Dohnes wys Bobaasteler-streekswenners en nuwe raad aan

Estimated reading time: 4 minutes

Die Dohne Merino-telersgenootskap se 60ste algemene jaarvergadering (AJV) en toekenningsfunksie het op 30 Januarie vanjaar by Be Human net buite Bloemfontein plaasgevind. Nadat die eerste formaliteite afgehandel is, het dr Bernice Mostert, senior genetikus van SA Stamboek, kortliks gesels oor teelwaardes en kontemporêre groepe. Sy het onder meer verduidelik hoekom dit belangrik is dat boere weet hoe om hierdie twee konsepte tot hulle voordeel te gebruik. Die genootskap se finansies is deur Dries Pienaar bespreek, waarna nuwe raadslede verkies is.

Die nuwe raad vir 2026 bestaan uit Koenas van der Westhuizen (president), John Morris (vise-president), Vaughan Collier (bestuurder), dr Buks Olivier (tegniese komitee), Annelize Bertalan (administrasie), Wikus Bekker, Richard Armstrong, Dries Pienaar, Marcellene van Rooyen, Jurie Wessels, Andries Marx en Steyn Steenekamp.

Toppresteerders vereer

Die middag na afloop van die AJV het lede vir die toekennings en prysuitdeling vergader. Louwrens Conradie het die spesiale veiling gefasiliteer, waartydens verskeie wynbottels opgeveil is. Daarna is Philippie Marais as die Dohne man van die jaar vir 2025 aangewys. Hy was van 2022 tot 2024 die president van die genootskap en is ‘n lid van die Lowmar Dohne Merino-stoet.

Die streekswenners van die genootskap se Bobaastelerkompetisie is ook tydens die geleentheid aangekondig. Hierdie kompetisie oorweeg verskeie aspekte. Eerstens word in diepte gekyk na noukeurige stoetadministrasie, insluitend die presiese en wetenskaplike aanteken van produksiedata, evaluerings asook prestasietoetsing. Die streekswenners se stoetgroottes wissel van 183 tot 1 331 diere.

Elke teler se prestasie in terme van betrokkenheid by die genootskap se werksaamhede word ook in ag geneem, byvoorbeeld deelname aan die nasionale veiling, promosies, die aanbied van inligtingsdae en produksieveilings. Die uiteindelike 2026 Nasionale Dohne Merino-bobaasteler sal tydens die Wêreld Dohne Merino-konferensie se galageleentheid op 21 Oktober bekendgemaak word.

Van links is Koenas van der Westhuizen, president, Johannes van Rooyen, Zoetis, Hettie Marais, Philippie Marais en Vaughan Collier, bestuurder van die rasgenootskap.

Streek 1 (Oos-Kaap) se wenners is Gideon en Gawie van Zyl. Hulle boer in die Barkly-Oos-gebied en besit GWG Dohnes. Hulle kommersiële Dohne Merino-kudde is deur middel van opgradering opgeteel na ‘n Dohne Merino-stoet wat in 2011 geregistreer is. Hulle het AA-ramme gebruik uit veral die Hencil Dohne- asook White Wools-stoeterye gebruik. Barkly-Oos het strawwe winters en hierdie uitdagende omgewing help hulle om net die gehardste diere te selekteer.

Streek 2 (Karoo en Noordoos-Kaap) se wenners is Henry en Stephan du Plessis van Kouga Dohnes. Hulle boer in die Kareedouw-omgewing en het hulle stoet in 2006 by die genootskap geregistreer. Hulle was nie nie tydens die toekenningsgeleentheid teenwoordig nie. Kouga Dohnes dateer eintlik uit die 1990’s, toe hulle ramme uit Lighuis Dohnes en F2- en F3-ooie uit Helio- en Saragossa Dohnes gebruik het.

Streek 3 (Overberg) se wenners is Vlooi en Dirk du Toit van Potberg Dohnes. Hulle is geleë in die Bredasdorp-gebied en spog met ‘n Dohne Merino-stoet wat in 2000 gestig is. Hulle eerste stoetooie kom uit die Suidplaas- en Lowmar-stoeterye. In 2002 het hulle die Dirko Dohne Merino-stoet gekoop, wat die fondasie van hulle stoet geword het.

Van links is Koenas van der Westhuizen, president, Clark Rattray, Wikus Bekker, John Morris, Dirk du Toit, Gawie van Zyl, Arno Ferreira, Molatek, Corné Nel, BKB en Vaughan Collier, genootskapbestuurder.

Streek 4 (Wes-Kaap en Wes-Karoo) se wenner is Terra Vino Dohnes van die Mariendahl eksperimentele plaas by Stellenbosch Universiteit. Die stoet het onder leiding van John Morris gegroei tot een van die mees prominente Dohne Merino-stoeterye in die Wes-Kaap. In 2024 het Terra Vino Dohnes hul 50ste herdenking gevier, waartydens hulde gebring is aan verskeie telers wat in 1974 ooie geskenk het vir opleidings- en navorsingsdoeleindes.

Streek 5 (Vrystaat) se wenner is Wikus Bekker van All-In-One Crux Dohnes in die Edenburg-distrik. Hierdie stoet dateer uit die sewentigerjare toe oom Dons Bekker Dohne Merino-ramme op sy kommersiële kudde begin gebruik het. Hy het sodoende ‘n groot kommersiële kudde opgebou waarvan die All-In-One Crux Dohne Merino-stoet in 2006 geregistreer is.

Streek 6 (Noord-Vrystaat en KwaZulu-Natal) se wenners is Clark en Hayden Rattray van Pleasant View Dohnes in die Swartberg-gebied. Clark Rattray het in 1994 ’n paar ooie uit sy pa, Craig Rattray, se bekende Milburne Dohne-stoet geselekteer. Dekades se seleksie teen vrotpootjie en haarwurm het vrugte afgewerp, en daarom oorleef en floreer dié skape in die hoë-reënval en suurveldgebied van Swartberg. – Timon Dedekind en Carli Jacobs, Plaas Media

Van die inligting in hierdie berig is verkry uit die Dohne Merino-joernaal. Klik hier vir toegang tot die joernaal.

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer prices

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...