skaapveiling was R3 475 150. Die omset van die bokveiling was R642 000 – sowat R200 000 meer as verlede jaar.

Die duurste prys vir ’n Boerbokooi was R28 000. Sy het aan Casper Byleveld van Nico Botha Boerbokstoet, Britstown behoort en is aan Red Coral Investment op Lichtenburg verkoop.

Die hooforganiseerder van die veiling, Hannes Esterhuysen, sê vanjaar se pryse vergelyk goed met dié van verlede jaar. Sommige rasse se gemiddeld was grootliks dieselfde, maar sommige telers het vanjaar tot R6 000 per ram meer as verlede jaar verdien. Die veiling het vanjaar tussen 150 en 180 meer diere onder die hamer gehad en die omset wat R1,4 miljoen meer as verlede jaar.

Aanlynveilingverkope gee ’n hupstoot

Die rede vir die goeie veiling was goeie bemarking. Die jong manne wat die veiling hanteer het, het vanjaar baie moeite gedoen om die veiling so wyd as moontlik te adverteer. Die feit dat kopers ook aanlyn kon koop, het die veiling ook ’n hupstoot gegee. Esterhuysen het bygevoeg dat die wins uit die veiling tussen die Williston-skou, Williston Vleiskoöperasie, en die Landbouvereniging verdeel word.

Hierdie Britse Alpyn-bokooi is vir R18 000 op die Williston Jongooi-veiling verkoop. Die verkoper was Philip van Schalkwyk van Williston en die koper was Byleveld Familie-boerdery. Dit is ’n rekordprys wat vir ’n Alpyn-melkbok behaal is. Hierdie bok was die Williston Skoukampioen van 2023, asook Ooi met die Beste Uier tydens die Willistonskou van 2023 en 2025.

Jan Frederick van Schalkwyk, ’n jare lange inwoner en leierboer van Williston, sê daar is heelwat mense van buite Williston wat aan die veiling deelgeneem het en bereid was om goeie pryse vir die diere te betaal. Danksy goeie reën die afgelope jaar of twee, kon die Willistonboere van die beste genetika aan die veiling bied. Van Schalkwyk vertel dat sommige boere tydens die droogtetye meer intensief begin boer het en hulle kon van 80%- na 140%-lampersentasie opskuif. Dit het hulle in staat gestel om met meer diere na die droogte as voor die droogte te boer.

Hy noem ook dat sommige boktelers se kliënte aan die veiling kon deelneem danksy die aanlynfasiliteit wat beskikbaar was. So kon die diere ook uitstekende pryse behaal.

Uitslae:

  • Dorper-ooie: Daar was 303 ooie te koop aangebied en die gemiddelde prys was R2 645. Die duurste ooi het aan De Witt Hodgson van Grootfontein Dorpers behoort en is vir R3 750 aan New Gro Farming van Kanoneiland verkoop.
  • Dorper-ramme: Die 20 ramme wat aangebied is, is teen ’n gemiddeld van R8 525 verkoop. De Witt Hodgson van Grootfontein Dorpers het ook die duurste ram vir R11 000 aan Hernus le Roux van Williston verkoop.
  • Koggelramme: 10 koggelramme is op die veiling aangebied en hulle is teen ’n gemiddeld van R2 020 verkoop. Die duurste ram het aan Waterkloof-boerdery behoort en is vir R2 100 aan De Witt Hodgson van Grootfontein Dorpers verkoop.
  • Meatmaster-ooie: Die Meatmaster-ooie is besig om hoog in aanvraag te word en daar is 248 ooie teen ’n gemiddelde prys van R2 829 verkoop. Die duurste ooi was die eiendom van BV-boerdery Dienste en is vir ’n uitstekende prys van R4 250 aan Koppieshoogte-boerdery van Weldrif verkoop.
  • Meatmaster-ramme: Slegs nege ramme is te koop aangebied en hulle is teen ’n gemiddelde prys van R7 055 verkoop. Die duurste Meatmaster-ram het aan Wicus Bruwer behoort en is vir R10 000 aan ACM Landboudienste van Wellington verkoop.
  • Persie-ooie: Die 120 Persie-ooie het ’n gemiddelde prys van R2 239 behaal en die duurste ooi is vir R2 850 verkoop. Die Swart Skilder Persies het ook goeie pryse gehaal en hier is die duurste Persie, wat aan Daniel Vermeulen behoort het, vir R28 950 aan ALB Abattoir van Hopetown verkoop.
  • SA Whites-ooie: Hier het 69 ooie onder die hamer gekom en hulle is teen ’n gemiddelde prys van R2 463 verkoop. Die duurste ooi kom uit die kudde van Wiese Besigheidstrust en is vir R2 500 aan Daniel Vermeulen van Carnarvon verkoop.
  • Van Rooy-ramme: Hoewel daar slegs 5 ramme te koop aangebied is, het hulle ’n goeie gemiddelde prys van R8 500 stuk behaal. Die duurste ram was ook die eiendom van Wiese Besigheidstrust en hy is vir R10 000 aan Daniel Vermeulen van Carnarvon verkoop.
  • Witdorper-ooie: Die Witdorper-ooie het ook baie kopers se aandag getrek. 219 ooie is teen ’n gemiddelde prys van R2 924 verkoop. Dit was die beste gemiddelde prys onder die skape. Die duurste ooi het aan Krügel Witdorpers behoort en sy is vir R3 750 aan BJG Cronje van Hopetown verkoop.
  • Witdorper-ramme: Daar is 35 Witdorper-ramme aangebied en hulle is teen ’n gemiddeld van R14 628 verkoop. Die duurste prys vir ’n Witdorper-ram was R24 000. Hy het ook aan Krügel Witdorpers behoort en is aan New Gro Farming van Kanoneiland verkoop. Dit was ook die beste gemiddelde prys en die beste prys wat vir ’n ram op die veiling betaal is.
  • Kruisras-ooie: Daar is 40 ooie aangebied wat teen ’n gemiddeld van R2 100 verkoop is. Die duurste ooi was van Rietfontein-boerdery en sy is vir R2 100 aan Kareeberg Vleis op Williston verkoop.
  • Boerbok-ooie: Die Boerbokke het ook uitstekende pryse behaal. Vir die 37 boerbok-ooie op die veiling was die gemiddelde prys R7 162 en die duurste prys vir ’n ooi was R28 000. Sy het aan Casper Byleveld van Nico Botha Stoet in Britstown behoort en is aan Red Coral Investment op Lichtenburg verkoop.
  • Boerbok-ramme: Daar is vyf ramme aangebied en hulle is teen ’n gemiddelde prys van R12 700 verkoop. Die duurste Boerbokram is vir R21 000 verkoop. Hy was die eiendom van Volhard Boerbokstoet en is aan Guilford T/A Postnet Suite in Pretoria verkoop.
  • Kalahari Red-ooie: Op die veiling is 13 Kalahari Red-ooie aangebied en hulle is teen ’n gemiddeld van R5 153 verkoop. Die duurste ooi kom uit die kudde van Bossieveld-boerdery en is vir R5 500 aan Byleveld Familie-boerdery verkoop.
  • Britse Alpyn-bokke: Die 20 Alpyn-bokke wat ook te koop aangebied is, het uitstekend presteer. Onder die 20 wat aangebied is, was die gemiddelde prys sowat R12 000. Die duurste Alpyn-bok kom uit die kudde van Philip van Schalkwyk en is vir R18 000 aan Byleveld Familie-boerdery verkoop.
  • Saanen-ooie: Die Saanen-ooie het ook goeie pryse gekry. Die duurste ooi het aan Marnus Coreejes behoort en is vir R10 000 aan Spangenberg FWC van Keimoes gekoop.
  • Saanen-ramme: Ockert Vermeulen het die duurste ram in hierdie afdeling gehad en hy is vir R2 000 aan Rudman SWR van Kleinpoort verkoop.
  • Kruisras-melkbokke: Bennie Coetzee het die duurste kruisras-ooi vir R5 500 aan Spangenberg FWC van Keimoes verkoop. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must Read

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

Meet the new NAMC board