Monday, March 10, 2025
HomeMagazinesDie doel en beginsels van goeie wolklassering

Die doel en beginsels van goeie wolklassering

Estimated reading time: 6 minutes

  • Die waarde van goeie wolklassering en die groot rol wat dit in ’n wolprodusent se boerdery speel, moet nooit onderskat word nie.
  • Die beginsels van wolklassering berus op die fisiese eienskappe van wol, asook die verwagte verwerkingsgedrag van die wol.
  • Wolklassers word amptelik gedurende die vyfdag Springbokkop-wolkursus deur geakkrediteerde Springbokkop-instrukteurs opgelei.
  • Met die klassering van vagwol word ses fisiese woleienskappe in ag geneem.
  • Die hoofdoel van klassering moet uiteindelik wees om vagklasse so groot as moontlik te maak.

Die waarde van goeie wolklassering en die groot rol wat dit in ‘n wolprodusent se boerdery speel, moet nooit onderskat word nie. Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) beskryf ’n goeie wolklasser as iemand wat sy of haar kennis en goeie oordeel gebruik om wol in die korrekte klasse te verdeel, sodat die skeersel die maksimum prys kan behaal sonder onnodige verpakkings- en bemarkingskoste.

Veeplaas het by Annelize Smit van Niekerk, ’n NWKV-adviseur in Mpumalanga, en Jan Louis Venter, ’n NWKV-adviseur in die Vrystaat, aangeklop om te gesels oor wolklasseringsopleiding en die primêre beginsels wat tydens die proses geld.

’n Belangrike faset van goeie wolklasstandaarde is goeie bestuursbeginsels. Die skeersel moet so egalig as moontlik geklas word, sodat die wolkopers bereid sal wees om toppryse daarvoor te betaal. Die beginsels van wolklassering berus op die fisiese eienskappe van wol, asook die verwagte verwerkingsgedrag van die wol.

Wolklasstandaarde

Wolklassers word amptelik gedurende die vyfdag Springbokkop-wolkursus deur geakkrediteerde Springbokkop-instrukteurs opgelei op grond van die NWKV se wolklasstandaard-handleiding. Die handleiding is geskoei op Cape Wools SA se Praktyk vir Skeerselvoorbereiding. Tydens die kursus word streng gefokus op die praktiese aspekte van wolklas en elke persoon wat die kursus bywoon, werk met ’n minimum van drie Merino-vagte.

Tydens die wolkursus word wolmonsters vir elke praktiese oefening en eksamen uitgepak. Die monsters moet deur die deelnemers geïdentifiseer word deur ’n beskrywing daarvan te gee en die NWKV-tipe te identifiseer. ’n Voorbeeld is stowwerige en verweerde wol was as ‘BKS’ geklassifiseer word.

Na afloop van elke praktiese oefening volg ’n praktiese eksamen en dan ’n teoretiese toets wat skriftelik of mondelings afgelê kan word. Die persone wat die kursus doen, word deurgaans deur die instrukteurs geëvalueer. Dit is nie ’n gegewe dat ’n deelnemer slegs na een kursus as ’n Springbokkop-wolklasser sal kwalifiseer nie en die kursus moet geslaag word om die kwalifikasie te verwerf.

ydens die kursus word voorbeelde van alle tipes wol ter illustrasie en vir identifiseringsdoeleindes uitgepak. Die insetsel is ’n voorbeeld van ’n wolmonster wat vir ’n praktiese sessie uitgepak is. Die deelnemers moet dit tydens ‘n eksamen identifiseer.

Wolwerk en stukkiesklas

Die kursus begin by ‘wolwerk’, wat insluit:

  • Optel en oopgooi van vagte.
  • Afranding van vagte.
  • Identifisering van uitskotvagte.
  • Verwydering van vagstukke en rugwol, insluitend nek- en broekwol.

Die lyne (klasse) wat gewoonlik van ’n skaap afgeskeer word, is loks, penswol en afrandsels, vagstukke, rugwol en vagwol.

In hierdie afdeling word heelwat klem gelê op wolbesoedeling, en die identifisering en voorkoming daarvan. Nadat die vag op die tafel in aparte stukke opgedeel en volgens die verskillende lyne geklas is, volg die ‘stukkiesklas’. Hier word gefokus op die onderlyne wat afkomstig is van die afranding van die vag, asook die klas van penswolle. Hierdie lyne word in Tabel 1 uiteengesit.

Tabel 1: Onderlyne afkomstig van die afranding van die vag en penswol.

Loks 1Lang sweetwol, lang gekoekte borswol, lang kuif- en wangwol, en enige stukkie en penswol wat te swak is vir ’n BP-klas.Langer as 25mm
Loks 2Pootjieswol, kort kuif- en wangwol, dubbelknipsels, kort sweetstukke en veegsels.Korter as 25mm
Loks 3Urine-, mis- en bloedbevlekte wol, en swaar sweetstukke. 
CBPLang en ligter, aantreklike penswol en stukkies.Langer as 50mm
BPKorter, ligte, aantreklike penswol en stukkies in die geval van agt-maande skeersels.Korter as 50mm
CBSlegs ligte en aantreklike penswol.Langer as 50mm

Dit is belangrik dat elk van die stukkies wol wat in Tabel 1 uiteengesit is, korrek geïdentifiseer word sodat dit volgens die regte lyne geklas word. Die deelnemers moet ook bewus wees van die hoeveelheid wol waarmee hulle werk om te voorkom dat sekere lyne onnodig uitgeklas word.

Die volgende kursusafdeling behels klassering. Hier word die wolmonsters geïdentifiseer en getipeer, vagte word beoordeel, groot en klein skeersels word volgens klas geïnspekteer en, baie belangrik, die lotte word binne ’n skeersel gegroepeer.

Deelnemers in ’n Springbokkop-wolkursus vir wolklassers by die Glen-landboukollege, besig met ’n stukkiesklas.

Wol se fisiese eienskappe

Met die klassering van vagwol word ses fisiese woleienskappe in ag geneem. Elkeen van hierdie eienskappe speel ’n rol in die vasstelling van die wol se prys. Al ses eienskappe moet in kombinasie beskou word, want elkeen vul die ander aan.

Die fisiese eienskappe van woleienskappe en hul beoordeling behels:

  • Treksterkte word subjektief in die skeerskuur bepaal. Dit word omskryf as die weerstand wat individuele wolvesels in die wolstapel teen spanning, wrywing en slytasie bied.
  • Egaligheid van lengte is baie belangrik tydens die wolverwerkingsproses. Die verskil in stapellengtes van vagwol in dieselfde klas mag nie meer as 20 tot 25mm wees nie.
  • Fynheid behels die vasstelling van die aantal kartels per 25mm stapellengte (kartelgrootte). Hoe hoër die kartelfrekwensie, hoe dunner die stapel, hoe sagter die aanvoeling, hoe hoër die gehalte, en hoe fyner die vesels.
  • Gehalte behels reëlmatige en duidelike karteling, sagte en vol hantering, en vry van hare en growwe kempagtige of gekleurde vesels.
  • Kondisie word omskryf op grond van die mate van aanwesigheid van enige materiaal anders as skoon wolvesel. Dit behels die teenwoordigheid van wololie en -sweet, sand en stof, plantmateriaal en vog.
  • Voorkoms word beoordeel op grond van die kleur van die wol, stapelformasie en die hoeveelheid tip in verhouding tot die lengte van die stapel.

Ouderdom en ras

Skape se ouderdom speel ’n belangrike rol in klassering en voornemende klassers leer onder meer om te onderskei tussen lammerwol (lammers jonger as agt maande) en wissellamwol (lammers tussen agt en 12 maande wat die eerste keer geskeer word). Hierdie tipe wol word altyd apart geklas, omdat die struktuur van lammerwolvesels verskil van groot skape s’n, en ook omdat dit ’n spesialiteitwol is wat altyd fyner sal wees as die gemiddeld van die skeersel. Hierdie wol word dus apart geklas en gemerk.

Witwol- en kruiswolrasse word op dieselfde manier geklas, maar verskillend gemerk. Albei tipes skape, asook rasse met growwe wit en gekleurde vesel, se wol word altyd apart geskeer en verpak.

Die hoofdoel van klassering moet uiteindelik wees om vagklasse so groot as moontlik te maak. Voornemende wolklassers leer dus om vagwolklasse binne die reëls en klasstandaarde te groepeer, sodat dit ekonomies sin maak wat betref die gemiddelde prys per kilogram van ‘n betrokke skeersel.

Daar is verskeie redes waarom klassers die fisiese eienskappe van wol moet ken en toepas. Die mees voor die hand liggende rede is dat die fisiese eienskappe van wol bepaal in watter klas dit ingedeel sal word. Behalwe dat produsente ’n goeie prys vir hul wol wil verdien, is konsekwente klassering vir wolkopers en -verwerkers belangrik, aangesien die verwerkingsgedrag van die wol dan akkuraat bepaal kan word.

Die Suid-Afrikaanse skeersel is bekend daarvoor dat dit goed-geklas is. Hierdie reputasie kan net in stand gehou word indien klassers gereeld opleiding ontvang of hul vaardighede opskerp en uitbou. – Carin Venter (Foto’s: Annelize Smit van Niekerk), Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Annelize Smit van Niekerk by 082 928 3592 of annelize@nwga.co.za, of Jan Louis Venter by 083 650 1131 of janlouis@nwga.co.za.

Must Read

LandbouRadio: 6 Maart 2025

Hier is waarna jy kan uitsien in vandag se LandbouRadio: Die Oos-Vrystaatse aartappelwerkgroep vertel meer oor hul Groentoer-boeredag. Daar is ons weeklikse graanmarknuus. Ons gesels oor die...