Estimated reading time: 4 minutes
- Waar ook al die boerdery geleë is, raak dit weer tyd om winterlek uit te sit.
- Ilanie Swanepoel, ‘n voedingkundige by Tau Voere, sê die doel van winterlek is om daardie voedingstowwe wat nie in die natuurlike weiding voorkom nie, aan die dier beskikbaar te stel.
- Die gehalte van die grondstowwe wat in die formulering van rantsoene gebruik word, speel ’n groot rol.
- Winterlek word oor die algemeen vanaf laatherfs of vroegwinter gevoer, afhangend van die omgewing.
- Lek is net ’n aanvulling vir die tekorte aan voedingstowwe sodat die dier optimaal presteer.
Die somermaande is haas op ’n einde. Sommige gebiede het goeie reën gehad en beesprodusente sien kans vir die wintermaande wat voorlê. Ander gebiede het oorstromings en vloede beleef, en dan is daar nog die Kalahari en groot dele van die Karoo wat bitter min reën gekry het – die veld is maar skraps vir die droë maande.
Waar ook al die boerdery geleë is, raak dit weer tyd om winterlek uit te sit. Winterweiding het gewoonlik ’n tekort aan een of meer voedingstof, soos proteïen, energie, minerale of sommige vitamiene. In die winter verlaag die proteïenvlak van weiding en moet die produsent ingryp om sy diere in goeie kondisie te hou.
Die doel van ’n winterlek
Ilanie Swanepoel, ‘n voedingkundige by Tau Voere, sê die doel van winterlek is om daardie voedingstowwe wat nie in die natuurlike weiding voorkom nie, aan die dier beskikbaar te stel. In die winter is proteïen die primêre voedingstoftekort op weidings.
In die droë wintermaande, sê sy, word die voedingstowwe van die weiding na die wortels en sade van die plante verplaas om die volgende seisoen se produksie te verseker, en dit is juis hier waar voedingstekorte by die diere begin ontstaan. Daarom kan die belangrikheid van goeie winterlek nooit onderskat word nie.
’n Paar beginsels staan sentraal in die bestuur van die winterlekprogram. Die belangrikste is om te bepaal watter tipe winteraanvulling nodig is om by die hoeveelheid beskikbare weiding te pas.
Aanpassing by lek
“Produsente wat self voer meng, sal gewoonlik die moeite doen om hul weiding te laat ontleed om dan die regte aanvullings te gee. Daar is ook diegene met ’n gemengde boerdery wat byvoorbeeld die beeste op mieliereste laat wei en die winterlek laat aanpas, omdat hulle reeds weet wat die voedingswaarde van die mieliereste is.”
Die diere se kondisie en die produksiefase waarin hulle verkeer, is ook ’n faktor. Diere se behoeftes sal wissel volgens die produksiefase waarin hulle verkeer. “Kondisie is die barometer wat vir die produsent aandui of die lek wat hulle vir die beeste gee genoeg is om hul kondisie te handhaaf. Indien die beeste nie hul kondisie behou nie, sal hulle oorskuif na ’n hoër-proteïen winterlek,” sê sy.
Formulering van winterlek
Daar is nie ’n vaste resep vir ’n goeie winterlek nie. Alles hang af van die tipe beskikbare weiding en die produksiefase waarin die diere verkeer. Die gehalte van die grondstowwe wat in die formulering van rantsoene gebruik word, speel ’n groot rol.
“By winterlek kyk ons altyd eerste na proteïen, omdat dit die primêre tekort in winterweiding is wat diere se produksie beperk. Verder kyk ons ook na mikro- en makrominerale, vitamiene en energie om vir die diere ’n gebalanseerde lek aan te bied om in al hul produksiebehoeftes te voldoen.”
Daar is ’n baie ingewikkelde wetenskap agter die formulering van ’n goeie winterlek en daarom is dit ook raadsaam om te sorg dat die dier nie te veel of te min daarvan inkry nie. Volgens Ilanie gee voermaatskappye ’n goeie aanduiding van wat die minimum- en maksimuminname per dier moet wees. Sy waarsku ook dat produsente nie hierdie voorstel ligtelik moet opneem nie.
Gee die regte hoeveelheid
“Te min aanvulling kan die beeskudde se produksie en gesondheid nadelig beïnvloed, terwyl te veel inname nie net onekonomies is nie, maar ook gevaarlik kan wees afhangend van die vlak van ureuminsluiting asook minerale soos selenium en koper. Beeste kan hul innames in ’n mate aanpas by hul liggaamsbehoeftes, maar dit bly belangrik om die innames te monitor en aan te pas op grond van die beeste se kondisie en spesifieke voedingsbehoeftes,” is haar raad.
Winterlek word oor die algemeen vanaf laatherfs of vroegwinter gevoer, afhangend van die omgewing, maar gewoonlik nadat die eerste goeie ryp verskyn het. Herkouers is uniek omdat hulle die vermoë het om ruvoer te benut. Daarom moet dit altyd eerste prioriteit wees om genoeg gehalte ruvoer beskikbaar te stel.
Lek is net ’n aanvulling vir die tekorte aan voedingstowwe sodat die dier optimaal presteer. As die produsent dus genoeg ruvoer tot sy beskikking het, hoef hy nie ekstra voer te gee nie en sal slegs ’n winterlek genoeg wees om die beeste se kondisie op onderhoudsvlak te hou. – Koos du Pisanie
Vir meer inligting, skakel Ilanie Swanepoel by 076 215 5957.