Estimated reading time: 4 minutes
Grondbesettings in Suid-Afrika kan in twee motiefgroepe verdeel word – hawelose mense wat geen ander heenkome het nie, en mense wat met ’n politieke motief strukture oprig en grond beset.
Persone wat grond beset en bewoon word deur die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) beskerm teen uitsetting sonder ’n wetlike hofbevel. Uitsettings word ook regtens deur die balju van die hof waarin ‘n uitsettingsbevel bekom is, uitgevoer.
Aan die kant van grondeienaars bepaal die Grondwet dat geen persoon op ’n eensydige wyse van eiendom ontneem mag word nie. Sodanige ontneming van eiendom kan deur beide individue en die staat gepleeg word, en derhalwe verbied die Grondwet ook enige wetgewing wat eensydige ontneming van eiendom sou veroorloof.
Tussen hierdie twee teenpole in die Grondwet bestaan ’n doolhof van bepalings wat in omstandighede waar reaksie op ’n grondbesetting nodig is, oorweeg moet word. Dit is teen dié agtergrond dat die Wes-Kaapse Hoё Hof onlangs argumente aangehoor het oor ’n gemeenregtelike (regsbeginsels wat geskiedkundig en vanuit ander lande deel van ons regstelsel geword het) remedie, wat bekendstaan as kontraspolie.
Kontraspolie en spoliasie
Kontraspolie word verstaan as ’n teenvoeter vir dit wat in ons regstelsel as spoliasie bekendstaan. Spoliasie het ’n noue verwantskap met die Engelse woord spoil en in eenvoudige Afrikaans word dit as besitversteuring (spoiling of possession) beskryf.
Indien jou besit van enige saak versteur word deur iemand wat die reg in eie hande neem, sal jy geregtig wees om die hof te nader by wyse van ’n remedie – ’n mandement van spolie – om die versteuring van besit deur ’n hofbevel te herstel. Die mandement van spolie is deel van ’n gevorderde wyse van geskiloplossing in ’n beskaafde land waar die oppergesag van die reg seëvier en landsburgers ontmoedig word om die reg in eie hande te neem.
Spoliasie of besitversteuring kan op verskillende wyses plaasvind. Die fisiese neem van iemand se eiendom of die ontneming van toegang tot ’n perseel, is maar enkele voorbeelde. Kontraspolie is ’n toelaatbare reaksie op spoliasie in ons regstelsel. Dit beteken eenvoudig dat ’n slagoffer van spoliasie op grond van kontraspoliasie ’n saak waarvan die besit versteur was, regtens dadelik of spontaan en fisies kan terugneem, sonder enige regsgevolge vir die slagoffer van spoliasie.
Grondbesettings kan gesien word as ’n vorm van spoliasie. Die vraag waaroor die Wes-Kaapse Hoё Hof moet beslis, is of kontraspolie (spontane en onmiddellike optrede om grondbesettings fisies te voorkom) geoorloof is binne die bestek van die bogenoemde grondwetlike bepalings, en in besonder binne die raamwerk van uitsettings wat nie sonder ’n hofbevel mag geskied nie.
Kontraspolie en grondontneming
In wese beteken dit dat die hof een van twee keuses gaan hê, naamlik om die gemenereg ten opsigte van grondbesettings te handhaaf, maar duidelike riglyne stel oor die wyse waarop grondeienaars kontraspolie mag gebruik om grondbesettings te voorkom, of om te bepaal dat die remedie van kontraspolie nie meer by grondbesettings bestaansreg het indien dit aan die hand van die Grondwet se bepalings rondom uitsetting gemeet word nie.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Economic Freedom Fighters (EFF) is die ander party tot dié saak, en dit is uiteraard die instelling en politieke party se standpunt dat kontraspolie nie meer ’n bestaansreg by grondbesettings het nie.
Ongelukkig beteken die verwerping van kontraspolie as ’n regsremedie by grondbesettings, dat grondeienaars of persone wat grond wettig op ander wyses as eiendomsreg besit, minder beskerming van eiendomsreg vanuit regsweё sal geniet. Dit behoort, saam met die handhawing van die oppergesag van die reg, ’n sterk argument te wees ten gunste van die behoud van kontraspolie by grondbesettings.
Staatsplig om regte te beskerm
Artikel 7 van die Grondwet plaas ’n plig op die staat om die Grondwet se Handves van Regte te eerbiedig, beskerm en bevorder. Hierdie plig sluit die grondwetlike bepalings van die Grondwet om eiendomsreg te beskerm, in.
Die saak in die Wes-Kaapse Hoё Hof sal hierdie kwessie op die spits dryf, maar dit sal in alle waarskynlikheid nie die finale beslissing hieroor wees nie. Hopelik sal hierdie beslissing in die belang van landbou, op ’n positiewe resultaat en die behoud van ’n belangrike regsremedie vir die beskerming van eiendomsreg en teenvoeter vir onregmatige besitversteuring, uitloop. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.



