Friday, October 18, 2024

Ellisras hou ‘n witwarm beesskou in die koue

Estimated reading time: 5 minutes

Dertien bees- en tien kleinveestoettelers het vroeg in Julie die snerpende koue aangedurf om altesaam 116 beeste en 221 bokke by die Ellisras-beesskou ten toon te stel. Altesaam 47 kinders het ook hul vaardighede tydens die skou se Jeugskou gewys.

Ten spyte van die koue en ekonomiese druk was die organiseerders tevrede met die opkoms, sê Guy Emslie, voorsitter van die Ellisras-beesskou. “Ellisras het tradisioneel nog altyd in die eerste week van Julie skou gehou. Aanvanklik was dit die Landbouskou en toe later die Bosveldfees, waartydens die beesskou ook gelyklopend plaasgevind het. As gevolg van Covid 19 het die Bosveldfees egter in duie gestort, maar ons het besluit om steeds met die Ellisras-beesskou voort te gaan.”

Vanjaar is die eerste keer dat die fees ’n kleinvee-afdeling gehad het en organiseerders is reeds besig om te kyk hoe dié afdeling volgende jaar uitgebrei kan word. Nog ’n nuutjie was die feit dat die fees vanjaar ’n sonplaas ryker geword het en gevolglik glad nie van Eskom afhanklik was nie.

Lees meer oor die onlangse Royal Landbou-uitstalling hier.

Brahman-skou

Brahman-telers het oudergewoonte in groot getalle by die Ellisras-beesskou opgedaag en die Wit en Rooi Brahmane het in aparte afdelings deelgeneem.

Arc-en-Ciel se bekende bul, ARC122-19, is as die grootkampioen Wit Brahman-bul aangewys. De Blanque Brahman-stoet se vers, HLT23500, het met die titel van grootkampioen Wit Brahman-koei weggestap.

La-Mapibe Brahman-stoet van Groblersdal se bul, LMP21879, is as grootkampioen Rooi Brahman-bul aangewys, terwyl die Lobram Rooi Brahman-stoet van Ellisras se koei, LB20729, as grootkampioen Rooi Brahman-koei aangewys is.  

Limousin-skou

Die Limousin-skou het ook goeie resultate opgelewer. Devlan Limousins se Spectacular (DL 21 169) is as juniorkampioen- én grootkampioen-koei aangewys. Die seniorkampioen-koei was DL 2091, oftewel Peaceful, wat ook aan Devlan Limousins behoort. Die juniorkampioen-bul, Rhodri (DL 21 132), en die seniorkampioen-bul, Pathfinder (DL 2035), behoort albei aan Devlan Limousins. Pathfinder is ook as die Limousin-skou se grootkampioen-bul aangewys.

Beesskou-interraskompetisie

Die Wit en Rooi Brahmane, Limousins en ‘n Dexter-bul het aan die skou se interraskompetisie deelgeneem. Die interras grootkampioen-koei en reserwe opperste skoukampioen was Devlan Limousins se Spectacular (DL 21169).

Arc-en-Ciel se indrukwekkende Wit Brahman-bul, ARC122-19, het uiteindelik die titels van grootkampioen-bul en opperste skoukampioen opgeraap. Dit is die derde keer dat dié Wit Brahman-bul as die interraskampioen by ’n skou aangewys is, sê Cor Loggerenberg, algemene plaas- en kuddebestuurder van Arc-en-Ciel in Secunda, Mpumalanga.

“Van sy kalfie-dae af het hy my trots gemaak. Hy was eers kalfiekampioen, toe intermediêre kampioen, juniorkampioen en vir die afgelope twee jaar het hy orals waar ons met hom geskou het, as seniorkampioen uit die stryd getree.” In Desember 2022 is hy as die Champion of the World-fotokompetisie se wenner vir Asië en Afrika aangewys, en het wêreldwyd derde gekom. Aan die einde van September vanjaar sal die bul egter die einde van sy skouloopbaan bereik wanneer hy 60 maande (vyf jaar) oud word.

Lees meer oor die onlangse nasionale Boran-veiling hier.

Kleinveeskou-resultate

Vanjaar is slegs Kalahari Reds geskou, maar die organiseerders hoop om dié afdeling volgende jaar uit te brei. Die Salmon van Huyssteen Boerbokstoet in Pretoria het die topram en -ooi op die skou gelewer.

“Alles gaan oor goeie genetika, voer en weiding. As ‘n mens met goeie genetika teel, sal alles goed uitwerk,” sê van Huyssteen. “Die Kalahari Reds is nog ’n relatiewe jong bedryf in Suid-Afrika, so daar is baie ruimte om te ontwikkel. Die genetika word uitgevoer, wat baie geleenthede binne die bedryf skep.” Hy sê dit is belangrik om die getalle van Kalahari Reds in die land te verhoog.

Die juniorkampioen Kalahari Red-ram was 23-004 uit die Salmon van Huyssteen Boerbokstoet. Die reserwekampioen was 24-001 van die Dhidejak Boerbok- en Kalahari Reds-stoet van Lephalale. Stone (22-117) van die Vandergoat Kalahari Red- en Boerbokstoet van Lephalale is as seniorkampioen Kalahari Red-ram aangewys en BLG Stoettelers se 23-0325 as die reserwe seniorkampioen.

Die juniorkampioen Kalahari Red-ooi was 23-22 van die Salmon van Huyssteen Boerbokstoet. Die reserwe juniorkampioen-ooi was 23-1068 van BLG Stoettelers. Die seniorkampioen Kalahari Red-ooi was 22-225, wat aan Dhidejak Boerbok- en Kalahari Reds-stoet behoort, en die reserwe seniorkampioen-ooi was 22-56 van Salmon van Huyssteen.

Jeugskou

Kinders is by alle aspekte van die skou betrek en Saterdag het hulle kans gekry om hul skouvaardighede ten toon gestel.

Johnny Potgieter van Hoërskool Wagpos in Brits as die senior jeugskouwenner aangewys met Anika Pelser van Hoërskool Wagpos in die tweede plek en Clair Coppen van die Merensky Landbou-akademie in Tzaneen derde.

In die junior jeugskou was Marlenè de Klerk eerste, Logan Langenhoven tweede en Marius de Klerk derde. Langenhoven is ’n leerling van Merensky Landbou-akademie, terwyl albei De Klerks deur die De Blanc-stoet ingeskryf is. – Susan Marais en Deidré Louw , Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Deidré Louw by deidre@plaasmedia.co.za.

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe...

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...