Veeprodusente wat ernstig is oor die behaling van bepaalde produksiedoelwitte, sal weet dat partikellengte in die voerrantsoen direk aan dieregesondheid gekoppel is. Veeplaas het drie kenners op die gebied van veevoer genader om hul kennis oor die rol van partikellengte in die voerrantsoen met lesers te deel.

Die kort en die lank van herkou

Dr Ockert Einkamerer van die Fakulteit van Natuur- en Landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat, verwys eerstens na herkouers se voerbehoeftes.

“Vesel het sekere voedingsverwante en fisiologiese eienskappe wat herkouervoeding betref en dit is belangrik dat die gehalte daarvan die verteerbaarheid asook die kapasiteit om rumengesondheid te handhaaf, verteenwoordig. Die regte hoeveelheid en lengte onderhou dus rumengesondheid en melkvet deur voldoende herkou te stimuleer.”

Hy sĂȘ metaboliese steurnisse kan ontstaan indien rumengesondheid nie in stand gehou word nie. “Dit beteken dat hoewel daar dalk genoeg vesel in die dieet is, dit kan gebeur dat daar nie ’n minimum en genoegsame fisiese vorm in die voer is om herkou te stimuleer nie. Minder herkou vind dan plaas en die rumen-pH kan verlaag. Daarom benodig herkouers genoegsame growwe of lang ruvoer om doeltreffend te herkou. Die totale dieet moet ook gebalanseerd wees.”

Die invloed van partikellengte en ruvoergehalte op mikrobiese fermentasie en rumengesondheid wissel ook tussen veselbronne. Dr Einkamerer vergelyk die invloed wat hoë-gehalte ruvoer (primagraad lusern) op rumenfunksie het, met dié van laer gehalte ruvoer (koringstrooi/oesreste) met dieselfde partikellengte.

“Laasgenoemde stimuleer herkou meer doeltreffend as eersgenoemde, al word die lusern grof met ’n partikellengte van meer as 12,5mm aan herkouers gevoer. Hierdie tipe ruvoer is amper ‘te goed’ en word vinnig en meer doeltreffend in die rumen gefermenteer. Die rumen benodig die fisiese teenwoordigheid van langer of groter partikels, gewoonlik van laer gehalte ruvoer, om herkou voldoende te stimuleer.”

By beeste (4,5mm) en skape (1,8mm) sal geen partikel na die laer dermkanaal beweeg indien dit nie fyn genoeg is nie. Die rede, volgens dr Einkamerer, is dat enige partikel groter as 1mm ’n lae waarskynlikheid het om die rumen of retikulum van skape en bokke na die laer dermkanaal te verlaat. Dit kan wel negatief op inname en produksie inwerk; te veel growwe materiaal benadeel inname asook deurvloei deur die dermkanaal en ’n balans moet dus in stand gehou word.

Spesieverskille

Die invloed van ruvoergehalte en lengte op herkou word deur die onderskeie spesies bepaal. Bokke herkou meer gereeld en langer per kilogram neutraalbestande vesel (NBV) in vergelyking met skape. “Dit is ook opmerklik in die diere se mis,” sĂȘ dr Einkamerer.

“Hoe groter die dier of spesie, hoe groter kan die partikels in die mis wees. Mis-partikelgrootte word negatief en liniĂȘr gekorreleer met veselverteerbaarheid. Daar is ook aangetoon dat bokke minder geaffekteer word met betrekking tot inname, verteerbaarheid en deurvloeitempo deur partikellengte in die voer, in vergelyking met skape.”

Voedingkundige konsepte

Behalwe dat dit ’n strukturele komponent van die voer self is, is partikellengte onontbeerlik om produksiedoelwitte te behaal en algemene sowel as rumengesondheid vol te hou.

Na aanleiding hiervan verwys dr Brink van Zyl van die Fakulteit van Agriwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch daarna dat dit uiters belangrik is om optimale inname en vertering te bewerkstellig, wanneer ruvoerkaplengte vir herkouerspesies bereken word. Hy sĂȘ daar bestaan ongelukkig nog nie ’n standaard ruvoerkaplengte nie, omdat die verskillende spesies onderskeie behoeftes, produksiepeile en produksiedoelwitte het.

“Partikellengtes wat te lank is lei dikwels tot vermorsing. Hoogproduserende melkkoeie benodig byvoorbeeld heeltemal ander kaplengtes as voerkraalbeeste. Ruvoertipe beïnvloed verder ook die verlangde prosessering. Die partikellengte van lusernhooi teenoor koringstrooi sal dus verskil.”

Tabel 1: Voorstelling van die ideale kuilvoerkerflengtes vir verskillende herkouerspesies. (Bron: Agsci Unlimited)

Dr van Zyl waarsku dat enige mate van skeiding tussen kragvoer en ruvoer gewoonlik tot verlaagde produksie van al die diere sal lei. Die ruvoerkaplengte moet ook kort genoeg wees om enige mate van seleksie in totaal gemengde diëte te minimaliseer.

“Hoe langer die ruvoerstukke is, hoe meer sal diere kan uitsoek. Dit beteken die dominante diere sal meer kragvoer inneem, wat waarskynlik tot suurpens en verlaagde produksie sal lei. Bottervet by melkkoeie sal ook benadeel word. Daarteenoor sal die minder dominante diere in die groep die res van die mengsel inneem. Dit sal meer ruvoer bevat as beplan, wat beteken dat minder voedingstowwe ingeneem word en produksie kan afneem. Wisselende mis in dieselfde kamp is gewoonlik ’n duidelike teken van groepsortering.”

“Alle herkouers is oorspronklik geskape om ruvoer te benut, daarom moet alle herkouers ruvoer ontvang.” Op grond hiervan sĂȘ dr Van Zyl dat enige tekort aan vesel tot suurpens sal lei wat droĂ«materiaalinname, produksie en bottervet sal benadeel. Voerkraaldiere sal ook swakker presteer.

“Die maklikste manier om suurpens op die plaas te kontroleer, is om die mis te bestudeer. Hoe slapper die mis, hoe laer is die rumen pH en dus die risiko van tĂ© lae veseldoeltreffendheid. Hoe langer die vesel, hoe minder ruvoer word in die mengsel benodig aangesien die doeltreffende vesel verhoog en dus die tempo van rumenafbreking vertraag, wat dan die rumen-pH beter buffer.”

Gemiddelde retensietyd

Daar bestaan geen twyfel by Voermol se tegniese bestuurder, dr Josef van Wyngaard, dat ruvoerpartikellengte ’n baie belangrike rol in herkouervoeding speel nie.

“Hoe langer die partikellengte, hoe langer verkeer voer in ’n herkouer se grootpens om in kleiner dele deur, onder andere, die mikroörganismes afgebreek te word. Hierdie tydsverloop in die rumen staan as gemiddelde retensietyd, oftewel GRT, bekend.”

Met verwysing na intensiewe produksiestelsels soos die afrond van jong diere in ’n voerkraal, suiwelrantsoene of die laatdragtige- en laktasiefase van ooie in intensiewe skaapstelsels, sĂȘ hy dat dit voordelig is om die GRT so kort as moontlik te hou.

“Die doel is om maksimum inname van hoĂ«-gehalte voer te stimuleer, sonder om metaboliese steurnisse soos suurpens mee te bring. Om die GRT in die rumen so kort as moontlik te kry, moet die ruvoerbronne in die voerrantsoen korrek verwerk word deur dit te kerf of te maal.”

Gereelde meting is belangrik

Dr Van Wyngaard vind dat ’n sif van 16mm ideaal is vir die maal van hooi en strooi vir gebruik in beesvoerkraalrantsoene. Dit verseker die minimum voerverliese en beheer ongewenste seleksie en sortering van voer deur die diere. “Terselfdertyd dien hierdie kerflengte as ’n scratch factor vir die rumen, wat die herkoumeganisme stimuleer en sodoende speekselproduksie, wat as ’n natuurlike buffer dien, verhoog.”

Hy sĂȘ dat die fynheid van ruvoer in skaaprantsoene aansienlik fyner kan wees as diĂ© van beesvoerkraal- en suiwelrantsoene, terwyl lusernhooi oor die algemeen in skaaprantsoene gebruik word.

“Die ideale kerflengte van lusernhooi in skaaprantsoene is 10mm. Daar word gewoonlik hierna verwys as lusernmeel. Let wel, teen hierdie fynheid en indien lusernhooi die enigste veselkomponent in die rantsoen is, moet lusernhooi verkieslik 25% van lammers se groeirantsoen en 45% van ooie se produksierantsoen verteenwoordig om optimale produksie te verseker en die rumen gesond te hou.”

Melkkoeie is ook baie sensitief vir veselkerflengte. “Wanneer meer as 60% van die ruvoerfraksie se partikels fyner as 8mm is, kan dit bottervetinhoud in die melk benadeel en ook tot ’n ongesonde rumenomgewing lei. Indien meer as 15% van die ruvoerfraksie se partikels egter growwer as 20mm is, kan dit melkproduksie benadeel.”

Daarom is dit volgens dr Van Wyngaard baie belangrik om gereeld die verskillende ruvoerpartikelfraksies in suiwelrantsoene te meet. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Ockert Einkamerer by 051 401 2389 of EinkamererOB@ufs.ac.za, dr Brink van Zyl by 021 808 4746 of brinkvz@sun.ac.za, en dr Josef van Wyngaard by 082 336 0626 of josef.vanwyngaard@tongaat.com.