Estimated reading time: 4 minutes
Dekgewasse speel ’n al hoe belangriker rol in produksiestelsels, en wêreldwyd plant ál hoe meer produsente dié gewasse aan. Simon Hodgson, bestuurder van dekgewasse by AGT Foods Africa, sê nie net dra dekgewasse by tot die fisiese, voedings- en estetiese verbetering van grond en plase in die geheel nie; dit verhoog ook die produsent se winsgewendheid.
Dekgewasse en bewaringslandbou
Simon sê dekgewasse is ’n belangrike komponent van bewaringslandbou, aangesien dit as grondbedekker dien en vegetatiewe diversiteit aan ’n boerdery verleen.
Ongeag hoe dit bestuur word, voeg dekgewasse organiese materiaal by tot die grond – bogronds in die vorm van lote en ondergronds as wortelstelsels – wat die grond fisies verbeter. Dit verminder wind- en watererosie en verhoog waterindringings- en waterhouvermoë, wat tot beter benutting van reënval en besproeiingswater lei.

Grondverdigting neem ook af weens die teenwoordigheid van materie tussen die gronddeeltjies, wat die grondstruktuur natuurlik verbeter. Grondvrugbaarheid neem aansienlik toe, aangesien die groeiende mikrobebevolkings in die grond die organiese materiaal verteer en voedingstowwe in die wortelsone vrystel vir gebruik deur opvolg- of permanent aangeplante gewasse.
Simon sê die biodiversiteit wat dekgewasmengesels bied, stel produsente in staat om vinniger en makliker hul veelvoudige doelwitte met die grond te bereik, eerder as om enkelspesiegewasse aan te plant.
Beplanning en bestuur
“ ’n Produsent se doelwit met hierdie mengsels is belangrik, want net soos by die aanplant van ’n kontantgewas, moet elke faset goed deurdink word. Sodra die redes vir die aanplant van dekgewasse en die doelwitte wat daarmee bereik moet word bepaal is, moet ’n bestuursplan ontwikkel word om die praktiese uitvoering van die projek te bewerkstellig.”
Die metode van aanplant moet vooraf bepaal word. Dit kan wissel van handsaai tot hoogs tegnologiese geenbewerkingspraktyke, of daar kan met ’n vliegtuig uit die lug gesaai word. Die saad-/planttelling per hektaar moet in ag geneem word en in dié verband is saadgrootte belangrik.
Sogenaamde plantargitektuur speel ook ’n rol en plante met soortgelyke groeiwyses, behoort saam aangeplant te word. Die spesies waaruit ’n spesifieke mengsel bestaan, word deur die produsent se doelwitte en bestuursplan bepaal. Om die biodiversiteit te verhoog, moet soveel as moontlik verskillende dekgewasfamilies by die mengsel ingesluit word.
Dekgewasmengsels
Simon sê die families van dekgewasse kan peulgewasse, graansoorte, grasse en blomplante insluit. “Daar is geen reëls vir die samestelling van mengsels nie, slegs algemene riglyne wat vir die produsent se doelwitte en omgewing aangepas kan word. Die dekgewasmengsel wat aan die produsent se behoeftes en doelwit voldoen, is die perfekte mengsel.

“Elke familie in die mengsel vervul wel ’n spesifieke rol. Daarom is dit nodig om die agronomie en eienskappe van die gewas te ken. Dit is byvoorbeeld welbekend dat peulgewasse atmosferiese stikstof bind deur middel van hul simbiotiese verwantskap met endofitiese of wortelkoloniserende swamme soos die Rhizobium-bakterieë,” verduidelik hy. Só kan die grond se stikstofstatus verbeter word.
Voedingstof- en insekbeheer
Ander gewasse dra weer by tot die vrylating van fosfate in die grond, terwyl sekere Brassica-spesies ook tot die bekamping van nematodes in grond bydra, indien dit op ’n spesifieke wyse bestuur word. Sorghums met hoë blousuurvlakke bevat eienskappe wat aalwurms teenwerk.
Graangewasse is goeie gebruikers van oortollige stikstof in die grond en sommige daarvan, veral swarthawer, het allelopatiese eienskappe wat sekere onkruide onderdruk.
Die aanplant van dekgewasmengsels kan help om die insekbevolkings op plase te bestuur of verander, deurdat dit ’n gewenste habitat vir roof- en bestuiwingsinsekte skep. Habitatbestuur word al hoe meer toegepas om plaaginsekspesies te bekamp. Dit lei weer tot laer bespuitingskoste, aangesien roofinsekte die plae onder drempelvlakke hou. – Christal-Lize Muller
Vir meer inligting, kontak Simon Hodgson by shodgson@agtfoods.com of besoek www.agtfoods.co.za.