Estimated reading time: 6 minutes
Die wyse waarop skape geskeer word, en hoe die skeersel hanteer en geklasseer word, bepaal tot ’n groot mate die inkomste wat ’n produsent uit ’n goeie wolskeersel genereer. Baie wolprodusente sal sê dat skeertyd op die plaas ’n genotvolle maar ook spanningsvolle tydperk is. Dit is omdat al die verskillende dele van ’n skaap se wol in hierdie tydperk gesorteer en korrek geklasseer moet word.
Goedgeklasseerde wol sal byvoorbeeld altyd in aanvraag wees by wolverwerkers wat daarmee wil spin. Die gehalte en tipering van wol is deel van die klasseringsproses. Veeplaas het met Jan Louis Venter, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) se adviseur in die Vrystaat, en Landrie Zietsman, Pinnacle BKB-wolkoper en handelaar, gesels om ‘n paar los drade bymekaar te bring.
Fisiese eienskappe
Om die fisiese eienskappe van wol korrek te klas, moet vir ’n klasser wees soos om daardie eerste beker koffie soggens te maak sonder om te veel daaroor te dink. Omdat wol van verskillende gedeeltes van ’n skaap se lyf geskeer word, bestaan daar verskille.
Tydens wolklassering word op ses fisiese eienskappe gefokus:
Lengte: Die lengte van die wol word deur die skeerfrekwensie en voedingstoestande bepaal. Die mikpunt vir die lengte van geskeerde wol is gewoonlik minstens 70mm.
Treksterkte: ’n Verandering in voedingstoestande speel ’n groot rol in die treksterkte van wol. Indien skape se voeding drasties verander word, kan dit tot ’n swak skakel in die wolstapel en dus ’n laer treksterkte lei, wat veroorsaak dat die wol maklik breek tydens die verwerkingsproses. Die plek waar die wol in die stapel breek, is ook van belang. Indien wol op die tip of wortel breek, sal dit nie so ’n merkbare invloed op die verwerkingsproses hê as wanneer daar ’n breuk in die middel van die stapel is nie. Laasgenoemde sal veroorsaak dat die verwerker met twee nuttelose kort stukkies wol sit.
Gehalte: Die duidelikheid en reëlmatigheid van die wolkartels, die sagtheid van aanvoeling (dowwe wol voel hard), en die suiwerheid van die wol bepaal die gehalte daarvan. Suiwerheid van wol beteken dat geen ander vesels in die wol teenwoordig is nie.
Veseldeursnee (mikron): Dit is een van die belangrikste prysbepalende faktore. Die mikron as sulks is nie die enigste aspek van mikron wat belangrik is nie; die standaardafwyking (SD) is ook van belang. Hoe groter die SD is, hoe meer wissel die vesels in veseldeursnee, wat daartoe lei dat wol se kartel dof raak.
Skoonopbrengs: Die hoeveelheid ander materiaal wat in die wol voorkom bepaal die skoonopbrengs daarvan. Besoedeling met onder andere stof, sand, wololie en plantmateriaal speel ’n rol in die skoonopbrengs van wol. Die tipe plantmateriaal in die wol speel ook ’n belangrike rol. Stokkies en grashalms sal byvoorbeeld maklik uitkam terwyl rolletjies klawer, boetebos en kankerroos die vesels breek tydens die verwyderingsproses. Wol soos hierdie sal merkbaar laer pryse haal as wol wat nie met klawer, boetebos en kankerroos besoedel is nie.
Voorkoms: Die kleur van die wol, die stapelformasie en verwering van die tip van wol bepaal die voorkoms daarvan. Wit tot lig-roomkleurige wol geniet gewoonlik voorkeur. Donker-roomkleurige, geel en bruin wol is ’n aanduiding van die verkeerde wololie, wat sal veroorsaak dat die wol nie heeltemal wit sal wees na die wasproses nie. Wol wat permanent verkleur is kan ook net in donkerder skakerings as die wol self gekleur word, wat dus die gebruik daarvan sal beperk.

Verskillende hooftipes wol
- Vagwoltipes bestaan uit die vagwol (nuwe wol), rugwol, nekwol en broeke. Vagwol word met ’n lengte- en fynheidsimbool, soos AM, aangedui terwyl rugwol BKS gemerk word. Baie swak rugwol en kraaineswol kan apart gehou word en word as BKS2 gemerk. Nekwol en broekwol kan saam geklasseer word in ’n vagstuklyn wat met ’n lengtesimbool gemerk word. Nekke en broeke kan ook apart verpak word as daar genoeg wol is en dan sal die nekwol met ’n lengtesimbool as byvoorbeeld ANKS gemerk word.
- Penswoltipes bestaan uit penswol en afrandsels. Beide word volgens lengte en voorkoms van mekaar geskei. Wol wat langer as 60mm en aantreklik is, sal CBP gemerk word. Wol wat korter as 60mm is, sal BP gemerk word. Indien dit ’n kort skeersel is, sal die BP-lyn baie aantreklik wees en word die minder aantreklike stukke as BP2 geklas.
- Lokswol word in hoofsaaklik in vier klasse verdeel, naamlik LOX, LOX1, LOX2 LOX3. Lang kuifwol word in die LOX-lyn verpak. LOX1-wol is langer as 25mm, LOX2-wol is 25mm en korter, en LOX3 bestaan uit mis-, urien- en bloedbevlekte wol.

Kopers- en verwerkersvoorkeure
Wat wolkopers betref, is die heel belangrikste eienskap van wol die voorkoms daarvan. Sodra wolkopers ’n wolmonster sien, kan hulle feitlik dadelik ’n afleiding maak ten opsigte van die waarde daarvan. Die skoonopbrengs, kleur, asook die duidelike en reëlmatige karteling van die wol in die stapel, bepaal die styl van die wol. Daarna word die toetsresultate gebruik om die wolverwerkingsgedrag te voorspel.
Gehalte: Die kopers sal onmiddellik enige wol wat met ander vesels besmet is, se waarde verlaag. Daarom moet die wol vry wees van enige vreemde vesels wat ’n hele skeersel kan besoedel. Die voorkoms van vreemde vesels in die wol sal summier lei tot ’n eis teen die kopershuis deur die verwerker, wat dus tot ’n finansiële verlies sal lei. So ’n situasie vertroebel die vertroue tussen ’n wolkoper en verwerker, en kan daartoe lei dat ’n wolkoper ’n betroubare kliënt verloor. Die kopershuis sal in die vervolg die betrokke produsent se skeersels noukeurig dophou vir besoedeling, wat by die prys ingereken sal word.
Tipering: Die onderskeie kopershuise maak van verskillende standaarde gebruik om wol te waardeer. Die algemeenste standaard is geskoei op die AWEX-ID-tiperingstelsel. Dit is regoor die wêreld die taal wat al die wolhandelaars en verwerkers in die wolverwerkingsketting verstaan.
Mikron: Mikron speel ook ’n groot rol in die prysbepaling van wol. Hoe laer (fyner) die mikron, hoe sagter voel die wol, hoe duursamer is die produkte wat daaruit gemaak word, en hoe hoër is die prys vir die wol.
Plantmateriaal: Hoe minder plantmateriaal aanwesig is, hoe beter, omdat die uitvoerder skoonwol wil verkoop. Die tipe plantmateriaal kan ’n groot verskil in die prys maak.
Skoonopbrengs: Verwerkers wilslegs skoonwol koop. Hoe skoner die wol, hoe makliker sal die was- en kamproses wees. Hoe meer stof en plantmateriaal in die wol is, hoe groter is die kans dat dit deur ’n ekstra was- en/of kamproses moet gaan om daarvan ontslae te raak. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Jan Louis Venter by 083 650 1131 of janlouis@nwga.co.za, of Landrie Zietsman by 084 929 6206 of landrie.zietsman@bkb.co.za.






