Estimated reading time: 2 minutes
Die bestuur van die 37ste Ellisras-beesskou, wat vanjaar van 10 tot 12 Julie aangebied sou word, het besluit om die skou te kanselleer as ’n voorsorgmaatreël om moontlike verspreiding van bek-en-klouseer (BEK) in en om Limpopo te voorkom.
Guy Emslie, die voorsitter van die skoukomitee, sê hoewel daar nog nie uitbrekings van BEK in Ellisras was nie, is die risiko vanjaar net te groot om hierdie kans te waag. By die drie laaste skoue was hul biosekuriteit in plek en op peil volgens die wetlike vereistes, maar die bestuur voel die risiko is vanjaar groter as die maatreëls.
Groot skou was verwag
Die reëlingskomitee het vanjaar tussen 150 en 200 beeste verwag. Daar word elke jaar met pragtige Wit Brahmane, Rooi Brahmane, Limousins, en Dexters op Ellisras geskou. Verder word daar ook jaarliks sowat 400 stuks kleinvee ten toon gestel. Hierdie diere kom van sover as Wolmaransstad in die Noordwesprovinsie en van KwaZulu-Natal.
Emslie sê ook die belangstelling van telers wat aan die skou wou deelneem was vanjaar groot, maar op aanbeveling van die plaaslike veearts, dr Niel Kriel, het hulle op die nippertjie besluit om eerder die skou te kanselleer ten einde die belange van die telers in ag te neem. Hy het egter bygevoeg dat hulle volgende jaar beoog om ’n nog groter geleentheid as verlede jaar s’n aan te bied.
Die skou sou vanjaar op ’n nuwe terrein aangebied word. Dr Kriel sê die verbeterings en veranderings op die terrein het reeds ver gevorder en die finansiële uitgawes was groot. Die huidige situasie met die verspreiding van BEK na verskeie plekke het hulle egter genoodsaak om vanjaar eers briek aan te draai.
Dr Kriel sê hy het met verskeie veeartse gesels wat nou by die bestuur van BEK-uitbrekings betrokke is, en op grond daarvan het die komitee besluit om die beweging van diere uit verskeie gebiede in die provinsie én omliggende provinsies tot die minimum te beperk. – Koos du Pisanie, Plaas Media
Vir verdere navrae in hierdie verband, kontak Guy Emslie by 079 514 7061.


