Estimated reading time: 6 minutes
Plaas Media het vanjaar vir die elfde keer sy Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie aangebied. Vanjaar se kompetisie het 88 inskrywings bestaande uit 67 mielie-, 15 hawer- en ses voersorghum-inskrywings ontvang. Hiervan was 60 bunkers, 22 sakke en ses kuilvoerbale.
Vanjaar se inskrywings
Altesaam 21 maatskappye het hulself of hul kliënte vir vanjaar se kompetisie ingeskryf. Die maatskappye was Quantum Foods/Nova Feeds, Exact Silage, SSK, AFGRI Klipheuwel, Bloekomboom Boerdery, Sparta Beef, Nutribase, Kemin Industries, Lake Agriculture, Sparta Baby Beef, Heinz Boerdery, Pannar Seed, Strapping & Profile Manufacturers, Budissa Bagger, TWK Agri, Pioneer Seed, Meadow Feeds Natal, Meadow Feeds Randfontein, Van Greunen Boerdery, AFGRI Veevoere, en Leading Edge.
Borge
Die hoofborg van vanjaar se kompetisie was weereens Santam Landbou, wat sedert die aanvang van die kompetisie as naamborg optree. Die prys- en kontantborge was Pannar Saad, Nutribase, Pioneer Saad, TWK Agri, Raniplast en Orkel. Verskeie nuwe maatskappye was vanjaar by die kompetisie betrokke as prys- of kontantborge, naamlik Euro Bagging, Novatex en Advanta Saad. Die laboratoriumvennoot was weereens Labworld.
Monsterneming
Die monsterneming is deur twee nagraadse Veekundestudente, Frans Malan en Stefan Corbet, van die Universiteit van Pretoria behartig. Richardt Venter van AgSci Unlimited, die kompetisie se medekoördineerder, het die studente tydens ‘n spesiale opleidingsdag in die monsternemingsproses opgelei. Die span het vanjaar ‘n hele 14 641km afgelê.
Die monsters is deur dr Elrisa Taljaard en haar span by Labworld getoets. Die data-ontleding is deur die beskermheer van die kompetisieprotokol, prof Robin Meeske, voorheen van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua-navorsingsplaas gedoen. Prof Meeske het intussen afgetree en is vanjaar vir die laaste keer by die kompetisie betrokke.
Ontmoet die kategoriewenners
Plaas Media en Santam Landbou kondig met trots eerste drie plekke in elke kategorie aan.
In die mieliekuilvoerkategorie:
Posisie | Produsent | Boerdery | Ingeskryf deur | Stoorvorm |
1 | Dewald te Water | Te Water Boerdery | Exact Silage | Baal |
2 | Michael van Greunen | Van Greunen Boerdery | Nutribase | Bunker |
3 | Johan Harmse | Rockdale Industries | TWK Agri | Bunker |
Dewald te Water neem al sedert 2021 aan die kompetisie deel toe die onderneming onder die vaandel van Exact Silage, kuilvoerbale in die toetskategorie begin inskryf het. Hy het intussen twee keer die sorghumkategorie gewen en ook al ‘n tweede plek in die mieliekategorie verwerf.

In die voersorghumkuilvoerkategorie:
Posisie | Produsent | Boerdery | Ingeskryf deur | Stoorvorm |
1 | Marcu Jansen van Rensburg | Winterstorm Investments | Kemin Industries | Bunker |
2 | Arno Joubert | ALS Kuilvoer | Strapping & Profile Manufacturers | Kuilvoersak |
3 | Marnus Fleischmann | Ternus Boerdery | Budissa Bagger | Kuilvoersak |
Marcu Jansen van Rensburg is al ‘n ou bekende in kuilvoerkringe en het verskeie kere in die verlede onder die topposisies in die sorghumkuilvoerkategorie geëindig.

In die hawerkuilvoerkategorie:
Plek verwerf | Produsent | Boerdery | Ingeskryf deur | Stoorvorm |
1 | Brian Hume | Bakenskop Boerdery | SSK | Bunker |
2 | JK Basson | Ocean Breeze Holsteins | Quantum Foods / Nova Feeds | Bunker |
3 | Robbie Eksteen | Saamstaan Boerdery | AFGRI Veevoere | Bunker |
Ons verwelkom vanjaar ‘n nuwe wenner in die hawerkategorie. Brian Hume het in 2024 vir die tweede keer aan die kompetisie deelgeneem en het die eerste posisie opgeraap met uitstekende kuilvoer.

En die 2024 Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkoning is …
Dewald te Water! Hierdie is ‘n welverdiende oorwinning en ‘n eerste vir die kompetisie, want dit is ‘n kuilvoerbaal wat stof in die ander deelnemers se oë geskop het.
Te Water het in 2021 met Burger Marais en Johan Kritzinger, eienaars van Kameeldrift Voerkraal, hande gevat om Exact Silage te begin. In ‘n artikel met Veeplaas het Te Water gesê hy glo dit maak sin om net die beste gehalte mielies, wat die beste bron van stysel, proteïen en ruvoer is, in te kuil. Maak seker jy skaf die Januarie-uitgawe van Veeplaas aan om meer oor sy kuilvoerpraktyke te lees.
Besonderse resultate
Vanjaar se kompetisie het interessante resultate opgelewer. Marcu Jansen van Rensburg se sorghumkuilvoer het buitengewoon goed presteer en is algeheel derde, onder Te Water en Michael van Greunen se mieliekuilvoer, geplaas.
Volgens Richardt Venter, mede-koördineerder van die kompetisie, is Winterstorm Investments een van die grootste produsente van voersorghumkuilvoer in Suid-Afrika. Hierdie Noordwes-gebaseerde onderneming se kuilvoer word in kleiner mates verpak en aan koöperasies en veevoerdepots verskaf. Hulle handhaaf baie hoë standaarde en laat selfs hulle kuilvoer deur ‘n onafhanklike konsultant oudit. Hulle meet daagliks sekere aspekte van hulle kuilvoer, nie net tydens die kuilvoermaakproses nie, maar ook tydens verpakkings. Al die bestuurspraktyke wat hulle implementeer verseker dat hulle baie goeie gehalte kuilvoer produseer en verskaf.
Oor Briam Hume se kuilvoer kan baie gesê word, maar in ‘n neutedop het hy alles reg gedoen. Hume se kompaksie, prosessering, en droëmateriaal snyvenster was optimaal, met korrekte fermentasievlakke, stabiele kuilvoer, en goeie veselvlakke. Sy kuilvoer is die perfetke voorbeeld van voldoening aan die kompetisiestandaarde.
Nuwe dinge op die horison
Die kompetisie-koördineerders het dit goed gedink om in 2025 die kompetisie uit te brei om ook erkenning te gee aan die stoorvorme wat die beste presteer, nie net die onderskeie gewasse nie. Daar sal dus ses kategorieë wees waarin produsente ‘n kans sal staan om te wen:
- Mieliekuilvoer
- Voersorghumkuilvoer
- Hawerkuilvoer
- Beste baal (enige gewas)
- Beste bunker (enige gewas)
- Beste kuilvoersak (enige gewas)
Daar sal uiteraard ‘n algehele wenner aangekondig word vanuit die ses kategoriewenners. Weereens baie geluk aan vanjaar se uitsonderlike wenners wat dikwels onder moeilike omstandighede moes produseer. Opregte dank ook aan die naamborg, Santam Landbou, en die onderskeie prysborge sonder wie hierdie kompetisie nie moontlik sou wees nie.
Vir meer inligting oor die kompetisie, 2025-inskrywings, of ander navrae, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of epos deidre@plaasmedia.co.za