Tye verander vinnig en in hierdie Vierde Industriële Rewolusie waarin ons verkeer word sakemanne, onder wie die landbougemeenskap, geforseer om meer doeltreffend te werk, nuut te dink en die hulpmiddels binne hul bereik in te span om op nuwe maniere te boer en besigheid te doen. So is vee- en wildveilings ook besig om ’n nuwe baadjie aan te trek en veilingshuise word genoodsaak om deel van die proses te word. Aanlynveilings het ’n paar jaar gelede al kop uitgesteek en raak daagliks al hoe gewilder onder kopers én verkopers. Om aanlyn besigheid te doen is internasionaal die ‘nuwe normaal’ en die veilingsbedryf raak nou deel hiervan.

Volg hierdie skakel om te luister na die AgriOnAir-potgooi waarin bekende afslaer Mike Killassy met Hennie Maas gesels oor die toekoms van veilings:

Drie soorte aanlynveilings

In Suid-Afrika is daar drie soorte aanlynveilings wat reeds in gebruik is:

  • Lewende videostroom-veiling: Hier word diere tydens ’n tradisionele veiling in die ring opgeveil en kopers kan persoonlik by die veiling ’n bod insit of deur middel van ’n aanlynfasiliteit wat beskikbaar is bie.
  • Tydgebonde veiling: Foto’s en video’s van die diere word vertoon en die onderskeie lotte maak vir ’n sekere tydperk oop, waartydens kopers kans het om hul bod in te sit. So ’n lot bly vir ’n dag of twee of selfs langer oop en kan baie tydsaam wees.
  • Digitale lewende veiling: Foto’s en video’s van die diere word vertoon, maar die diere bly op die plase van die verkopers, terwyl die kopers op die diere bie. Hierdie veiling is minder tydsaam en word gewoonlik binne ’n kort tyd afgehandel. Die verkopers weet onmiddellik watter prys hulle vir hul diere gekry het en die kopers kan dadelik reëlings begin tref om die diere op te laai.

Een van die voorlopers van digitale lewende veilings is Petrus van Heerden, stigter van Beeswinkel, ’n veilingshuis wat elke week twee kommersiële veilings aanlyn aanbied en ook op Vrydae om 14:00 beeste in Namibië op dieselfde platform opveil.

Petrus van Heerden

Hy vertel dat hy drie jaar gelede, toe die wildbedryf al hul eerste aanlynveilings begin hou het, reeds hierdie gaping in die mark gesien het. Hy het besef hierdie soort veilings behoort nie net vir stoet- en wildboere beskore te wees nie, maar ook as alternatief vir die gewone veeboer wat elke week sy diere na ’n tradisionele veiling moet aanry.

“Daar is nie iets soos ’n teerpad as dit by nuwe idees en innovasie kom nie. Ons het klein begin en aanvanklik ook foute gemaak, maar ons het vinnig uit daardie foute geleer. Vandag het ons 2 500 geregistreerde gebruikers van reg oor die land wat elke week aan ons veilings deelneem.

“Die voordele wat daaruit spruit is ongelooflik. Beide die koper en verkoper spaar baie tyd en geld, en daar is baie minder stres vir die diere. Verkopers kan besluit waar hulle wil koop en ’n roete uitwerk hoe hulle die diere gaan oplaai en die veilingshuis, wat in die middel staan, het baie minder administratiewe en logistieke rompslomp,” verduidelik hy.

Besparings vir almal

Volgens hom hou aanlynveilings groot besparings in vir al die betrokke partye. Die veilingshuis wat digitale lewende veilings aanbied het dalk aanvangskapitaalkoste nodig om die tegnologie in plek te kry, maar daarna kan die veiling honderd maal groter word sonder dat daar ekstra personeel, kommissies en so meer betaal hoef te word. Met ’n goeie administratiewe stelsel is die minimum personeel nodig en kostes soos die huur van veilingskrale en werkers om die diere te hanteer, is ook iets van die verlede.

Die verkoper spaar ook baie geld omdat hy nie nodig het om sy diere te vervoer nie. Die diere ondergaan ook nie onnodige gewigsverlies, wat die prysinkomste negatief vir die verkoper beïnvloed, nie. As hy dus nie sy minimum prys kry nie, is dit nie nodig om die dier terug te neem plaas toe of noodgedwonge ’n swak prys te aanvaar nie.

Lees meer oor die moontlikhede wat aanlynveilings bied hier.

Die koper trek self groot voordeel uit hierdie digitale lewende veiling, want hy kan die transaksie vanuit sy kantoor beklink. Sommige groot voerkrale het tot 50 aankopers wat oor die land werk. Nou is minder kopers nodig en kan die voerkraaleienaars spaar op hul grootste uitgawe, naamlik vee-aankope. Almal werk vanaf die kantoor en daar kan ’n roete uitgewerk word om die diere op te laai.

Logistieke aanpassings

Fanie Lombard

André Kock en Seun Afslaers van Vryburg is ook baie suksesvol met hul aanlynveilings en volgens Fanie Lombard, finansiële hoof van dié veilingshuis, is die idee besig om vinnig onder boere pos te vat. Hulle maak veral gebruik van lewende videostroom-veilings, waar kopers die veiling fisies kan bywoon of aanlyn kan deelneem.

Hy sê die afgelope twee jaar het omstandighede sodanig verander, dat boere al hoe meer gedwing word om van tegnologie gebruik te maak om hul diere te verhandel. Die geloofwaardigheid en deursigtigheid daarvan moedig al hoe meer kommersiële en selfs opkomende boere aan om aanlyn besigheid te doen.

Volgens hom is dit voordelig vir die veilingshuis ook, aangesien dit nie regtig ’n administratiewe kopseer is om ’n aanlynveiling op te stel nie. “Die belangrikste komponent is om seker te maak dat daar goeie selfoonopvangs by die veilingslokaal is. Indien die koper aanlyn aan die veiling wil deelneem, moet hy ook seker maak sy internetkonneksie is voldoende.”

Fanie sê hulle kry hulp van buitepersone wat die tegniese aspekte van die veiling verskaf en bestuur. “Ons hanteer nog die administrasie aangesien kopers steeds moet registreer en hul inligting op die stelsel gelaai word, net soos by enige tradisionele veiling. Sodra ’n transaksie afgehandel is, stuur ons die koper se faktuur per epos. Daar is dus nie ’n administratiewe las op die veilingshuis om ’n aanlynveiling aan te bied nie.”

Invloed op kommissie

Fanie verduidelik dat daar wel ekstra koste is wat die veilingshuis se kommissie in gedrang kan bring, aangesien die buitemaatskappy wat die aanlyngedeelte van die veiling behartig, uit die kommissie betaal moet word. Hy voeg egter by dat dit die enigste ekstra koste is, terwyl die veiling baie groter kan wees as ’n tradisionele veiling en die wins dus meer.

“Die nuwe formaat het geensins ’n invloed op die kommissie van agente nie en in gevalle waar die diere nie fisies op die veiling is nie, word daar baie op personeelkoste gespaar.”

Geloofwaardigheid van veilings

Geloofwaardigheid speel by elke veilingshuis ’n baie belangrike rol. As ’n koper of verkoper oor die eerlikheid van ’n veilingshuis twyfel, begin die rooi ligte flikker.

Petrus vertel dat hulle stelsel so opgestel is dat ’n persoon wat oneerlik wil wees, maklik uitgevang en geblok sal word om nie weer te kan deelneem nie. “Ons naam is vir ons belangrik en daarmee saam ook die reputasie van beide ons kopers en verkopers. Ons doelwit is dat almal eerlike besigheid met mekaar doen.”

Uit alle oorde blyk dit dat aanlynveilings teen ’n enorme spoed toeneem. Hoewel daar altyd plek sal wees vir tradisionele veilings waar die sosiale aspekte en samesyn van boere ook ’n belangrike rol speel, gaan aanlynveilings al hoe gewilder word in die vinnig ontwikkelende omgewing waarin ons leef.

Petrus sê dat boere geld kan spaar met tegnologie. Hulle moet egter hulle huiswerk deeglik doen oor wat die totale bemarkingskoste is, voor hulle besluit deur wie hulle wil bemark.

Vir meer inligting, skakel Petrus van Heerden by 083 231 0528 en Fanie Lombard by 0853 927 1981. – Koos du Pisanie, Veeplaas