Wednesday, September 18, 2024

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en speel tans ’n deurslaggewende rol in die ekonomiese vooruitgang van Suid-Afrika, veral in die landbousektor.
  • Die Sybokhaarbemagtigingstrust se hoofdoelwit is om vaardigheidsontwikkeling, ondersteuning, mentorskap en bystand aan voorheen-benadeelde en opkomende boere te verskaf.
  • Die trust, in vennootskap met African Enterprise Network, ’n geakkrediteerde opleidingsakademie, bied omvattende opleidingsessies vir die bemagtiging van boere aan.
  • Die Sybokhaarbemagtigingstrust se benadering tot die bevordering van ekonomiese vooruitgang deur inklusiwiteit en diversiteit word ondersteun deur die beginsel van inklusiewe opleidingsprogramme.
  • Die trust se kernfokus van opheffing en ondersteuning van opkomende veeprodusente is nie beperk tot die produsente alleen nie, maar sluit ook gesinne, plaaswerkers en omliggende gemeenskappe in.

Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en speel tans ’n deurslaggewende rol in die ekonomiese vooruitgang van Suid-Afrika, veral in die landbousektor. Die trust bevorder inklusiwiteit en diversiteit met die doel om voorheen-benadeelde gemeenskappe op te hef en volhoubare ekonomiese geleenthede te skep.

Die trust se doelwitte

Die Sybokhaarbemagtigingstrust se hoofdoelwit is om vaardigheidsontwikkeling, ondersteuning, mentorskap en bystand aan voorheen-benadeelde en opkomende boere te verskaf. Dit strook met die doelwitte wat in die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging, 2003 (Wet 53 van 2003) uiteengesit word. Die trust fokus op die vestiging van finansieel lewensvatbare Angorabok-boerderybedrywighede, die bevordering van swart ekonomiese bemagtiging en ‘n verhoogde hoë-gehalte bokhaaraanbod.

Beauty Mokgwamme is aan die stuur van die Sybokhaarbemagtigingstrust.
Beauty Mokgwamme is aan die stuur van die Sybokhaarbemagtigingstrust.

Lees meer oor die onlangse Sybokhaar Suid-Afrika kongres hier.

Die trust, in vennootskap met African Enterprise Network, ’n geakkrediteerde opleidingsakademie, bied omvattende opleidingsessies vir die bemagtiging van boere aan. Hierdie sessies is ontwerp om produsente met die nodige vaardighede en kennis ten opsigte van sybokhaarproduksie toe te rus.

Die opleiding dek ’n wye reeks onderwerpe, waaronder:

  • Die Verantwoordelike Sybokhaarstandaard (RMS): Die standaard verseker dat produsente etiese en volhoubare sybokhaarproduksiepraktyke nakom.
  • Leierskap: Die ontwikkeling van leierskapsvaardighede onder produsente met die oog op die doeltreffende bestuur van boerderybedrywighede.
  • Maatskaplike aangeleenthede en geregtigheid: Dieaanspreek van maatskaplike kwessies en die bevordering van geregtigheid binne die boerderygemeenskap.
  • Persoonlike finansiële geletterdheid: Die bestuur van produsente se eie finansies en die neem van ingeligte finansiële besluite.
  • Dierehantering: Beste praktyke vir die menslike en doeltreffende hantering van Angorabokke.
  • Sybokhaarklassifikasie: Opleiding in die klassifikasie en gradering van sybokhaar sodat dit aan bedryfstandaarde sal voldoen.

Die opleidingsessies het reeds ’n groot impak op die betrokke produsente gehad. Hulle is in staat gestel om hul boerderypraktyke te verbeter, produktiwiteit te verhoog en hul finansiële stabiliteit te verbeter. Die opleiding het ook ’n gevoel van gemeenskaplikheid en samewerking onder produsente bevorder en is tot voordeel van die landbousektor.

Lees meer oor volhoubaarheid in die sybokhaarbedryf hier.

Toekomsplanne en lesse

Gegewe die sukses van hierdie opleidingsessies, het die Sybokhaarbemagtigingstrust nog opleiding vir November 2024 beplan. Hierdie sessies sal steeds op die genoemde sleutelareas fokus, maar die hoop is dat selfs meer boere bereik sal word en dat die positiewe impak van die trust se inisiatiewe verder sal uitkring.

Die Sybokhaarbemagtigingstrust se benadering tot die bevordering van ekonomiese vooruitgang deur inklusiwiteit en diversiteit word ondersteun deur die beginsel van inklusiewe opleidingsprogramme wat bestaan uit:

  • Pasmaak-opleiding wat spesifieke behoeftes teiken (soos finansiële geletterdheid, leierskap en tegniese vaardighede). Dit word ondersteun deur vennootskappe met geakkrediteerde opleidingsinstellings wat hoë-gehalte en erkende opleiding verseker.
  • Die opleiding fokus op volhoubare praktyke en etiese standaarde binne die bedryf. Dit verbeter nie net die gehalte van produkte nie, maar ook die bedryf se reputasie en word ondersteun deur sertifiseringsprogramme wat die nakoming van hierdie standaarde verseker (soos die RMS).
  • Die gemeenskaps- en sosiale impak van hierdie opleiding help om geregtigheid binne die bedryf te bevorder en sluit aspekte soos billike arbeidspraktyke, gemeenskapsbetrokkenheid en ondersteuning vir benadeelde groepe in.

Hierdie benadering bevoordeel nie net individue nie, maar versterk die hele bedryf.

Sandile Ngwane, junior beampte van die Sybokhaarbemagtigingstrust.
Sandile Ngwane, junior beampte van die Sybokhaarbemagtigingstrust.

Die brei-opleidingsprogram

Die trust se kernfokus van opheffing en ondersteuning van opkomende veeprodusente is nie beperk tot die produsente alleen nie, maar sluit ook gesinne, plaaswerkers en omliggende gemeenskappe in. Die trust ondersteun en is nou betrokke by projekte soos Ruth Pringle se Rural Knitting Project. Die projek se doelstellings is in lyn met die trust s’n.

As ’n opgeleide mode- en tekstielontwerper, het Pringle ’n geleentheid gesien om plaaslike inwoners te bemagtig deur saam met plaaslike vroue in die Bedford-distrik in die Oos-Kaap te werk. Sy werk as ‘n tekstielkonsultant op ’n wol- en sybokhaarplaas en bestuur ’n konsultasiemaatskappy genaamd The Shearing Shed.

Sy het meer as agt jaar se ondervinding in die uitvoer van Suid-Afrikaanse natuurlike vesel en het besonderse kennis en insig in die handbreimark, plaaslik en buitelands, veral die Verenigde State en Europa. Haar mikpunt is om brei-opleiding na ander landelike gemeenskappe in die Oos-Kaap uit te brei, sodat vroue op afgesonderde plase met min werksgeleenthede nuwe vaardighede sal aanleer en werk sal genereer.

Oos-Kaapse dorpe betrokke

In hierdie stadium is ses Oos-Kaapse dorpe en hul omliggende boerderygemeenskappe deur die trust geselekteer vir die brei-opleidingsprogram. Hierdie dorpe sal later die aflaai-/afhaalpunt vir werkgroepe word.

Die Pudo-sluitkasstelsel is geïdentifiseer as die goedkoopste metode om pakkies af te lewer en is beskikbaar in al die dorpe wat aan die projek deelneem. Die plan is om later nog plattelandse dorpe in te sluit. Die opleidingswerkswinkels behels die basiese breivaardighede wat nodig is om ’n voltooide kledingstuk te maak.

Die werkswinkels sal via die trust se kommunikasiekanale geadverteer word en sal vir alle belangstellende plaaswerkers beskikbaar wees. ’n Pendeldiens sal beskikbaar wees, en die opleidingsprogram sal sewe aflewerings behels en oor drie opeenvolgende dae plaasvind. Die dorpe wat tans deelneem is Adelaide, Bedford, Somerset-Oos, Cradock, Jansenville en Graaff-Reinet. – Beauty Mokgwamme, bemagtigingsbestuurder, Sybokhaar Suid-Afrika

Vir meer inligting en om betrokke te raak by die breiprojek of enige van die Sybokhaarbemagtigingstrust se ander projekte, kontak Beauty Mokgwamme by 041 581 1681 of epos info@mohairempower.co.za.

Voorbereiding vir ’n dissiplinêre verhoor

Estimated reading time: 4 minutes Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor...

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg...

Cover crop mixes: Composition and species for summer

Estimated reading time: 7 minutes Soil health is a key objective when designing a cover...

Prickly pears as a grazing crop

Estimated reading time: 8 minutes The first prickly pears arrived in South Africa shortly after...