Wednesday, March 12, 2025
HomeAgri NewsDroogte halveer NWK-wins

Droogte halveer NWK-wins

-

Estimated reading time: 3 minutes

Die droogte van 2024 is die grootste rede waarom NWK, die landboumaatskappy met sy hoofkantoor in Lichtenburg (Noordwes), se halfjaarlikse wins met bykans 50% van R133 miljoen in Oktober 2023 tot R69 miljoen in Oktober 2024 getuimel het.

“Ek het in NWK se argiewe gaan rondkyk en hierdie is die twaalfde laagste graaninname wat ons oor die afgelope 48 jaar ontvang het,” sê Pieter Kleingeld, uitvoerende hoof van die NWK-groep. Kleingeld het vroeër vanjaar die leisels by Theo Rabe oorgeneem. Rabe het van die stoel afstand gedoen om op ’n meer voltydse basis te gaan boer.

Volgens ’n NWK-persverklaring het die grootste deel van NWK se bedieningsgebied in kritieke fases van die ontwikkeling van die 2023/2024-oes nie genoeg reën gekry nie en ook gebuk gegaan onder uiters hoë temperature. Dit het beteken dat die gebied net sowat 40% die vorige jaar se oes kon realiseer. Dit is slegs ’n sesde van die gemiddelde mielie-oes.

Tog het die maatskappy se halfjaarlikse inkomste met 1,6% van R2,897 miljard in Oktober 2023 tot R2,943 miljard in Oktober 2024 gestyg. Ondanks die droogte het NWK steeds ’n tussentydse dividend van 14c per aandeel uitgereik. Dis ’n totaal van R15 miljoen wat vir uitkering aan aandeelhouers toegeken is.

Droogte knou segmente

Die droogte het ’n uitkringende effek op talle van NWK se besigheidsegmente gehad. Die handelsegment se wins het van R17 miljoen in 2023 tot R5 miljoen in 2024 getuimel. Swak graanopbrengste het produsente genoop om die rieme dun te sny en wesenlike netto-realiseerbare waarde-aanpassings moes op tweedehandse landboutoerusting gemaak word.

’n Relatief laat seisoen het verder daartoe gelei dat die maatskappy se insetverskaffingsafdeling nog nie op dreef kon kom nie.

’n Stukkie goeie nuus

Volgens die NWK-verklaring is ’n stukkie verblydende nuus dat Epko, die maatskappy se sonneblomoliepersaanleg, ’n wins van R27 miljoen toon nadat sy inkomste van R405 miljoen in Oktober 2023 met R502 miljoen tot R907 miljoen teen 31 Oktober 2024 gestyg het.

Dit volg nadat NWK ’n ooreenkoms met die Ditsobotla-munisipaliteit aangegaan het waarvolgens ’n alternatiewe kragvoorsieningslyn gebou is sodat Eskom elektrisiteit direk aan Epko, die Lottiehalte-silo asook NWK se vloeibarekunsmisfabriek kan voorsien.

Die land is reeds sedert 26 Maart vry van beurtkrag en Epko kon dus teen volle kapasiteit pers. Hoewel persmarges steeds laer as ideaal is, het die uitstekende gehalte van sonneblomsaad tot Epko se uitstekende prestasie bygedra.

’n Sonneblomolieverfyningsaanleg is tans in die implementeringsfase en sal na verwagting tot ’n derde van Epko se perskapasiteit kan verfyn. – Susan Marais, Plaas Media

Must Read

Cutting-edge technology for diagnosing cattle abortions

Estimated reading time: 5 minutes Abortions that occur as a result of pathogen infections lead to economic losses and create public health risks. As a...

Namibië leer by SA-boere