Geslagsiektes onder kleinvee

687

Estimated reading time: 3 minutes

Geslagsiektes onder kleinvee kom oral voor. Dit is nie beperk tot sekere gebiede of rasse nie en die algemeenste geslagsiektes onder ramme is Brucella ovis, Brucella melitensis en peestersiekte.

Peestersiekte

Dr Pieter Botes, ’n veearts, en Lizaan Cilliers, ’n dieregesondheidstegnikus, albei van Prieska, sê hulle ondersoek besonder baie gevalle van peestersiekte onder kleinvee, maar nog min navorsing is daaroor gedoen en behandeling is dikwels ’n skoot in die donker.

Lees hier oor die veeboer se noodhulpkas.

Aan die begin van die kondisie vorm blasies voor op die peester, wat later rooi en selfs bloederig en geswel raak. Dit kan ook rooi wees as gevolg van ontsteking en kan in erge gevalle tot letsels lei. Die bakterie kan sluimerend in die ram se geslagsdele bly. “Hy kan dalk skoon wees ná behandeling, maar sodra hy weer by die ooie kom, kan die siekte weer kop uitsteek.”

Dr Botes sê verskillende behandelings kan toegepas word, want wat by een kudde werk, is nie noodwendig ewe suksesvol by die volgende nie. Die behandeling wissel van anti-inflammatoriese middels en antibiotika tot ontsmettingsmiddels.

Die beste benadering is voorkoming, deur elke ram wat aangekoop word, klinies te ondersoek en dan jaarliks wéér te ondersoek voordat hulle by die ooie gesit word. Daarby beveel Lizaan aan dat die ramme eers tussen ’n paar ou ooie wat geslag gaan word, gesit moet word, en hulle ná ’n week of twee te ondersoek om seker te maak die ramme is skoon.

Brucella ovis

Brucella ovis, of bybalontsteking soos dit algemeen bekendstaan, is nog ’n ernstige geslagsiekte wat onder ramme voorkom. Omdat dit nie ’n staatsbeheerde siekte is nie, is dit moeilik om die probleem te reguleer en uit te wis.

Volgens dr Botes is daar nie juis kliniese simptome nie. “Daar kan wel knoppe in die byballe wees, wat ’n rooi lig is. Omdat die siekte in die testes gelokaliseer is, kan dit deur seminale vloeistof, semen en urine oorgedra word. Dit veroorsaak ook ontsteking in die geslagsdeel, met die gevolg dat die sperma verminder of selfs doodgaan en tot laer vrugbaarheid lei.

Brucella ovis is hoogs aansteeklik en ramme kan dit oordra as hulle aan mekaar ruik, lek of speel. Daar is nie ’n doeltreffende behandeling nie en voortydige optrede is die enigste manier om dié siekte uit die kudde te hou. Die beste voorkomingsmaatreël is om jou ramme vroegtydig in te ent. Jong ramlammers moet voor die ouderdom van vier maande ingeënt word. Ramme moet ook getoets word voordat hulle by die ooie gesit word.” Lees meer oor teelramtoetsing.

Lizaan vertel dat hulle al tot so lank as twee jaar gesukkel het om ’n kudde skoon te kry. “As ramme in ’n kudde eers positief toets, is die beste raad om ál die ramme – insluitend koggelramme – se bloed te laat toets. Positiewe ramme moet uit die kudde verwyder word en die proses behoort elke twee maande herhaal te word.”

Brucella melitensis

Dr Botes noem dat Brucella melitensis ook ’n ernstige geslagsiekte is, maar meestal by bokke voorkom. Daar is wel gevalle waar dit by skape opgemerk is, maar dit is seldsaam. Dit is ’n staatsbeheerde siekte en kom onder ramme én ooie voor.

Smoor geslagsiektes in die kiem.

Die simptome van B. melitensis sluit aborsies en verlaagde melkproduksie in. Dit is ook oordraagbaar na mense en kan Maltakoors veroorsaak. Inenting is die enigste manier om die siekte te beheer. “Die beste metode is om die ooie een maal per jaar in te ent, en om ook alle nuwe ooie in te ent vóór hulle deel van die kudde word,” sê hy. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Pieter Botes by 083 452 9879 of Lizaan Cilliers by 082 220 3638.